Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons wat sê ons is kinders van die Here en leef in goeie verhouding met Hom, kan ons werklik sê ons leef met volkome vertroue in Hom – of leef ons eerder met wantroue in Hom? Hierdie is 'n fyn skeidslyn maar as ons onthou dat Hy die getroue Een is, sal ons minder sukkel om onsself volkome aan Hom oor te gee.
ONS LIEFDE TOT GOD
Hannes Ollewagen
1 Joh. 5:1-21
“Want dit is die liefde tot God, dat ons sy gebooie bewaar; en sy gebooie is nie swaar nie.” (:3).
Ek wonder of daar al ’n tyd in ons volk se geskiedenis was waar ’n mens so baie van mense se liefde vir God gehoor het en terselfdertyd so min daarvan gesien het? Daar is gedurig video’s en allerhande saamtrekke en dergelike dinge waarin mense nie skroom om van God te praat nie en tog gaan ons samelewing mank aan ’n lewende getuienis waarin God deur ons verheerlik word. Die woorde uit Matt. 15:8 laat ons nie alleen besef dat hierdie geen nuwe verskynsel is nie, maar onderstreep ook die oorsaak van die probleem. “Hierdie volk nader My met hulle mond en eer My met die lippe, maar hulle hart is ver van My af.” Die oorsaak van hierdie simptoom is ’n gebrek aan liefde vir God.
Daar is die gesegde in Engels wat lui: “Talk is cheap.” Dit is een ding om ’n belydenis in woorde te maak, maar heeltemal anders om dieselfde belydenis d.m.v. optrede te maak. Maar die belydenis wat deur ons optrede openbaar word, is eindelik die ware belydenis. Dit het Christus ook vir ons in Matt. 7:16-18 geleer. “Aan hulle vrugte sal julle hulle ken. ’n Mens pluk tog nie druiwe van dorings of vye van distels nie! So dra elke goeie boom goeie vrugte; maar ’n slegte boom dra slegte vrugte. ’n Goeie boom kan geen slegte vrugte dra nie, en ’n slegte boom ook geen goeie vrugte nie.” En hierdie reël geld ook t.o.v. ons liefde vir God. Die bevestiging van ons liefde vir Hom is nie daarin dat ons dag-na-dag sal rondloop en oor Hom sal praat nie, maar die bevestiging van ons liefde teenoor Hom word bewys in ons gehoorsame optrede teenoor Hom elke dag van ons lewe. Dit is natuurlik nie verkeerd om gedurig oor Hom te wil praat omdat Hy vir ons só ontsettend belangrik is nie, maar ’n belydenis wat net in woorde bestaan, is nie ’n opregte belydenis nie.
Wanneer ons kyk na die voorbeeld van Abraham sien ons ’n man se liefde vir God wat deur sy optrede bely word. God stel die egtheid van hierdie man se liefde vir Hom op die proef deur aan hom die opdrag te gee om sy enigste seun, Isak, te offer. Abraham gehoorsaam hierdie opdrag van God maar nie om te probeer om iets van Hom te verdien nie – hy het reeds die geskenk van hierdie seun wat God beloof het van Hom ontvang. Maar nou word Abraham beproef om te bepaal of hy die Gewer van hierdie kosbare gawe steeds meer liefhet as die gawe wat hy ontvang het aangesien dit geen ongewone gesig is om te sien dat mense dikwels die gawes meer liefkry as die Gewer daarvan nie. En Abraham slaag hierdie toets van ’n opregte geloof en liefde teenoor God waarna God dan ook bevestig hoe ontsettend belangrik hierdie opregte liefde wat deur optrede bely word vir Hom is. “Toe roep die Engel van die HERE vir die tweede keer na Abraham van die hemel af en sê: Ek sweer by Myself, spreek die HERE, omdat jy dit gedoen het en jou seun, jou enigste, nie teruggehou het nie, dat Ek jou ryklik sal seën en jou nageslag grootliks sal vermeerder soos die sterre van die hemel en soos die sand wat aan die seestrand is; en jou nageslag sal die poort van sy vyande in besit sal neem.” (Gén. 22:15-17).
Ons vind ook hierdie voorbeeld van ’n egte liefde vir God uit die lewe van Job. Satan bring die beskuldiging teen Job dat hy God alleen dien vir die voorspoed en gawes wat hy van Hom ontvang. “En die Satan antwoord die HERE en sê: Is dit verniet dat Job God vrees? Het U nie self hom en sy huis en alles wat hy het, aan alle kante rondom beskut nie? Die werk van sy hande het U geseën, en sy vee het sterk vermeerder in die land. Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het – waarlik, hy sal U in u aangesig seën!” (Job. 1:9-11). En nadat God vir Satan toelaat om al die goeie gawes van God uit Job se lewe te verwoes, getuig die optrede van Job se vrou dat haar liefde vir God nie opreg was nie, terwyl Job se optrede getuig van sy opregte liefde vir Hom. “Toe sê sy vrou vir hom: Volhard jy nog in jou vroomheid? Seën God, en sterf! Maar hy antwoord haar: Soos ’n dwaas praat, praat jy! Die goeie sou ons van God aanneem, en nie ook die slegte aanneem nie? By dit alles het Job nie gesondig met sy lippe nie.”
Sien ons nie vandag hoedat mense die teenoorgestelde as Abraham doen nie? Die gawe van verlossing in Christus wat God aan die mens skenk, word op so ’n wyse aangegryp dat die mens hierdie gawe van “vryheid” meer liefkry as die Gewer daarvan. En in plaas daarvan om in dankbaarheid teenoor die Gewer tot opoffering bereid te wees, word hierdie “vryheid” so verhef dat dit aanleiding gee tot ’n lewe waarin ek God se gebooie kan minag omdat my eie “vryheid” vir my belangriker as God geword het. En so ’n lewe word gekenmerk aan meer verskoning waarom ek nie aan God gehoorsaam hoef te wees nie as wat dit gekenmerk word aan ’n opregte en ware strewe om Hom in liefde te eer en te gehoorsaam. En lewer laasgenoemde nie ’n onweerlegbare getuienis nie? Wanneer iets vir my belangrik is (as ek ’n liefde daarvoor het) sal ek ’n begeerte daarna hê terwyl ek ’n verskoning sal hê vir daardie dinge wat nie vir my belangrik genoeg is nie – waarvoor ek nie ’n ware liefde koester nie.
Ek wonder hoeveel anders ons volkslewe daar sal uitsien as ons hierdie opregte liefde tot God ons strewe sou maak. Ek wonder hoe ons volk sou lyk wanneer ons nie verskonings soek waarom ons Hom nie hoef te gehoorsaam nie, maar met dieselfde en groter ywer probeer om Hom in opregte liefde te dien en te gehoorsaam. Ons sal in die nastreef hiervan meer eer aan Hom toebring omdat die wêreld aan ons liefde vir Hom sal weet dat Hy ons God en ons sy kinders is. “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra; en julle sal my dissipels wees.Soos die Vader My liefgehad het, het Ek julle ook liefgehad. Bly in hierdie liefde van My. As julle my gebooie bewaar, sal julle in my liefde bly, net soos Ek die gebooie van my Vader bewaar en in sy liefde bly.”