Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
ENGELE MET ‘N SENDING (6)
Lees reeks by Engele met 'n sending
Vervolg op die troonkamer
Een vir een het die 120 gebeurtenisse op die spesiale lys wat God vir my gegee het toe ek in die Troonkamer was, begin plaasvind in die presiese orde soos dit op die lys voorgekom het! God het gesê dat hierdie tekens vir my bakens op die pad sou wees as bevestiging van my besoek aan die Troonkamer!
Terwyl ek daar was, het God my in ’n visioen na my eie kantoor op die aarde geneem en my ’n dame laat sien wat by die okkulte betrokke was. Hy het nie vir my haar naam gesê nie, maar in ’n breuk-deeltjie van ’n sekonde het ek haar duidelik gesien en al die besonderhede van haar voorkoms waargeneem. In die visioen het God my beveel om die geeste te bind, hulle uit te werp en haar te bevry en dit is net wat ek gedoen het!
Die volgende Dinsdagaand het ’n vrou in my kantoor ingekom presies aangetrek soos die Here haar vir my gewys het en sy is volkome bevry net soos ek haar in die visioen in die hemel gesien het. Dit was item nommer een op my lys.
Terwyl ek in die hemel was, het die Here my ook laat sien dat ek preek op ’n plek waar die nood groot was. Ek het nie die gemeente as sulks gesien nie, maar ek het mense gesien met verskillende tipes geestelike en fisieke bande en die Here het hulle wonderlike nuwe lewe en oorwinning gegee. Die naam van die plek was Christian Life Centre, maar dit was beslis nie ons gemeente nie.
Op die daaropvolgende Maandag het ons ’n telefoonoproep ontvang van ’n leraar van ’n gemeente in ’n baie klein dorpie in Washington. God het dit op sy hart gelê om my te skakel en my te vra om in sy gemeente te kom preek. Hy het nie geweet waarom nie, maar hy het GEWEET dat hy my moes bel. Ons het na die datums op my kalender gekyk en my vrou het hom teruggeskakel om datums voor te stel. Toe hy die telefoon antwoord, was sy verbaas om die woorde ’’Christian Life Centre!” te hoor. Daar was dit. Net soos God dit vir my gewys het! Dit was item nommer twee.
Een van die redes waarom ek opgewonde hieroor raak is dat as God iets sê, ons nie op sy hakke hoef te bly om Hom aanhoudend daaraan te herinner nie. Met ander woorde ons hoef nie aan Hom te torring en vir Hom te sê: “Here, ek hou U in die oog om seker te maak dat U die dinge doen wat U gesê het U sal doen nie.” God moes my ’n hele paar keer herinner: “Hou jou besig met jou sake en Ek sal sorg dat Myne gedoen word.” Hy het my oor en oor hieraan herinner terwyl Hy hierdie selfde woorde gebruik het. As Hy nie doen wat Hy gesê het Hy sal doen nie, kan ek niks daaraan doen nie, maar ek weet Hy sal. Ek vertrou Hom en Hy het nog nooit gefaal nie. As Hy dit nie vandag doen nie, het Hy dit heelwaarskynlik op sy program vir more. Maar Hy sal dit doen! ’n Mens hoef nooit daaroor bekommerd te wees nie!
Item nommer vier op die lys het gehandel oor ’n man wat Christus op die 4e Februarie 1977 sou aanneem en wat op die 30e Mei in ’n vliegtuigongeluk sou sterf. God het hom op dieselfde dag gered as wat Hy gesê het Hy sou!
Hy was in ons dienste op die Vrydag voordat hy gesterf het. Ek het hom gevra om saam met my te kom eet omdat daar dinge was wat ek net met hom moes bespreek. Terwyl ons geëet het, het hy gesê: “Eerwaarde, ek het die eienaardigste gevoel dat ek gaan sterf. Kan u vir my alles van die hemel vertel wat u weet?”
Ek moes op my lip byt want ek het GEWEET wat sou gebeur, maar ek kon dit nie vir hom sê nie. God het gesê ek mag nie as gevolg van die impak wat dit op ander lewens kon hê! Ek het hom egter alles oor die hemel vertel wat ek geweet het!
