Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe lank gaan ons swyg as ons Christelike norme aangeval en Eerstewêreld-standaarde afgetakel word? Moet ons swyg as ons verkrag, beroof en vermoor word; swyg as onbevoegdes ons kundiges se toekoms so belemmer dat hulle na die buiteland verhuis? Moet ons oor alles swyg omdat ons bang is om as rassehaters gebrandmerk te word? Nee, ons durf nie verder swyg nie! Al word dit lewensgevaarlik om die waarheid te praat, is dit noodsaaklik dat volksgenote dit moet hoor!
LEIDING VAN DIE HEILIGE GEES (12)
(Lees reeks by Leiding van die Heilige Gees)
J.A. Loubser
DIE EIESINNIGE SAUL
Een van die heerlike werklikhede waarvan die Bybel getuig, is dat God 'n God is wat die gelowiges lei. Selfs in die moeilikste omstandighede kan hulle op sy leiding reken. Die keersy van hierdie werklikheid is dat mense wel sal volg waar die Here lei. Indien hulle leiding van die Here ontvang en dit nie volg nie, staar ongeluk en verwoesting hulle in die gesig. Selfs van konings word stiptelike gehoorsaamheid aan die Woord van die Here gevra. Dít, sou die eerste koning van Israel, Saul, tot sy bittere spyt ontdek. Hieroor kan 'n mens meer lees in 1 Samuel 15: 1-18.
Saul was die eerste koning in die beloofde land. Watter geleentheid het hy nie gehad om die Here se seën te ervaar nie! Hy kry 'n duidelike opdrag van God, wat aan hom sê: "Jy sal die Amalekiete oorwin. Dan moet jy hulle almal met die banvloek tref."
Saul doen nie presies wat God eis nie. Hy maak eerder soos sy 'gesonde verstand' en sy manskappe sê.
Hy spaar die mooiste en die beste beeste, en hy spaar die koning Agag.
Dan doen Saul nog twee betekenisvolle dinge: Hy rig vir homself 'n monument op by Karmel. Daarna trek hy af na Gilgal, wat in daardie dae die godsdienstige sentrum van die volk was. Daar wil hy 'n offer bring en terselfdertyd sy koningskap laat herbevestig deur die volk, want dit was die plek waar hy die eerste keer as koning uitgeroep is.
Die presiese betekenis van wat Saul hier doen mag ons nie ontgaan nie. Hy is besig om die guns van die volk te soek en gebruik sy godsdiens daarvoor. Dat hy nie presies gedoen het wat God van hom verlang het nie, kon hom nie skeel nie.
Dit is onderweg van Karmel na Gilgal dat Samuel hom ontmoet. Die profeet het 'n nag lank gebid voordat hy dié reis aangedurf het. Hy kom met 'n besondere boodskap. As Saul hom uitgelate groet met "Mag die Here u seën. Ek het die opdrag van die Here uitgevoer!" vra Samuel net somber: "Wat vir 'n geblêr van kleinvee is daar dan in my ore?"
Dan volg daar 'n dramatiese gesprek. Saul sê hy het maar net gedoen wat die volk wou hê. Hulle wou beeste neem om vir die Here te offer. Samuel antwoord dat God liewer gehoorsaamheid wil hê as sulke offers.
Dan smeek Saul om vergifnis: "Kom saam met my sodat ek tot die Here kan bid." Maar Samuel draai om om weg te gaan. Saul gryp sy mantel en dit skeur.
"Toe sê Samuel vir hom: 'Die Here het die koningskap van Israel nou van jou afgeskeur en dit gegee aan jou naaste wat beter is as jy' " – 1 Sam 15:28.
Hier sien ons wat ongehoorsaamheid is. Dit is eiesinnigheid. Dit is om na mense te luister eerder as na God. Dit sluip binne-in die godsdiens in. Dit is daardie neiging by Christene om die leiding van die Here te volg maar om êrens langs die pad tog ook iets van hul eie wil in te bring. Voordat 'n mens leiding van die Here reg verstaan moet jy duidelik begryp dat God Hom nie laat manipuleer nie – Hy is die Pottebakker, ons is die klei.
