Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As ons dan verleë staan met dié gebed: 'vergeef ons soos ons vergeef', hou dan met blydskap vas aan die vredevolle versekering: "Ek, Ek is dít wat jou oortredinge uitdelg, om my ontwil, en aan jou sondes dink Ek nie" – Jes 43:25. God vergeef en vergeet...
‘N WêRELD SONDER GRENSE
Hannes Ollewagen
Hand. 17:15-34
“En Hy het uit een bloed al die nasies van die mensdom gemaak om oor die hele aarde te woon, terwyl Hy vooraf bepaalde tye en die grense van hulle woonplek vasgestel het, sodat hulle die Here kon soek, of hulle Hom miskien kon aanraak en vind, al is Hy nie ver van elkeen van ons nie; want in Hom lewe ons, beweeg ons en is ons, ...”(:26 – 28).
Kom ons begin by die begin. “IN die begin het God die hemel en die aarde geskape.” (Gén. 1:1).
God is die Skepper van die aarde. Hý het die aarde wat ons as mensekinders bewoon, geskape. Hy is die Eienaar daarvan. En Hy kan daarom besluit hoe dinge daarop behoort te geskied. Hy openbaar dan ook hierdie besluite en dit wat Hom welgeval aan ons deur sy Woord. So openbaar God deur sy Woord aan ons dat die erkenning van volkeverskeidenheid nie ’n sonde is nie, maar dat dit deur Hom so verorden is. Indien Handelinge 17:26 nie vir ons duidelik genoeg is in hierdie verband nie kan ons ook na Deut. 32:8 luister. “Toe die Allerhoogste aan die nasies ’n erfdeel gegee het, toe Hy die mensekinders van mekaar geskei het, het Hy die grense van die volke vasgestel volgens die getal van die kinders van Israel.”
Dit is nie alleen hier in Suid-Afrika nie, maar wêreldwyd waar hierdie wil van God verontagsaam word. En hierdie verontagsaming is doelbewus. Dit word bewerk en bevorder deur mense wat in vyandskap met God leef. Hulle wil as dienaars van Satan die Skepping van God verniel. Hulle wil alle grense moedswillig uitwis. Die grense tussen volke word uitgewis om so die verordening van God, dat elke volk sy eie erfdeel besit, te minag. “So sal dan ’n erfdeel nie van een stam na ’n ander stam oorgaan nie; want die stamme van die kinders van Israel moet elkeen sy erfdeel vashou.” (Núm. 36:9). Die uitwissing van hierdie grense tussen volke bring die vernietiging van kulture en samelewings mee. Dit wis volksverbondheid en sterk familiebande uit. En eindelik sal dit tot die vernietiging van volke lei. Sodoende slaan Satan met hierdie dienaars van hom ’n groot slag in die vernieling van God se skeppingswerk. Hierdie vernietiging van grense tussen volke het onrus en wanorde tot gevolg – presies die teenoorgestelde van ’n rustige en stil lewe wat goed en aangenaam voor God is. “...sodat ons 'n rustige en stil lewe kan lei in alle godsvrug en waardigheid.Want dit is goed en aangenaam voor God, ons Verlosser, wat wil hê dat alle mense gered word en tot kennis van die waarheid kom.” (1 Tim. 2:2-4).
Hierdie vernietigingswerk van die dienaars van die bose is natuurlik nie tot die grense van volke beperk nie. Die aanslag is veel groter en is daarop gerig om alle grense wat deur God daargestel is te vernietig. Die grense tussen man en vrou moet uitgewis word. “En God het die mens geskape na sy beeld; na die beeld van God het Hy hom geskape; man en vrou het Hy hulle geskape.” (Gén. 1:27). En daarom word mense nie alleen bedrieg om te glo dat daar geen verskil tussen ’n man en ’n vrou is nie, maar ook dat ’n mens kwansuis ’n keuse oor jou geslag kan uitoefen. Hierdie grense wat deur geen ander as God daargestel is nie, moet uitgewis word. En die uitwissing van hierdie grense het ten doel om immoraliteit tot ’n ongekende hoë vlak te bevorder. Dit maak gruwels soos homoseksualiteit en dergelike dinge in die groter geheel net soveel meer “aanvaarbaar”. Feit is dat so ’n gruwel in God se oë nooit aanvaarbaar sal wees nie. “Met 'n manspersoon mag jy ook geen gemeenskap hê soos 'n mens met 'n vrou het nie. Dit is 'n gruwel.” (Lev. 18:22).
Ons as God se kinders behoort nie aan hierdie vernielingswerk aan God se Skepping mee te doen nie – ons kan ons Vader nie só oneer aandoen nie. Veel eerder behoort ons gedurig daaraan te dink dat ons die voorreg het om hier op die aarde, wat deur Hom geskape is, te mag leef en dat ons lof, dank en eerbied aan Hom verskuldig is. En hierdie eerbied betuig ons aan Hom deur nie te verniel en in opstand te kom deur die grense, insettinge en verordeninge wat Hy vir die mens daargestel het, te minag nie, maar om dit ootmoedig na te kom en te eerbiedig.
“En omdat julle na hierdie verordeninge sal luister en dit hou en volbring, sal die HERE jou God vir jou die verbond en die goedertierenheid hou wat Hy jou vaders besweer het; en Hy sal jou liefhê en jou seën en jou vermenigvuldig, en Hy sal die vrug van jou liggaam seën en die vrugte van jou land, jou koring en jou mos en jou olie, die aanteel van jou kleinvee, in die land wat Hy aan jou vaders met ’n eed beloof het om aan jou te gee.” (Deut. 7:12&13).