Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
God het ons in hierdie moeilike lewe geplaas, en daarom gee Hy ons 'n godsdiens wat sterk genoeg is hiervoor. Dit behels dat ons by Hom 'n skuilplek kry teen die ergste koue en die diepste donker, maar veral by Hom skuil in die tye van sonskyn en vreugde.
ENGELE MET ‘N SENDING (16)
Lees reeks by Engele met 'n sending
Ten slotte . . . van Charles en Frances Hunter . . .
Terwyl ons besig was om klaar te maak met die skrywe van die boek, het ons Eerwaarde Buck gekontak in verband met ’n paar klein veranderinkies in die finale eksemplaar en hy het ’n gedeelte van nog ’n besoek vertel wat plaasgevind het gedurende die vroeë oggendure op Sondag, 18 Maart 1979.
Gabriël, Chrioni, en ’n dienende engel met die naam van Cyprion, het na sy huis gekom met die boodskap van God dat een van die begeertes van sy hart was om sy mense die belangrikheid van lofprysing en aanbidding te leer.
Die engele het gesê: “Ons wil hê dat jy saam met ons sal aanbid.” Vyf en dertig minute lank het Gabriël, Chrioni, Cyprion en Eerwaarde Buck saam die Here geloof en geprys. Hy het gesê dat lofprysinge deur hom gevloei het soos ’n rivier wat hy nie self kon begin of beëindig nie!
Terwyl hulle almal die Here saam geprys en geloof het, het hy sy oë oopgemaak en iets gesien wat hy glad nie kon verstaan nie.
Chrioni was die grootste van die engele wat daar was daardie Sondagoggend, maar toe hy na hom kyk, was hy en Chrioni ewe lank!
Toe het hy na Gabriël gekyk! Hy was net so lank soos hulle!
En Cyprion was ook net so lank soos die res van hulle!
Hoe was dit moontlik? Eerwaarde Buck het afgekyk. Gabriël se voete was omtrent tien sentimeters van die grond af. Toe het hy na Cyprion se voete gekyk en hulle was omtrent vyf en veertig sentimeters van die vloer af. Toe het hy na sy eie voete gekyk en tot sy grootste verbasing was hulle ook omtrent vyf en veertig sentimeters van die grond af! Vir die eerste keer het hy besefdat sy liggaam in die lug opgegaan het!
Gabriël het hom ’n uiters interessante brokkie inligting verskaf by hierdie geleentheid. Hy het verduidelik dat almal, vanaf die hoogste tot die laagste engele tot by die mens wat God prys en Hom aanbid, almal op dieselfde vlak geplaas word. Hy het die nuus van God af gebring dat aanbidding die grootste gelyksteller is tussen die hemel en die aarde en hy het gesê wat gebeur het was ’n illustrasie van hierdie groot waarheid.
Sal enige van hierdie dinge ook met ons gebeur? Volgens die woorde van Gabriël sal dit gebeur as Jesus vir ons terugkom en volgens die Bybel is dit wat gaan gebeur:
“Ons wil hê, broers, dat julle nie onkundig moet wees oor wat met die ontslapenes gaan gebeur nie. Dan sal julle ook nie treur nie, soos die ander mense wat geen hoop het nie. Ons glo immers dat Jesus gesterwe, maar ook opgestaan het. Net so glo ons ook dat God saam met Jesus die ontslapenes wat in Hom geglo het, na Hom toe sal neem.
“Dit sê ons vir julle op grond van wat die Here gesê het: Ons wat bly lewe tot met die wederkoms van die Here, sal die ontslapenes hoegenaamd nie voor wees nie. Wanneer die bevel gegee word en die stem van die aartsengel en die basuin van God weerklink, sal die Here self uit die hemel neerdaal. Allereers sal dié wat in Christus gesterf het, uit die dood opstaan; daarna sal ons wat nog lewe, saam met hulle op die wolke weggevoer word, die lug in, die Here tegemoet. En so sal ons altyd by die Here wees, troos mekaar dan met dié woorde” (I Thess. 4:13—18 NV).
Met vrymoedigheid wat ons nog nooit in iemand anders gesien het nie, het Eerwaarde Buck algehele vryheid om te vertel wat besig is om in sy lewe te gebeur en hierdie boek het baie groot geestelike waarhede vir ons duidelik gemaak.
Ons voel dat hierdie die laaste sekondes is voordat Christene in die buitenste ruimtes van hulle ewige bestemming gelanseer word — DIE HEMEL VIR EWIG MET GOD EN CHRISTUS JESUS!
God het gesê dat Hy vlerke en lewe aan die boodskappe sou gee waarheen dit ookal gestuur sou word, maar ons het nooit kon droom wat die omvang van God se plan kon wees om families te red nie, al het ons harte vinniger geklop toe ons die hoofstuk oor Goeie Nuus vir u en u Familie geskryf het!
Terwyl die boek sy derde druk voor die einde van twee maande beleef het, het ons gewonder waarom God die sewe bladsye oopgelaat het aan die einde van die boek. Nou weet ons! Hy wou hê dat ons sommige van die dinge wat aan die begin van die vrystelling van die boek gebeur het, vir u moet vertel.
