Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hemelse Vader, ek vra omverskoning dat ek nog nie geleer het om U volkome te vertrou nie. Leer my asseblief om al my vrese na U te bring en hulle daar by U te los met die vaste wete dat U sal sorg. Amen.
AL MY WEë IS VOOR U
Hannes Ollewagen
Ps. 119:161-168
“My siel onderhou u getuienisse, en ek het hulle baie lief. Ek onderhou u bevele en u getuienisse, want al my weë is voor U.” (:168).
Die Psalmdigter maak hier melding van ’n redelik eenvoudige waarheid wat die mens heeltemal te maklik uit die oog verloor. En dit is dat al ons weë voor God se oë is en dat Hy alles wat hier op aarde gebeur, sien. Alles is voor Hom blootgelê – selfs ons diepste gedagtes. Dit word ewe duidelik in Hebreërs 4:13 vir ons gestel. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het.
Dit is belangrik dat ons hierdie waarheid voor oë moet hou. Hierdie waarheid help ons ook om in God se weë te bly. Dit is duidelik uit die woorde van die Psalmdigter wat stel dat die onderhouding van God se bevele spruit uit die besef dat al sy weë voor God openbaar is. Dit herinner die mens aan sy geloofsverantwoordelikheid om God te gehoorsaam en te eer. Ons lees ook in Spreuke 5 waar die wyse koning Salomo hiervan getuig. “Want elke mens se weë is voor die oë van die HERE, en Hy weeg al sy gange.” (Spr. 5:21).
Die teenoorgestelde is natuurlik ook waar, naamlik dat die mens wat hierdie waarheid nie voor oë hou nie mettertyd van God afvallig sal raak. “Die goddelose, met sy neus in die hoogte, sê: Hy ondersoek nie: daar is geen God nie — dit is al sy gedagtes!” (Ps. 10:4). Wanneer die mens dink dat God nie let op wat hier op aarde gebeur nie verwyder hy van hom die besef dat hy verantwoording van sy dade moet doen – indien nie hier op aarde nie dan wel eendag voor die regterstoel van Christus. “Want ons moet almal voor die regterstoel van Christus verskyn, sodat elkeen kan ontvang wat hy deur die liggaam verrig het, volgens wat hy gedoen het, of dit goed is of kwaad.” (1 Kor. 5:10). En sonder hierdie besef van verantwoordbaarheid sal die mens bandeloos handel. Ons sien hierdie verskynsel ook uit die woorde van Hoséa 7:1&2. “TERWYL Ek Israel genees, word die ongeregtigheid van Efraim openbaar en die booshede van Samaría; want hulle pleeg bedrog en die dief breek in en ’n rowerbende plunder op die straat. En hulle sê nie in hulle hart dat Ek aan al hulle boosheid dink nie; nou omsingel hulle dade hulle, dit lê oop voor my aangesig.” God wat stel dat Efraim nie daaraan dink dat Hy hul dade raaksien nie en eweneens meld Hy dat Hy inderdaad daarop let.
Daar is ook ’n verdere rede waarom dit vir die mens só nodig is om hierdie besef dat God se oë alles sien behoort te koester. Benewens die feit dat dit ons sin van verantwoordelikheid en verantwoordbaarheid gesond hou en ons gedurig oor ons lewe en optrede laat besin, herinner dit ons ook aan God se hulp en redding. En laasgenoemde sal ons in die lewe laat moed hou en op God laat hoop selfs in die moeilikste omstandighede. Dink maar aan die pragtige gedeelte en bemoediging uit Jesaja 40 wat reguit tot ons hart spreek in omstandighede waarin dit kan voel dat ons die omvang van ons ellende of moedeloosheid nie eens kan verwoord nie. En wanneer God hierdie situasie so perfek uit sy Woord aanspreek, besef ons dat Hy dieper as ons omstandighede tot in die diepste van ons hart, emosies en denke sien. “WAAROM sê jy dan, o Jakob, en spreek jy, o Israel: My weg is vir die HERE verborge, en my reg gaan by my God verby? Weet jy dit nie? Of het jy dit nie gehoor nie? ’n Ewige God is die HERE, Skepper van die eindes van die aarde; Hy word nie moeg of mat nie; daar is geen deurgronding van sy verstand nie. Hy gee die vermoeide krag en vermenigvuldig sterkte vir die wat geen kragte het nie.” (Jes. 40:27-29).
Ons lees ook in Exodus 3 dat die roeping van Moses om Israel uit die slawerny te bevry, gevolg het op God wat hierdie swaarkry van sy volk raakgesien het omdat niks vir sy oë verborge is nie. “En nou, kyk, die jammerklagte van die kinders van Israel het tot by My gekom. Ook het Ek die verdrukking gesien waarmee die Egiptenaars hulle verduk.” (Ex. 3:9). En hierdie waarhede en gebeure uit God se Woord herinner ons ook weer aan ons nederige afhanklikheid van Hom wat die heelal in sy hande hou.
Die besef dat God se oë alles sien wat op aarde gebeur herinner ons nie alleen aan ons verantwoordbaarheid teenoor Hom nie, maar maak ons gedurig weer van sy verhewenheid bewus. Dit herinner ons aan sy grootheid en terselfdertyd aan ons eie nietigheid teenoor Hom. En hierdie is alles dinge wat nodig is om in ’n gesonde verhouding met Hom te staan. Laat ons ons daarom beywer om hierdie “eenvoudige” waarheid nie uit die oog te verloor nie maar onsself gedurig daaraan te herinner. Die werklike besef daarvan sal ongetwyfeld op ons besluite, optrede, gesindheid en selfs ons gedagtes inwerk.
“...HERE, U deurgrond en ken my. U ken my sit en my opstaan; U verstaan van ver my gedagte. U deurvors my gaan en my lê, en U is met al my weë goed bekend. Want daar is nog geen woord op my tong nie – of U, HERE, U ken dit geheel en al. U sluit my in van agter en van voor, en U lê u hand op my. Om dit te begryp, is te wonderbaar vir my, te hoog: ek kan daar nie by nie.” (Ps. 139:1-6)