Presies soos die Here meer as vier maande gelede gesê het, het die man op die 30e Mei, 1977, na sy hemelse tuiste verhuis toe hy in ’n vliegtuigongeluk dood is!
Nog ’n wonderlike gebeurtenis, nommer 34, was in verband met ’n jong man wat sy lewe aan Satan verkoop het as ’n Satanspriester. Die Here het vir my sy naam gegee en hom selfs vir my gewys. Op God se voorafbepaalde datum het hy in ons kerk ingekom en ek het hom herken en hom gegroet en vir hom gesê om na my kantoor toe te kom. God het hom gered en al die kwaad wat in hom was uitgewis en hom nuwe hoop en ’n nuwe oorwinning gegee!
Hier is ’n brief wat ek onlangs van hom ontvang het:
Terwyl ek my lewensverhaal aan u vertel het op 9 April 1977, het dit nie gelyk of u verbaas was oor enigiets wat ek gesê het nie. Dit was asof u alreeds geweet het! Ek het later agtergekom dat u wel alles geweet het, want my naam was op die lys wat u in die Troonkamer van die Almagtige God ontvang het. U het my verwag en dit was vir u geen verrassing dat ek Jesus as my Here en Verlosser aangeneem het nie.
My lewe was onseker. Ek het groot geword in ’n pastorie en het dikwels die Here aangeneem, maar op een of ander wyse het ek nooit volkome oorgegee nie. Ek het van plek tot plek getrek, deurmekaar, ongedissiplineerd met geen doel in die lewe nie en uiteindelik het ek in ’n spiritualistiese sentrum beland. Ek het ’n medium en ’n priester geword, ’n seance gelei en onderrig begin gee. Beheer deur demone het ek so laag gesink as wat ’n mens kan sink. Eerlikwaar “my huis is vir my woes gelaat” (Matt. 23:38).
Toe ek probeer het om weg te breek van hierdie soort lewe, is my huis verpes met rotte wat nie doodgemaak kon word nie! Ek het my huis verloor, my waardigheid en toe my familie. Ek het nêrens gehad waarheen ek kon gaan nie. Ek het my moeder en vader in Idaho gebel en gevind dat hulle my nog altyd liefhet. Ek het die spiritualistiese sentrum verlaat en na Idaho gegaan en soos die verlore seun is ek by die huis verwelkom! Binne ’n kort rukkie het die Here my familie aan my teruggegee en my vrou en ek het ’n reis na Hawaii onderneem. Daar het ons ’n paartjie van Boise ontmoet wat ons na u gemeente uitgenooi het. PRYS DIE HERE!
Ek het nou ’n wit vlag in my kantoor met die woorde: “EK HET OORGEGEE!”
get. Jim Olson
Item nommer 63 is nog een wat die Here my toegelaat het om IN BESONDERHEDE TE SIEN VOORDAT DIT GEBEUR HET. Dit was in verband met ’n paartjie wat ernstige huweliksprobleme gehad het. Toe ek in die hemel was het ek gesien dat hulle in my kantoor inkom en ek het die datum wanneer dit sou plaasvind op die papier opgemerk.
Toe die datum aanbreek, het die mense nie opgedaag nie. Ek het gewonder wat gebeur het en besluit om nog ’n rukkie langer in my kantoor te bly. ’n Kort rukkie na my normale sluitingstyd het die telefoon gelui en ’n persoon wat nie sy naam genoem het nie, het gesê: “Eerwaarde Buck, sal u nog ’n rukkie op kantoor wees?” “Ja,” het ek gesê.
Hy het nie gesê wie hy was nie.
Toe hulle by die deur kom het ek hulle OP HULLE NAAM gegroet. Dit het hulle geskud! Toe het ek gesê: “Waarom is u hier?” Hulle het verduidelik dat hulle verskriklike huweliksprobleme het en dat hulle besluit het om iewers heen te gaan om dit opgelos te probeer kry. Hulle weet nie waarom nie, maar hulle het besluit om na Boise, Idaho, te kom.