. . . ’n Ou dame van vier en tagtig het ses eksemplare van HET ENGELE NOG ’N OPDRAG! gekoop en het een aan elkeen van haar ongeredde kinders gegee. Nadat hulle die boek gelees het, het elkeen indiwidueel die Here Jesus as hulle Verlosser en Here aangeneem! Halleluja!
’n Leraar se dogter het Eerwaarde Buck gebel en haar verhaal vir hom vertel. Op die ouderdom van sestien het sy gerebelleer en ver van God af weggedwaal. Iemand het vir haar ’n eksemplaar van die boek HET ENGELE NOG ’N OPDRAG? gestuur en sy het dit gelees en al wat in haar ore weerklink het was: “God het jou lief, God het jou lief, God het jou lief!”
Dit het regtig haar hart geraak en sy het haar lewe weer aan die Here gegee en dadelik die vrou wat haar huis skoonmaak, na die Here gelei!
. . . ’n Man wat in die Poskantoor werk het van Spokane, Washington, gebel. Hy het die volblad-advertensie van die boek agter op ’n tydskrif gesien terwyl hy met die pos besig was en dit het hom so geïnteresseer dat hy uitgegaan en vir hom ’n eksemplaar gaan koop het. Sy twaalfjaaroue seun sou vir kanker geopereer word, en hy het die hele boek gelees voordat hy in die teater in is. Sy vader het gesê: “Ek het nog nie die kans gehad om die boek te lees nie, omdat hy dit nie wou neersit nie, maar hy het in die teater ingegaan — ’n veranderde seun!”
. . . ’n Vrou in Mississippi het gebel om te sê dat haar man en drie volwasse seuns ver van die Here af was toe hulle begin het om die boek HET ENGELE NOG ’N OPDRAG? te lees. Toe hulle die hoofstuk oor “Goeie Nuus vir u en u Familie” lees, het hulle almal hulle lewens weer aan die Here gegee en een van hulle voel dat die Here hom roep om evangelisasiewerk te doen.
. . . Ons was in Lorain, Ohio, en ek het die gemeente die eerste aand gevra om die name van hulle ongeredde geliefdes in die palms van hulle hande te skryf. Ons het gebid en vir die Here gevra om engele te stuur om hulle na die persoon te bring wat hulle na die Here toe kon lei en Hom gedank vir resultate nog voordat ons die dorp verlaat het.
Drie aande later het ’n negentigjarige ou man vorentoe gekom en doodluiters gesê: “Ek wil gered word!” Hy was die ateïsvader van een van die mans in die kerk wat die eerste aand sy vader se naam voor die Here gelê het! Halleluja!
... By ’n vrouebyeenkoms in Texas, het ons die dames gevra dat die van hulle wat ongeredde mans gehad het hulle hande moes oplig en die name van hulle mans in hulle hande moes skryf! Die volgende oggend het een van die mans wakker geword en gesê: “Skat, ek weet nie wat my makeer nie, MAAR EK MOET NOU GERED WORD!” Hy het Jesus as sy Here en Verlosser aangeneem. Hy het nie geweet wat hom makeer het nie, maar ons het en engele het hom die hele nag deur omring!
... By ’n byeenkoms in New York het ons almal wat ongeredde geliefdes gehad het gevra om hulle name in die palm van hulle hande te skryf sodat God engele kon stuur om hulle te trek of te stoot of enigiets te doen wat nodig is om hulle na iemand toe te bring wat hulle na die Here toe kon lei! Ek het spesifiek vir een vrou gebid wat gesê het dat haar man NOOIT na ’n kerkdiens sou kom nie. Ek het haar gewaarsku om nooit die krag van God te onderskat nie en dieselfde aand het haar man, tot haar groot verbasing, sy opwagting by die aanddiens gemaak. Hy het nie gebid om vergifnis nie, maar die Heilige Gees het vir my gesê om na die agterkant van die kerk te gaan, solank Charles vir die siekes gebid het, en ek het saam met die man daar aangekom. Ek het vir hom gesê dat die engele hom gebring het en vir hom gevra of hy nie daar en dan sy lewe aan die Here wou toewy nie en HY HET!
. . . Een van die wonderlikste dinge wat met ons persoonlik gebeur het was in Wyckoff, New Jersey. Ons het ’n namiddagbyeenkoms gehad en het gepraat oor die vergrote aktiwiteit onder engele in hierdie dae, toe ses of sewe mense na die area om die preekstoel begin wys en uitroep: “Kyk daardie ligstrale! Kyk daardie ligstrale reg agter julle! Hulle is net bokant julle!”
In ’n oogwenk was daar mense oral in die kerk wat op en af gespring en geroep het: “Ligstrale, ligstrale — kyk net daar!” Ons het verduidelik dat daar baie keer so ’n glans om engele was omdat hulle in die teenwoordigheid van God was en dat dit waarskynlik was wat hulle gesien het, maar om een of ander rede het nie een van ons omgekyk nie!
Later, toe ons in Boise was vir die toewyding van die boek, het Eerwaarde Buck gesê: “Sê my, het ek vir julle gesê dat Gabriël gesê het dat hulle by was by julle New York-byeenkomste? Hulle het nie verskyn soos hulle gewoonlik verskyn nie, maar as LIGSTRALE!” Prys die Here!