Ook ons het die neiging om God te wil misbruik vir eie gewin, in ons persoonlike lewens, in die kerk en ook in die staat.
Eendag kom ek by iemand wat glasvesel bemark. Hy ken Jeusus baie goed, vertel hy. Die feit dat hy nie met die kerk van Christus meeleef nie hoef niemand te bekommer nie want sy saak is reg met die Here, Hy ken Jesus, Jesus is die beste verkoopsman, sê hy. Nou kan 'n mens vra: Wie se wil kom hier eerste, Jesus s'n of die verkoopsman s'n?
So dikwels hoor mens in die kerk die argument: "Die Bybel sê so en so, maar ons mense is nog nie gereed hiervoor en daarvoor nie." Wanneer dít die argument is, word dit duidelik dat dit nie meer die leiding van die Here is wat gesoek word nie maar die guns van mense.
Hierteenoor moet 'n gelowige duidelik standpunt inneem: In die kerk het ons geen volksregering nie. Dis 'n teokrasie, 'n Godsregering. Dis Godswil wat die deurslag moet gee, nie die wil van die volk nie. Mense begryp dit so moeilik. Die spreukwoord sê tereg: "Een saam met God is 'n meerderheid." – in hierdie geval was dit Samuel. In jou gemeente kan dieselfde dalk waar wees.
As koning Saul hom destyds skuldig gemaak het aan 'n eiewillige godsdiens, is dit ook nie verbasend dat daar vandag ook leiers is wat die Here voor hulle eie politieke karretjie probeer inspan nie. Een voorbeeld hiervan vind ons in die Westminister Abdy in Londen waar daar op die grafte van Britse gesneuweldes geskryf staan: "Died to the honour of God and the glory of the country." Ook hier moet mens vra: Wie se wil is die belangrikste, die wil van God of die wil van die volk? ...
God gee aan jou as gelowige dalk 'n leiersposisie in die samelewing soos aan Saul. Die vraag is, wat maak jy daarmee? Is daar nie dalk 'n gebulk van beeste en geblêr van skape wat die Here moet aanhoor as jy oppad is om te gaan offer nie?
Die aangekondigde straf oor Saul kink vir ons vandag bitter ongenadig. Vir sy sonde was daar geen vergifnis nie omdat hy in sy hart nie opreg was nie. Hy was immers onderweg tussen Karmel en Gilgal, tussen die monument wat hy vir homself gebou het en die plek waar hy godsdienstige sanksie vir sy optrede gaan soek het.
Die tweede vers van Ps 146 in die Gesangboek lui:
"Moet op prinse nie vertrou nie..."
So is dit ook. Menslike leiers sal altyd weer teleurstel. Omdat ons as Christene dit weet, plaas ons nie 'n te hoë premie op hulle nie. Ons dink ook nie te veel van onsself as ons in 'n leiersposisie beland nie. Uiteindelik is daar vir ons net een Koning:
Jesus wat beloof het om ons deur sy Gees te lei. Hy sit aan die regterhand van God waar Hy oor sy Kerk regeer deur sy Woord en sy Gees. Tot in die fynste besonderheid het Hy ons voorgegaan in dit wat God vereis. Leiding kom net van Hom, en slegs hulle wat Hom volg, is op weg na die Koninkryk.
Deur middel van Jesus kan ons vandag God se liefdeswil duideliker ken as koning Saul.
Destyds moes mense lang reise aanpak om die profeet Samuel te gaan raadpleeg.
Vir lang tydperke het God glad geen boodskap aan die mense van die Ou Testament gestuur nie.
Maar elke Nuwe Testamentiese gelowige het die Gees in sy hart ontvang om daarvolgens te lewe. Hy kan reken op die leiding van die Gees om in elke situasie presies te kan onderskei wat God van hom verwag.
Volg Hom noukeurig. Voeg geen plusse by nie. Soek saam met ander na die waarheid vir elke situasie. En as jy dit gevind het, voer dit vreesloos en kompromisloos uit.
En onthou om 'n wye draai om Karmel en om Gilgal te loop! God is 'n magtige koning. Wie Jesus volg, kom in sy koninkryk.