Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Soos wat geneesmiddels nie op almal dieselfde uitwerking het nie, het swaarkry ook nie. Sommige se gestel word daardeur versterk. Ander s’n word geknak.
LAAT STAAN EN WEET DAT HY GOD IS
Hannes Ollewagen
Ps. 46:1-12
“God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” (:2).
“Laat staan en weet dat Ek God is; Ek sal hoog wees onder die nasies, hoog op die aarde. Die HERE van die leërskare is met ons; die God van Jakob is ’n rotsvesting vir ons. Sela.” (:11&12).
’n Mens staan verstom oor die histerie van mense oor die geleentheid van die Amerikaanse president om aan Afrikaners vlugtelingstatus na Amerika te gee. ’n Mens sou glo dat hierdie man die Afrikaner te hulp gesnel en die juk van ’n kommunistiese regering eensklaps van sy nek kom verbreek het. U moet maar verskoon dat ek nie in die meeste mense se opgewondenheid rondom hierdie saak deel nie. Die geskiedenis van die Afrikaner – en veral die rol van die Amerikaanse regering in die onderwerping van die Afrikaner aan ’n kommunistiese rowerbende oor die afgelope paar dekades – oorskadu egter op hierdie stadium enige opgewondenheid oor hierdie opspraakwekkende aankondiging. Hierdie man en sy regering het nie enige bewese rekord dat hulle hulself met die wel en weë van die Afrikaner bemoei nie. Inteendeel . . .
Dit is dan ook by terugskoue hiervan – die “track record” soos die Engelsman of Amerikaner sou sê – dat ’n mens wonder vanwaar die skielike “besorgdheid” oor die Afrikaner en sy lot. Maar dit is ’n lang gesprek vir ’n ander dag. Ek sou wel sonder verdere uitstel u aandag wil vestig op die Een van Wie ek in waarheid kan getuig wat werklik oor die wel en weë van sy kinders besorg is. Die kinders van Korag vestig ons aandag op so ’n mooi wyse in Ps. 46:2 op die bewese rekord van God wat voormelde vir ons bevestig. “God is vir ons ’n toevlug en sterkte; as hulp in benoudhede is Hy in hoë mate beproef.” Staan sy hulp in benoudhede in die geskiedenis van ons volk nie soos ’n paal bo water uit nie? Die geskiedenis van ons volk lewer ook ’n duidelike getuienis daarvan dat Hy die toets om ons te hulp te kom telkens geslaag het. Daar was nie ’n situasie wat vir Hom te groot of onmoontlik was dat Hy ons soms in die steek gelaat het nie. Hoe kragtig getuig die wonder by Bloedrivier nie vandag nog van Hom, die getrouheid en mag waarmee Hy kan red nie? Sy getrouheid in die geskiedenis is selfs te bespeur eeue voor die gebeure by Bloedrivier – met getrouheid het Hy ons voorouers uit Europa veilig hierheen gebring en as ’n volk hier aan die suidpunt van Afrika kom vestig. Jan van Riebeeck het ook op 6 April 1654 kragtig van hierdie getrouheid van God getuig en die getuienis van die kinders van Korag bevestig dat Hy in hoë mate beproef en getrou bevind is. “Waar dit vandag die tweede verjaardag is van die dag waarop ons deur die HERE gelei, met die skepe Drommedaris, Reyger en De Goede Hoop hier ter plaatse behoue aangeland het om hierdie vesting en kolonie na die bevel van ons here en meesters Here XVII – die Direkteure van die VOC te bou en te bestendig, en opgelet dat God die HERE alle sake tot vandag toe met vele seëninge voorspoedig en na wense laat verloop en laat slaag het, daarom het ons besluit, en ook vir die eerste keer begin om hierdie dag, die 6de April, tot eer van God met danksegging te vier en vir altyd tot 'n vasblywende dank- en biddag in te stel, sodat daarby die weldade van die HERE wat aan ons bewys is, deur ons nakomelinge nooit vergeet mag word nie, maar altyd tot eer van God in gedagtenis en herinnering gehou sal word.”