Ons het hierheen gery, ’n kamer in ’n motel gehuur en toe ons in die kamer kom het ons die telefoongids oopgesien lê by die plek waar u u advertensie het met die bewoording: ‘Maak ’n afspraak as u ’n probleem het!’
Onmiddellik het ek geweet dat een van daardie engele voor die tyd daar was om die telefoongids op die regte plek oop te maak en om by die ontvangstoonbank te reël dat hulle in die regte kamer geplaas moes word.
Terwyl ons gesels het, het die dame gesê:
Ons het ’n aangename tyd beleef terwyl ons hierheen gery het en ons probleme is alles opgelos. Ons kan nou maar weer gaan!
Ek het gesê: “Nee, ek dink u moet liewer hier bly want dit is nie so nie.” Ek het vir hulle vertel dat God my hierdie gebeurtenis maande gelede laat sien het. Ek het vir die vrou gesê: “U het ’n rewolwer in u handsak en u beplan om u man dood te skiet sodra u in die motel terugkom.”
Hy was regtig ontsteld: Jy sal my nie skiet nie! het hy uitgeroep. Haar hele liggaam het gebewe.
Ek het gesê: “Maak oop u handsak en gee vir my die rewolwer.”
Sy het haar handsak oopgemaak en die rewolwer aan my oorhandig presies soos ek voorheen sien gebeur het. Haar hele siel het uitgeroep na God! Sy het geweet daar was geen wyse waarop ek enigiets oor die rewolwer kon weet nie, tensy God dit vir my gesê het en Hy het my omtrent ses maande gelede voordat dit plaasgevind het, daarvan laat weet!
Toe het albei dadelik op hulle gesigte voor die Here neergeval. Hy het hulle sondes weggewas en oombliklik hulle huwelik herstel. Ek het een pragtige brief sedertdien van hulle gehad. Hulle is lidmate van ’n goeie kerk in California en gelukkig in die Here, besig om Hom te dien!
God het vir my gesê dat Hy nie alles wat sou gebeur, neergeskryf het nie. “Ek het net ’n paar dinge uitgelig sodat jy as ’n bevestiging kan sien dat ek besig is om te werk!” Daar was sonder twyfel talle ander gebeurtenisse tussen hierdie, maar Hy het my net ’n paar laat sien as bakens langs die pad. Mense het my gevra wat sou gebeur as al die 120 dinge gebeur het. Ek wil net sê dat al die toekomstige dinge vooruit beplan is, net soos hulle in die verlede beplan was, u weet net nie van hulle nie, maar u kan rus in die wete dat God alles beplan het!
’n Interessante item op die lys het gehandel oor ’n Jood aan wie ’n hele reeks restaurante behoort het. Deur ’n pragtige reeks gebeurtenisse het hy Jesus as sy Verlosser aangeneem. Die bewyse van sy ondervinding is gesien in sy begeerte dat honderde van sy werknemers oor die land dieselfde geleentheid moes hê. Hy het gesê: “Ek is seker God gee net soveel om vir hierdie werknemers van my as wat Hy vir my omgee.” Toe hy vir my sê wie hy was het my gees in my gespring omdat sy naam item nommer 112 was!
Nommer 116 op die lys het oor Rooi Sjina gehandel. God het vir my gesê om nie paniekerig te raak as diplomatieke verhoudinge met Rooi Sjina herstel word en dat Taiwan skynbaar afgesny sal wees nie. God het sy mense nie vergeet of verlaat nie. God het verkies dat die deure geopen word, sodat deur hierdie klein openinkie die strale van sy lig kan skyn om lig en bevryding van die kettings van duisternis te bring.
Een van die dinge wat die Here vir my gesê het toe Hy my teruggebring het uit die hemel was: “Ek sal weer na jou toe kom.” Hoe lief het ek Hom nie! Hy het my oor en oor besoek by wyse van hierdie hemelse engelewesens met boodskappe vir die wêreld van vandag!
