Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Omdat misdaad deel van hul politieke mondering vorm, kan regerings wat deur geweld tot stand gekom het, slegs deur geweld in stand gehou word. Wetsgehoorsame burgers word dikwels slagoffers van mense met barbaarse neigings. Desondanks word daar van hulle verwag om die vreesaanjaende eer wat hulle te beurt geval het, gelate te aanvaar net omdat die seuns van Lucifer hulself geniet!
DIE BYBEL (39)
Lees reeks by DIE BYBEL
Dr JP Botha
Nogmaals ‘n verbond met Abraham
(Die geskiedenis van Abraham in Kanaän voortgesit)
Sowat 13 jaar na Ismael se geboorte verskyn die Here aan Abraham en verseker hom opnuut dat Hy ‘n verbond met hom wil sluit en dat Abram die vader van baie nasies sal wees. Ter bevestiging van hierdie belofte word Abram (“Verhewe vader”) nou Abraham, wat soos die Hebreeus vir “vader van baie” klink. Hierdie verbond wat die Here met Abraham sluit, sal ‘n blywende en ewige verbond wees. Die instelling van die besnydenis as die teken van die verbond hang ten nouste hiermee saam.
Hoewel Ismael ‘n talryke nageslag sal hê, verklaar God dat die bejaarde Sarah (onthou Sarai het na Sara verander) wel geboorte aan ‘n seun sou gee. Toe Abraham die nuus hoor, kon hy nie help om te lag nie omdat Sara reeds 90 was. Abraham se lag vind later weerklank in die naam van sy seun wanneer hy Isak (hy lag) genoem word.
Abraham se gasvryheid
In hierdie verhaal word vier maal kort na mekaar na Abraham as ‘n tentbewoner verwys. Gasvryheid was in antieke tye juis ‘n belangrike sosiale verpligting. Daarom word Abraham se gasvrye verwelkoming van drie onbekende besoekers in besonderhede beskryf. Hy draf hulle tegemoet al was dit op die warmste tyd van die dag en dring by hulle aan om nie by sy tent verby te gaan nie. Hulle stem in en Abraham laat ‘n omvangryke ete voorberei.
Tydens die ete merk een van die onbekende besoekers op dat Sara binne ‘n jaar aan ‘n seun geboorte sal skenk. Soos Abraham vroeër vind Sara ook die aankondiging van die geboorte van ‘n seun heel komies en lag daaroor.
Hoewel daar geen reaksie op Abraham se lag was nie, word Sara se lag as kleingelowig en negatief aanvaar. Nou word een van die vreemdelinge as die Here geïdentifiseer en Hy vra waarom Sara lag. Hy wil ook weet of daar iets is wat te buitengewoon is vir die Here om te doen. Sara ontken dat sy gelag het, maar die Here hou vol dat sy dit gedoen het.
Abraham tree in vir Sodom
Met die bedagsaamheid van ‘n goeie gasheer, vergesel Abraham sy gaste op ‘n gedeelte van hulle reis na Sodom. Spanning begin oplaai wanneer dit duidelik word dat die Here van plan is om die baie groot sondes wat Sodom begaan, stop te sit.
Terwyl die Here se twee medereisigers na Sodom wegdraai, bly die Here alleen by Abraham agter en hulle begin dan oor die lot van Sodom onderhandel. Abraham se onderhandelingstrategie bestaan uit die aanvaarding dat regverdiges nie vernietig mag word nie. Die vraag is egter hoeveel regverdiges is daar in Sodom nodig ten einde Sodom se voortbestaan te regverdig. So “kibbel” Abraham met die Here deur by 50 regverdiges te begin en uiteindelik by 10 regverdiges te eindig.
Lot word uit Sodom gered
Soos sy oom Abraham tree Lot in hierdie episode as gasvrye gasheer op.
In skrille teëstelling met Lot se gasvryheid, onderbreek die inwoners van Sodom Lot en sy gaste se maaltyd en dring aan op geslagsgemeenskap met die gaste. Lot is selfs bereid om sy eie twee dogters in die plek van sy gaste aan die brutale inwoners van Sodom te gee. Die gevaar vir Lot se dogters en gaste word uitgeskakel toe die gaste die inwoners laat blind word.
Die besoekers lig dan vir Lot in dat Sodom en sy inwoners vernietig gaan word. Lot en sy familie is besluiteloos en talm voor hulle die gedoemde stad verlaat. Hulle moet deur die twee mans aan die hand geneem word om Sodom betyds te verlaat.
Op vlug na die klein dorpie Soar word Lot-hulle beveel om nie terug te kyk na die vernietiging van Sodom met vuur en swael nie. Wanneer Lot se vrou dit wel doen, verander sy in ‘n soutpilaar.
Na die verdelging van Sodom vlug Lot en sy twee dogters en gaan woon in ‘n grot in die berge naby Soar. Lot is nog steeds besluiteloos en passief. Hy doen niks aan die feit dat sy dogters nie meer mans het om na hulle om te sien nie. Die dogters neem nou die reg in eie hande, maak hulle vader dronk en skenk na geslagsgemeenskap (bloedskande) geboorte aan twee seuns: Moab en Ben-Ammi,die voorvaders van die Moabiete en die Ammoniete.
Die vervulling van die belofte
Die gedeelte beskryf Isak se geboorte en Ismael se verdrywing. Hier rondom kom twee ontmoetings tussen Abaham en Abimelek voor. In die eerste ontmoeting is die belofte van ‘n nageslag voorop en in die tweede ontmoeting is die belofte van ‘n eie land die fokuspunt.
Die eerste verhaal vertel hoe Abraham ‘n leuen vir koning Abimelek vertel, naamlik dat Sara sy suster is. Onthou dat Sara nou ‘n vrou van 90 is. Hoekom vertel die skrywer die verhaal? Om spanning te laat opbou dat die Here se belofte aan die kinderlose verongeluk kan word deur ‘n derde party wat in Abraham se huwelik inmeng.
Abimelek wil met Sara trou. maar wag eers ‘n periode om seker te maak dat sy nie swanger is nie. In die loop van die maand raak Abimelek impotent.
Die Here gryp in deur Abimelek in ‘n droom te waarsku en aanvaar die koning se verskoning. Wanneer die koning vir Abraham konfronteer, is sy verskoning dat hy gedink het niemand in die plek het eerbied vir God nie.
Hierop volg die verhaal van Isak se geboorte. Uiteindelik realiseer die belofte wat Abraham ontvang het dat hy ‘n nageslag sal hê.
Dadelik word die spanningslyn voortgesit. Ismael is ook Abraham se seun en as eersgeborene is hy op ‘n dubbele erfdeel geregtig. Sara eis dat Hagar en Ismael weggejaag word, en Abraham gee aan haar eis toe. Die Here laat dit toe omdat Hy ‘n nageslag uit Ismael sal skep. Wanneer Hagar in die woestyn vir die dood sit en wag, praat Hy met haar en troos haar.
Die seun Ismael is nou tussen veertien en sewentien jaar oud. Die skrywer skep egter die indruk dat die seun baie jonger is. Wanneer ‘n eienaar ‘n slaaf weggestuur het, het hy die slaaf vrygelaat. Die slaaf het geen verpligting teenoor hom gehad nie.
(Vervolg: Isak se “offerande” )