Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Jesus het aan die fariseërs gesê dat Hy barmhartigheid wil sien by mense, nie allerhande offerandes nie. Is ons nie dikwels wreed en veroordelend teenoor ons medemens sonder goeie rede nie? Ons moet onthou dat die oordeel God alleen toekom.
‘N NUWE VERBOND
Hannes Ollewagen
Jer. 31:1-40
“Kyk, daar kom dae, spreek die HERE, dat Ek met die huis van Israel en die huis van Juda ’n nuwe verbond sal sluit; nie soos die verbond wat Ek met hulle vaders gesluit het op dié dag toe Ek hulle hand gegryp het om hulle uit Egipteland uit te lei nie – my verbond wat húlle verbreek het, alhoewel Ék gebieder oor hulle was, spreek die HERE. Maar dit is die verbond wat Ek ná dié dae met die huis van Israel sal sluit, spreek die HERE: Ek gee my wet in hulle binneste en skrywe dit op hulle hart; en Ek sal vir hulle ’n God wees, en hulle sal vir My ’n volk wees.” (:31-33).
Dit bly maar in die teologie ’n algemene gesig dat daar strominge is wat tot die uiterste gaan. Die een gaan in die rigting van ’n algehele verwerping van God se gebooie en gehoorsaamheid aan sy Woord. Die ander gaan weer in die teenoorgestelde rigting van ’n slaafse onderhouding van insettinge en gebooie terwyl daar geen plek vir die werk van Christus en die Heilige Gees gelaat word nie. Hierdie twee strominge het wel een ding in gemeen – nie langs een van hierdie weë sal die mens tot heiligmaking gebring word en met God die Vader deur Christus versoen word nie. Net so min as wat enige mens dit kan regkry om sy eie saligheid uit homself en versoening vir homself sonder Christus te bewerk, (“Jesus antwoord hom: Ek is die weg en die waarheid en die lewe; niemand kom na die Vader behalwe deur My nie.” - Joh. 14:6) net so min sal ’n mens wat sy rug op gehoorsaamheid aan God en die weg van heiligmaking keer met God versoen word. “Jaag die vrede na met almal, en die heiligmaking, waarsonder niemand die Here sal sien nie;” (Heb. 12:14).
Hierdie saak word eintlik só mooi deur monde van die profeet Jeremia vir ons duidelik gemaak. God stel hier dat Hy met sy volk ’n nuwe verbond sal sluit. En Hy stel ook waarom ’n nuwe verbond nodig is – omdat sy volk die vorige verbond verbreek het. Dit is nie God wat hierdie eerste verbond beëindig het nie, maar die volk het deur hul ongehoorsaamheid aan Hom, deur hul eie onvermoë, hierdie verbond verbreek en tot niet gemaak. En omdat God barmhartig is, sluit Hy met sy volk ’n nuwe verbond. Let mooi op, geliefdes – God sluit ’n nuwe verbond. Hy sê nie dat Hy die wet wat Hy aan hulle gegee het tot niet maak en dat dit nie meer bestaan nie, maar dat die ou verbond tot niet gemaak en daar ’n nuwe verbond tot stand gekom het. In die ou verbond was die wet van God op kliptafels gegraveer en in die verbondsark vir bewaring geplaas. In die nuwe verbond word die wet van God nie op kliptafels gegraveer nie, maar op die tafels van sy volk se hart geskrywe sodat hulle dit in hul harte in bewaring sal hou. “En Ek sal julle ’n nuwe hart gee en ’n nuwe gees in jul binneste gee; en Ek sal die hart van klip uit julle vlees wegneem en julle ’n hart van vlees gee. En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” (Eség. 36:26&27). Lees weer hierdie laaste sinnetjie uit Eség. 36 – “...En Ek sal my Gees in jul binneste gee en sal maak dat julle in my insettinge wandel en my verordeninge onderhou en doen.” In hierdie een sin word albei hierdie teologiese dwalings gelyktydig aangespreek. In die nuwe verbond sal die mens die gawe van die Gees van God ontvang waardeur die mens die gehoorsaamheid aan God sal kan bereik wat in die vlees nie moontlik is nie. En die werk van die Gees in hierdie nuwe verbond is om ons te rig en te versterk om in God se insettinge te wandel en te begeer om sy verordeninge te onderhou en Hom te gehoorsaam.
Ons leer verderuit Psalm 143:10 dat koning Dawid hierdie belangrikheid van die leiding van die Gees asook gehoorsaamheid aan God mooi verstaan het. “Leer my om u welbehae te doen, want U is my God. Laat u goeie Gees my lei in ’n gelyk land.” Paulus se skrywe aan die Korinthiërs stel ook duidelik dat die getuigskrif van die Godvrugtige lewe van die Korinthiërs deur die Gees van God geskryf is. “...omdat julle duidelik ’n brief van Christus is deur ons diens berei, geskrywe nie met ink nie, maar met die Gees van die lewende God; nie op kliptafels nie, maar op die vleestafels van die hart. So ’n vertroue het ons deur Christus by God.” (2 Kor. 3:3&4).
Mag ons ook deur hierdie duidelike onderrigting uit God se Woord ’n gesonde begrip van ons verhouding met Hom, die verbond tussen ons en Hom, vorm. En mag ons met opregte afhanklikheid en krag van die Gees daarna streef om Hom bo alles lief te hê, te gehoorsaam en Hom te behaag.
“MAG die God van die vrede, wat die groot Herder van die skape, naamlik onse Here Jesus Christus, deur die bloed van die ewige testament uit die dode teruggebring het, julle volmaak in elke goeie werk, om sy wil te doen, deur in julle te werk wat welbehaaglik is voor Hom deur Jesus Christus aan wie die heerlikheid toekom tot in alle ewigheid! Amen.” (Heb. 13:20&21).