In antwoord op diegene wat vra of engele sal kom as ek hulle roep — dit is onmoontlik! Hulle reageer nie op mense nie omdat hulle nie bevele neem van enigeen behalwe van God Self nie. Ek het baie mense al hoor sê: “Ek beveel die engele om dit of dat te doen!” Dit is ’n vrugtelose poging omdat mense nie ’n engel kan beveel om enigiets te doen nie!
Elke opdrag kom van God af en daarom weet ek as hulle praat, hulle woorde direk uit God se hart bring. Dit is waarom hulle nie na die besware van mense luister as God hulle beveel om met indiwidue te werk nie.
“ 2 Want as die woord deur engele gespreek, onwankelbaar was, en elke oortreding en ongehoorsaamheid regverdige vergelding ontvang het,
3 hoe sal ons ontvlug as ons so ’n groot saligheid veronagsaam wat, nadat dit eers deur die Here verkondig is, aan ons bevestig is deur die wat dit gehoor het (Heb. 2:2—3)."
Engele en my besoek aan die Troonkamer het my lewe heeltemal verander! Ek ken God nou op ’n beter en meer persoonlike wyse as ooit tevore. My gebedstye het besoeke by Hom geword. Die Bybel het ’n nuwe dimensie aangeneem en het begin leef. Dit is duidelik dat hierdie ervaring ’n groot deel van my lewe uitmaak, want vandat dit gebeur het, neem dit bykans al my gedagtes en meditasies in beslag. Al het ek nie meer die hemelse papier nie, omdat God dit tot as verbrand het, is elke item wat daarop geskryf was in my gedagtes ingebrand soos op ’n foto.
Ek het dikwels in my gedagtes oor die verskillende items op die lys gegaan en gewonder hoe God hulle sal laat plaasvind. Sommige van die dinge het soos algehele onmoontlikhede gelyk. ’n Paar keer het ek oor die skynbaar moeilike profesieë gepeins, my gedagtes neergestip en dit geliasseer. Onlangs het ek net vir my persoonlike genot ’n paar van hierdie papiere getrek.
Een was gedateer 4 Februarie 1977, net twee weke na die Troonkamerervaring toe die meeste van die profesie nog in die toekoms was. Dit het gelees: “Hoe kan hierdie dinge gebeur? Hy is vandag gered, maar dit wys ook sy dood in ’n vliegtuigongeluk op 30 Mei, 1977. Ek verstaan werklik nie waarom nie.”
As ek aan die lang lys gebeure dink wat reeds vervul is en aan hierdie voorspellings wat God gesê het beslis sal plaasvind, kan ek nie anders as om Hom te dank nie, want Hy het sy woord gehou. 117 van hierdie groot gebeurtenisse, hierdie profesieë deur God, is een na die ander in volgorde vervul. Die ander drie is in die proses van vervulling ten tye van die skrywe van die boek.
Die vraag word dikwels gevra of die getal gebeurtenisse enige geestelike betekenis het en wat hulle vervulling sal beteken. Eintlik is hierdie 120 dinge maar net ’n fraksie van ’n minuut in God se ontplooiende plan. Hulle is verwysingspunte al langs die pad om ons aan sy getrouheid te herinner.
God het in die Bybel baie meer as 120 spesifieke gebeurtenisse geplaas wat Hy voorspel het, sal gebeur. Al daardie gebeurtenisse wat tot op hede moes plaasvind, het net so plaasgevind as wat Hy gesê het dit sou, en dié wat nog moet kom, sal beslis gebeur. Hierdie wonderwerke wat voorspel is, is ’n bewys dat Hy God is!
Sy ontplooiende plan, sal onverpoosd voortgaan al sou ek miskien nie meer spesiale bakens op die pad hê nie.
Een van die grootste waarhede wat hierdie boodskap bring, is die versekering dat God elke dag van ons lewens geskeduleer het. As ons met Hom wandel, sal Hy ons paaie vir ons rig, en al is dit vir ons onbekend, sal Hy sy doel vir elkeen van ons laat uitwerk net so seker as wat Hy gesorg het, of sal sorg, dat die 120 gebeurtenisse sal plaasvind wat Hy vir my op daardie wonderlike dag in die Troonkamer gegee het.