Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons vra God in ons gebede soos Hy ons geleer het dat ons vergeef sal word, soos ons diegene vergewe wat teen ons oortree – nie omdat ons in staat is om die skuld van 'n vergryp of belediging te vergewe nie – maar net dat ons toorn, haat en wraaksug vrywilliglik uit ons hart verban kan word.
OM GOD LIEF TE HÊ
Hannes Ollewagen
1 Kor. 8:1-13
“Maar as iemand God liefhet, dié word deur Hom geken.” (:3).
‘n Treffende stelling. Watter mens wat in God glo wil nie beslis weet dat God hom ken nie? En tog is daar baie mense wat hulle met godsdienstige sake besig hou, maar sonder dat daar ’n ware verhouding tussen hulle en God bestaan. Die rede hiervoor is dat daar in hul godsdienstige aksies geen liefde is nie – dit bestaan uit gewoonte of gewoon aangeleerde kennis. Laasgenoemde is veral kenmerkend van soveel teoloë in ons tyd wat ’n groter aanhang vir hul sogenaamde akademiese kennis as vir God het. En dit verduidelik natuurlik vir ons waarom dit hulle min traak dat God se Woord en insettinge geminag, verdraai en vertrap word, want hulle voel nie iets vir Hom nie – daar is in hulle geen liefde vir God nie.
Geliefdes, die Woord van God herinner ons vandag daaraan dat ons nie in ’n gesonde verhouding met God kan staan wanneer die liefde by ons ontbreek nie. Ons kan Hom nie sonder liefde na behore dien nie. Hierdie gebod word duidelik deur God in Deut. 6:5 gestel. “Daarom moet jy die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met al jou krag.” En Christus onderstreep vir ons die belangrikheid hiervan in Matt. 22:37&38. “En Jesus antwoord hom: Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die eerste en groot gebod.” Dit is natuurlik ook die rede waarom God sy volk aangespreek het oor hul liefdelose godsdiens wat maar net uit gewoonte onderhou is. “En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My 'n aangeleerde mensegebod is, daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.” (Jes. 29:13&14). Dit was juis hierdie godsdienstigheid van die Jode, gepaardgaande met ’n gebrek aan liefde, wat die oorsaak was dat hulle Christus aan ’n vloekhout laat ophang en onskuldig laat vermoor het. En Hy het hulle hierteen gewaarsku. “Julle ondersoek die Skrifte, omdat julle meen dat julle daarin die ewige lewe het; en dit is dié wat van My getuig. Maar Ek ken julle, dat julle die liefde van God in julle nie het nie.” (Joh. 5:39, 42). Liefdelose godsdienstigheid (m.a.w. ’n godsdienstigheid sonder ’n ware liefde vir God) was aan die grondslag van die grootste onreg wat in die geskiedenis van die mensdom gepleeg is! U sien waarom dit onmoontlik is om God op so ’n wyse te behaag?
’n Ware kennis van God en liefde loop hand-aan-hand. Dit is nie moontlik vir ons om God sonder liefde in waarheid te ken nie. “Wie my gebooie het en dié bewaar, dit is hy wat My liefhet; en wie My liefhet, hóm sal my Vader liefhê, en Ek sal hom liefhê en My aan hom openbaar.” (Joh. 14:21). Luister ook na die getuienis uit 1 Joh. 4:7&8 wat die simbiose tussen liefde en kennis in ’n gesonde verhouding met God vir ons uiteensit. “GELIEFDES, laat ons mekaar liefhê; want die liefde is uit God, en elkeen wat liefhet, is uit God gebore en ken God. Hy wat nie liefhet nie, het God nie geken nie, want God is liefde.” Wanneer ons God liefhet, sal Hy deur sy Gees in ons harte woon. “Jesus antwoord en sê vir hom: As iemand My liefhet, sal hy my woord bewaar, en my Vader sal hom liefhê, en Ons sal na hom toe kom en by hom woning maak.” (Joh. 14:23). Die vrug daarvan (bewerk deur sy Gees in ons harte) is dat ons ook ons naaste sal liefhê en God sal gehoorsaam. “...As ons mekaar liefhet, bly God in ons en het sy liefde in ons volmaak geword. Hieraan weet ons dat ons in Hom bly en Hy in ons, dat Hy ons van sy Gees gegee het.” (1 Joh. 4:12&13).
Kyk ons na die wêreld vandag, sien ons oraloor getuienis van ’n wêreld wat mank gaan aan liefde. Daar is min liefde vir mense teenoor mekaar en die grondslag daarvan is ’n gebrek aan liefde vir God. Dit is sigbaar uit die onrespekvolle wyse waarop mense met en van mekaar praat. Dit is sigbaar uit die selfsugtige wyse waarop mense teenoor mekaar handel – ’n verontagsaming van Luk. 6:31. “En soos julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, so moet julle ook aan hulle doen.” Dit is sigbaar in die gebrek aan trots wat mense in hul werk het. Kol. 3:23. “En wat julle ook al doen, doen dit van harte soos vir die Here en nie vir mense nie,”. Dit is sigbaar aan die gebrek van respek van kinders teenoor hulle ouers – ’n verontagsaming van Kol. 3:20. “Kinders, julle moet jul ouers in alles gehoorsaam wees, want dit is die Here welbehaaglik.” Dit is sigbaar aan die gebrek aan onderdanigheid van vrouens teenoor hul mans. “VROUE, wees julle mans onderdanig soos dit betaamlik is in die Here.” (Kol. 3:18). Dit is sigbaar aan die gebrek van liefde by mans teenoor hul vrouens. “Manne, julle moet jul vroue liefhê en nie teen hulle verbitter word nie.” Kol. 3:19. Dit is sigbaar aan die gebrek aan tug en vermaning in die opvoeding van ouers. “En vaders, moenie julle kinders vertoorn nie, maar voed hulle op in die tug en vermaning van die Here.” (Efés. 6:4). En so kan ons die lys aanvul en uitbrei met allerhande vorme van liefdelose optrede – liefdeloos teenoor ons naaste en liefdeloos teenoor God. En die gevolg hiervan is noodwendig ’n samelewing en wêreld wat in totale chaos en wanorde verval – ’n pragtige gesig vir Satan en ’n teleurstellende en smartlike gesig vir God.
Ons moenie aan hierdie vervalle samelewing gelyk word nie – hoe kan ons dit doen as ons sê dat ons God liefhet? Laat ons nie meedoen aan ’n wêreld wat met hul optrede uitroep: “Kruisig Hom, kruisig Hom” nie, maar eerder met ons optrede ons opregte liefde en eerbeid teenoor Hom betuig. Laat ons in opregte liefde teenoor Hom opnuut en voortdurend soek om te doen wat goed en welgevallig is voor Hom.
“En word nie aan hierdie wêreld gelykvormig nie, maar word verander deur die vernuwing van julle gemoed, sodat julle kan beproef wat die goeie en welgevallige en volmaakte wil van God is.” (Rom. 12:2).