Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Genade is nooit ooit vanselfsprekend nie. Ons dink omdat ons die genade oor ander mense sien, dit kom ons ook toe. Pleit liewer om genade vir jou skuld, dan sal jy opregte dankbaarheid daarvoor hê.
DIE BYBEL (15)
Dr JP Botha
DOKTERS EN MEDISYNE
Wat het die mense destyds gedoen as hulle siek geword het?
Daar was die gewone siektes
Woestynmense het tipiese siektes gehad. Hulle het dikwels dieetsiektes gekry soos ontwatering, maagkwale en beri-beri ( ‘n siekte weens tekort aan vitamin B). Dit is egter baie moeilik om altyd uit die Bybel af te lei watter siektes daar ter sprake was. Daarmee saam was blindheid algemeen vanweë die sand wat so kwaai gewaai het. Dit is ook te wagte dat baie ma’s en kinders tydens geboorte gesterf het. Vroedvroue was egter van die vroegste tye af algemeen.
Minder as die helfte van die kinders het volwasse ouderdom bereik.
Hoe het hulle oor siekte gedink?
Hulle het anders oor siekte gedink as ons deur siekte slegs met sonde te verbind. Die siekte het dus nie noodwendig ‘n biomediese rede gehad nie, maar ook ‘n godsdienstige rede. Daarom vra Jesus se dissipels in Johannes 9 vir Hom deur wie se sonde dit is dat die blinde man inderdaad blind was. Hulle het só geargumenteer: God is ‘n God van lewe. As jy siek word, verloor jy ‘n stukkie van jou “lewe”, met ander woorde, iets wat God vir jou gegee het. Dit kan nie God wees wat dit weggeneem het nie; dit moet sonde of die Bose wees. Daarom is siekte met betrokkenheid van die Bose verbind wat stukkies lewe van jou wegneem. Die rede waarom die Bose so aktief in jou lewe kan wees, is jou sonde.
Daar kom egter ‘n tweede belangrike dimensie by. Siektes was ook gesien in terme van jou verhouding met jou gemeenskap. As jy deur jou gemeenskap uitgeskuif word (en hulle is natuurlik bang vir die Bose wat die siekte in jou werk), is dit ook as ‘n vorm van siekte gesien. Daarom stuur Jesus dikwels die mense wat Hy gesond maak, terug na die priester (Matt 8:4) of na sy huis toe, want dit was ‘n besliste teken van genesing as jy weer deur jou groep opgeneem word.
As ons na die beskrywings in die Bybel kyk, lyk dit of daar verskillende “dokters” was: Dit lyk of daar gewone dokters was (nie-professionele genesers) en ook wonderwerkers (1 Kor 12: 28).
Doktersfooie
Dit kom voor of doktersfooie nog altyd ‘n probleem was. Die koning van Babilonië, Hammurabi moes al in 1750 vC doktersfooie vasstel. Ons lees onder andere van dokters in Jeremia 8:21-22 en Kolosense 4:14.
Uit die Joodse geskrifte lyk dit of hierdie “dokters” deur die gemeenskap hoog aangeslaan is. Rituele gekombineer met speserye en ander tipes medisyne, was standaardpraktyk in die behandeling van ‘n persoon. As Jesus dus spoeg en grond meng en dit op iemand se oë sit of Jesus raak hom aan (Mark 8:23), is dit ‘n rituele aksie waar daar van die krag van Jesus op die ander persoon oorgaan. Dit is dus merkwaardig dat Jesus so baie mense gesond maak deur net te praat. In Israel het hierdie persone as “dokters” opgetree, maar God is as die werklike Geneser gesien. (Eks 15:26). As Jesus dus genees, is dit ‘n illustrasie van sy nabyheid aan God.
In die Griekse wêreld is siektes ook aan die bonatuurlike verbind en die god Asklepios, die beskermgod van die “dokters”, het hulle geglo, was veral daarmee gemoeid om mense gesond te maak. ‘n Mens kon glo in die aand in sy tempel gaan slaap met die hoop dat jou siekte genees sal word.
Die Griek Hippokrates (middel vyfde tot middel vierde eeu vC) het egter op goeie waarneming staatgemaak. Hy het gesê dat ‘n mens goed moet kyk wat gebeur en volgens die ondervinding behandeling toepas. Hy het dus mediese behandeling van godsdienstige praktyke probeer skei, maar vir die gewone mense was die priesters en gode nog die belangrikste “genesers” .
Ons sien egter met die behandeling van die barmhartige Samaritaan dat hy die man wat deur die rowers verwond is met wyn en olie behandel. (Luk 10:34). Dit is goeie mediese praktyk om die wond te ontsmet en te behandel. Hulle het ook pynstillers geken, want Jesus word so’n pynstiller (wyn met kruie gemeng) aan die kruis aangebied. Die Epiptenare kon al tande stop (daar is mummies met goue stopsels) en Herodotus vertel dat daar al in 500 vC valstande deur die Fenisiërs gemaak is. Brille is deur Nero (middel eerste eeu nC) “ontdek” . Hy het waarskynlik met sy oë gesukkel, wat vir hom ‘n ramp was want hy was ‘n skrywer (onder andere van gedigte). Hy het eendag deur die bodem van ‘n Egiptiese glas gekyk en daar kon hy sien wat hy lees! Natuurlik is die ontdekking opgevolg sodat ‘n groot deel van die mense vandag twee glase voor hulle oë dra.
As ‘n mens verder na die Joodse wette kyk, is baie daarvan gemik op persoonlike higiëne. Dit het siektes voorkom. ‘n Mens moet dus aanvaar dat behandeling goeie algemene kennis en nugterheid met godsdienstige fasette gekombineer het. Daar is egter geen teken dat daar in die Ou-Testamentiese tyd operasies gedoen is nie. Daar is wel krukke gebruik as jy jou been gebreek het.
Jesus word nie as “dokter” geskets nie, hoewel Hy mense gesond maak. Sy genesings is egter eerder tekens van God se direkte krag wat deur Jesus werk. Op hierdie manier kan mense ook sien dat Hy van God af kom en inderdaad die Messias en Seun van God is.