Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer daar pyn in jou lewe opduik kan jy seker wees dat dié God wat jy liefhet 'n doel daarmee het en dat Hy jou nooit bo jou kragte sal versoek nie. Jy kan vashou aan God se beloftes in sy Woord dat Hy altyd by jou sal wees in daardie pyn. Jy kan ook weet dat God baie maal pyn in jou lewe toelaat om jou te laat besef dat jy nie sonder Hom kan voortgaan nie, dat jy totaal van Hom afhanklik is.
HOE KOM ʼn MENS IN DIE HEMEL? (5)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by Hoe kom mens in die hemel?
“...sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1:1:4).
Hoe ver is die hemel van ons af? Hoe lank sal dit neem om daar te kom? Vir gelowiges is dit baie naby; in werklikheid net ʼn hartklop ver. Een laaste hartklop en jy is daar waar ʼn erfporsie met baie wonings op jou wag. Petrus skryf: ...“sodat ons ʼn onverganklike en onbesmette en onverwelklike erfenis kan verkry, wat in die hemele bewaar is vir ons” (1:1:4). Soos wat mense dankbaar is vir ʼn aardse erfporsie, moet ons des te meer dankbaar vir ons hemelse een wees.
Die Bybel noem gelowiges tereg mede-erfgename van Jesus. “...en as ons kinders is, dan ook erfgename, erfgename van God en mede-erfgename van Christus...” (Rom.8:17). ʼn Mens gaan kyk mos eers na eiendom alvorens jy dit koop. Dis wat ons ook met ons hemelse eiendom moet doen; kyk dit deur. Hoe doen mens dit? Deur ʼn deeglike bestudering van die Bybel. Jesus het alreeds die koop gesluit en alles klaar betaal. Jy moet net hierdie genade-aanbod aanvaar.
Hoe lyk hierdie hemelse erfenis? Baie anders as wat ons dink! Dit sal wees soos om voet aan wal te sit en te vind dat dit baie anders is as dit waaraan jy gewoond is. Om daar ʼn hand te vat en te ontdek dat dit Jesus s’n is! Kortom: Ons sal daar met ʼn nuwe werklikheid kennis maak nl. dié van onsterflikheid. Hoe heerlik sal dit wees om vir ewig en altyd van harde werk, sorge en beproewings verlos te wees!
ʼn Leraar is een aand na ʼn sterwende gelowige uitgeroep wat brandarm in ʼn kamer in ʼn agterbuurt gewoon het. “Ek voel so innig jammer vir jou. Jy het so ʼn moeilike lewe gehad!” het die leraar simpatiek gesê. “Ja, dominee, ek het baie swaar gehad, maar dis amper verby. Wees eerder saam met my bly oor my vooruitsig van my nuwe tuiste waar ek binnekort gaan aankom”, het hy met sy laaste asem gesê. D.L Moody het op sy sterfbed gesê: “Die aarde wyk, kyk, die hemel gaan vir my oop!”
Let op Jesus se woorde in Joh.14:2: “In die huis van my Vader is daar baie wonings”. Hy het sy dissipels op die vooraand van sy lydensweg probeer troos omdat Hy gesê het dat Hy hulle gaan verlaat. Hy verseker hulle dat sy heengaan na die vaderhuis vir hulle voordelig sou wees en daar genoeg plek sou wees. Dit wat vir hulle na ʼn ramp gelyk het, was eintlik ʼn bedekte seën. As Jesus nie gegaan het nie, sou daar vir die dissipels en gelowige nie plek in die hemel gewees het nie. Iemand moes die voorbereidigswerk gaan doen. Jesus het!
Die Vaderhuis verwys na die hemel waar daar baie verblyf is. Dis nie soos ʼn kommune waar elke huurder sy eie kamer het nie, maar eerder soos ʼn pragtige gastehuis waar elke gelowige ʼn luukse woonplek het. Dit word nooit vol nie. Daar is altyd plek vir nog mense wat Jesus as hulle Verlosser aanvaar het.
En dis ʼn persoonlike saak. Geen kerk kan jou die hemel indra soos wat die Roomse Kerk leer nie. Die pad na die hemel is smal en nie vir wiele gemaak nie maar vir voete. Die kerk kan jou nie daarheen vervoer nie. God dwing op geen mens ʼn heilige lewenswandel af nie. Nogtans maak Hy dit vir mense moontlik om ʼn stukkie van die hemel op aarde te beleef.
Daarom waarsku Jesus in die Bergpredikasie om nie vir ons skatte op die aarde bymekaar te maak nie, maar in die hemel. Moet nooit so in die tydelike lewe verstrengel raak, dat jy die hemel mis nie. Waar jou hart is, sal jou skat ook wees!
Die Bybel gebruik beeldspraak om vir ons iets van die heerlikheid van die hemel te probeer beskryf. Openbaring praat van poorte uitgelê met pêrels, strate van goud, mure van opaal en fondamente van allerlei edelgesteentes. Dit klink alles wonderlik. Dis egter nie waaraan ons eerste moet dink as ons aan die hemel dink nie. Dit gaan uiteraard om die teenwoordigheid van Jesus. As ons in die hemel moes kom en vind dat Hy nie daar is nie, sal die strate van goud vaal en mure van edelgesteentes dof wees.
Daar is min gedigte wat my so ontroer soos Toon van den Heever se In die Hoëveld. Dit vertel van ʼn man wat genoodsaak was om sy plaas te verlaat en in ʼn myn te gaan werk en myntering opgedoen het. Ten spyte van sy droewige omstandighede, is sy laaste gedagtes by sy plaas op die Hoëveld en hoe wonderlik dit daar is. Dis hoe ons na die hemel moet verlang. Ons is mos vir iets beter as die aarde bestem!
Jare gelede moes ʼn vlieënier van New York in belang van sy werk vir ʼn paar weke in Londen oorbly. In hierdie tyd het hy nie sy horlosie op Engelse tyd ingestel wat ure verskil het nie. Die rede daarvoor was dat hy sodoende tred met sy eie huis gehou het. Hy het presies geweet wanneer sy gesin opstaan, ontbyt nuttig, die kinders skool toe gaan ens. Alhoewel hy in Londen was, was sy hart in New York. Dis hoe ons op aarde moet leef; met ons hart in die hemel.
Ek het dit altyd geniet om my kinders toe hulle klein was te verras. Soms het ek hulle oë toegehou tot by die verrassing. Daardie verbasing op die gesiggies as ek my hand weggeneem het, was ʼn prentjie om te aanskou! God maak ook so. Terwyl ons leef, hou Hy as’t ware sy hand voor ons oë. Wanneer ons sterf, neem Hy dit weg sodat ons die hemel, die grootste verrassing denkbaar, kan sien!
As ons weet dat ons hemel toe gaan, is ons vir niks op aarde bang nie, selfs nie eens vir die dood nie. Dit word vertel van ʼn dogtertjie wat een skemeraand op pad huistoe kortpad deur die begraafplaas geloop het. ʼn Omie wat daar gewerk en by die hek vir sy oplaai-geleentheid sit en wag het, vra haar toe of sy nie bang is om in die donker deur die begraafplaas te loop nie? “Nee, wat oom, ek is nie bang nie, my huis is net hier anderkant” . Ons hoef nie die donker van die dood te vrees as ons ewige huis net anderkant die dood is nie!