Hierdie gebeure uit ons volksgeskiedenis is maar enkele gevalle wat as voorbeelde dien. Daar is nog talle voorbeelde uit ons volk se geskiedenis wat ons kan opdiep, maar ook soveel voorbeelde van God se bewese rekord van getrouheid wat in sy Woord vir ons opgeteken is – talle voorbeelde wat bevestig dat Hy as hulp in benoudhede in hoë mate beproef is. En nooit het Hy die toets nié geslaag nie. Sy arm was nooit te kort nie. Hy was nooit sy woord ontrou nie. God was as voorbeeld in die dae van Noag nie alleen getrou om hom teen die komende ramp van die vloed te waarsku nie, maar met getrouheid het God vir Noag en al sy mense in die ark beskerm en onderhou. Nadat God vir Moses na Egipte stuur om Israel onder die slawerny van die Egiptenare uit te lei, het dit op ’n stadium vir Moses gevoel asof God hom in hierdie saak in die steek laat. “TOE gaan Moses weer na die Here en sê: Here, waarom het U hierdie volk kwaad aangedoen? Waarom het U my tog gestuur? Want vandat ek na Farao gegaan het om in u Naam te spreek, het hy hierdie volk mishandel, en U het u volk glad nie verlos nie.” (Ex. 5:22&23). Maar dan verseker God aan Moses dat Hy as hulp in hierdie benoudheid nogeens die toets sal slaag. “Daarop het die Here Moses geantwoord: Nou sal jy sien wat Ek Farao sal aandoen. Want deur 'n sterke hand sal hy hulle laat trek, ja, deur 'n sterke hand gedwing, sal hy hulle uit sy land uitdrywe.” (Ex. 5:24). En die oorwinningslied van die Israeliete waarvan ons in in Ex. 15:11-13 lees getuig weereens hoedat God Homself as die getroue bewys het. “O Here, wie is soos U onder die gode? Wie is soos U, verheerlik in heiligheid, gedug in roemryke dade, een wat wonders doen?U het u regterhand uitgestrek, die aarde het hulle verslind.U het deur u guns die volk gelei wat U verlos het; U het hulle deur u krag na u heilige woning gevoer.” God het homself ook op wonderbaarlike wyse in die lewe van Abraham as die Getroue betuig. Hy beloof aan Abraham en Sara ’n seun op hul gevorderde ouderdom en vervul ook die belofte. Maar wat meer is, is dat God in hierdie seun aan Abraham ’n groot nageslag beloof. En dan gee God aan Abraham die opdrag om hierdie seun – in wie die belofte van ’n groot nageslag is – te gaan offer. Abraham se antwoord aan Isak uit Génesis 22:7&8 lewer dan ook getuienis van Abraham se oortuiging dat God in die moeilikste van situasieste vertrou is. “Toe spreek Isak met sy vader Abraham en sê: My vader! En hy antwoord: Hier is ek, my seun! En hy sê: Hier is die vuur en die hout, maar waar is die lam vir 'n brandoffer? En Abraham antwoord: God sal vir Homself die lam vir 'n brandoffer voorsien, my seun. So het hulle twee dan saam geloop.”
Ons sal uit al hierdie voorbeelde in ons volksgeskiedenis en uit al die geloofshelde in die Woord nie een vind waar die oplossing was om voor die moeilikhede en beproewing te vlug nie. Dit sou ’n daad van ongeloof wees. So ’n optrede sou verklap dat hierdie mense nie glo dat God te vertrou is om in hul situasie uitkoms te gee nie. En dít is ’n belediging teenoor die Allerhoogste. Ons behoort daarom ook nie in ons omstandighede uit vrees op vlug te slaan in die waan dat daar vir ons groter heil by een of ander mens as by God te vind is nie. Nee. Ons behoort veel eerder te laat staan en weet dat Hý God is – die onveranderlike en die almagtige God wat male sonder tal sy getrouheid bewys het. En verder het Hy ook bewys dat géén situasie of omstandighede vir Hom oorweldigend is nie. Ons sal nie gered word deur van ons moeilikhede te probeer wegvlug nie. Maar daar is vir ons redding in ’n ware en opregte terugkeer tot God sodat ons Hom in ons nood kan aanroep. Ons volk se huidige toestand wat met reg as ellendig beskryf kan word, is nie as gevolg van God se ontrouheid of onvermoë om te red nie, maar eerder oor ons volk se voortgesette fout om by die verkeerde adres om hulp te soek.
Ek hoop van harte dat ons die duidelike opdrag van Ps. 146:3-6 in hierdie tyd met erns ter harte sal neem. “Vertrou nie op prinse, op die mensekind, by wie geen heil is nie. Sy gees gaan uit, hy keer terug na sy aarde toe; op daardie dag is dit met sy planne gedaan. Welgeluksalig is hy wat die God van Jakob het as sy hulp, wie se hoop is op die Here sy God, wat hemel en aarde gemaak het, die see en alles wat daarin is; wat trou bly tot in ewigheid;” En dat ons sal verstaan dat ons God beledig en sy toorn wek wanneer ons ons vertroue nie op Hom stel nie. Hy het ons nog nimmer enige rede gegee om Hom te wantrou nie. “So sê die Here: Vervloek is die man wat op die mens vertrou en vlees sy arm maak, terwyl sy hart van die Here afwyk.Geseënd is die man wat op die Here vertrou, en wie se vertroue die Here is.” (Jer. 17:5,7).