Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Elke mens moet 'n ideaal koester waarin hy glo en dit met 'n passie nastreef wat hom sal dring om dit te wil bereik. Dit maak nie saak of dit vir ander onbelangrik lyk nie, solank jy glo dat dit vir jou 'n nastrewenswaardige ideaal is. Alleen dan sal jou lewe hier op aarde vir jouself die moeitewerd bly.
ONDER SY KONINGSKAP
Hannes Ollewagen
Luk. 1:26-38
“En kyk, jy sal swanger word en 'n Seun baar, en jy moet Hom Jesus noem.Hy sal groot wees en die Seun van die Allerhoogste genoem word; en die Here God sal aan Hom die troon van sy vader Dawid gee,en Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie.Toe sê Maria vir die engel: Hoe kan dit wees aangesien ek geen man het nie?En die engel antwoord en sê vir haar: Die Heilige Gees sal oor jou kom en die krag van die Allerhoogste sal jou oorskadu. Daarom ook sal die Heilige wat gebore word, Seun van God genoem word.” (:31-35).
En Hy sal koning wees oor die huis van Jakob tot in ewigheid, en aan sy koninkryk sal daar geen einde wees nie. Ek het al baie oor hierdie woorde gewonder. Wanneer ons rondom ons kyk, lyk dit nie asof die koninkryk van die HERE in hierdie wêreld uitgebrei word nie. Inteendeel, dit lyk asof daar soveel aanslae en verleiding van wêreldse dinge is dat die aantal mense wat met die dinge van die HERE bemoeienis maak al minder word. In ons menslikheid raak ons seker met tye benoud dat die koninkryk van onse HERE tot niet sal gaan.
Maar dit sal nie, want Hy het dit met sekerheid gestel dat daar aan sy koninkryk geen einde sal wees nie. En dit beteken nie dat daar nie aanslae teen die koninkryk van die HERE sal wees nie. Hierdie aanslae was reeds sedert die begin van die Skepping daar. Die eerste mense, Adam & Eva, het in ’n goeie verhouding teenoor God gestaan, maar Satan het dit nie so gelaat nie. Die heerskappy en koninkryk van God daar in die tuin van Eden moes aangeval word. En vandaar was dit in elke menslike geslag ook nie anders nie en dit is vandag in ons tyd ook nie anders nie.
Wanneer ons in die geskiedenis terug kyk en sien hoedat die Gees van die HERE in mense se harte van die een geslag na die volgende gewerk het, besef ons egter die wonder waarmee God sy koninkryk in stand hou. Ja, dit duur voort van die een geslag na die volgende geslag. Wanneer ’n formidabele gelowige soos ’n Samuel of ’n Dawid of Paulus sterf, is dit nie die einde van die werk van die Heilige Gees nie. Hy sal in volgende geslagte weer in mense se harte woning maak en so word sy koninkryk voortgesit en sal dit ewig voortduur. Die HERE wil sy koninkryk na die lewe van mense bring. “Kyk, Ek staan by die deur en Ek klop. As iemand my stem hoor en die deur oopmaak, sal Ek ingaan na hom toe en saam met hom maaltyd hou, en hy met My.” (Open. 3:20).
Dit is egter so dat net soos wat die HERE sy koninkrykswerk van een geslag na ’n volgende sal voortsit, so is dit ook dat Satan sy aanslae teen God se koninkryk van die een geslag na die volgende sal voortsit. En Satan sal ook nie nalaat om die koninkryk van God binne my en u lewe te probeer vernietig nie. Nee, hy wil oral waar God se heerskappy en koninkryk is, dit uitwis. En Satan is ’n gedugte vyand. Hy sal ons nie alleen deur versoekings van God probeer afvallig maak nie, maar hy sal ook met mag probeer keer dat ons nie weer met God versoen raak wanneer ons teen Hom gesondig het nie. En of hy dit nou doen deur ons te oortuig dat ons maar in ons sonde kan voortleef en nie die verkeerde in ons lewe hoef te erken, te bely en te laat staan nie en of hy dit nou doen deur ons te oortuig dat ons sonde te groot is en dat God ons nooit daarvoor sal vergewe nie – hy sal met mening hierin ywer. Dit is daarom só belangrik dat ons die oog op Christus gevestig hou- op Hom, die Seun van God, die Heilige van God. Hy wat deur God gestuur is om die volmaakte prys vir ons sonde te betaal, het ook opgevaar na die hemel en sit aan die regterhand van God gaan vanwaar Hy regeer. En Hy tree ook vir ons in voor die Vader. “Wie is dit wat veroordeel? Christus is dit wat gesterf het, ja, meer nog, wat ook opgewek is, wat ook aan die regterhand van God is, wat ook vir ons intree.” (Rom 8:34).
Hoe wonderlik is die werk van onse HERE Jesus Christus nie. Hy wat deur die Heilige Gees wat in ons harte woon, by ons die sondebesef bring. En wanneer ons dan ook ons skuld bely, tree Hy as Middelaar tussen ons en die Vader op om vir ons versoening tussen ons en die Vader te bewerk. Ja, as ’n getroue Hoëpriester bemiddel Hy ons saak voor God. “Daarom kan Hy ook volkome red die wat deur Hom tot God gaan, omdat Hy altyd leef om vir hulle in te tree. Want so 'n hoëpriester was vir ons gepas, een wat heilig, onskuldig, onbesmet, afgeskeie van die sondaars is, en wat hoër as die hemele geword het; wat nie elke dag nodig het, soos die hoëpriesters, om eers vir sy eie sondes offers te bring en dan vir dié van die volk nie. Want dit het Hy net een maal gedoen toe Hy Homself geoffer het.” (Heb. 7:25-27).
Ons moet besef dat die wonder van Christus nie net vir ’n kort rukkie aan die kruis op Gólgota was nie. Sonder om afbreuk te doen aan die wonderlike offer wat Hy daar aan God gebring het, is dit ook nodig om in te sien dat sy werk nie daar opgehou het nie. Die prys vir ons sondes is daar betaal, maar Hy het nie daar opgehou om Hom met ons te bemoei nie. Nee, Hy werk steeds deur sy Gees in ons harte en lewens om versoening tussen God en mens te bring. Hy, die Vredevors, staan ons by om die sonde in ons lewe te bely, te weerstrewe en te laat staan en so ook ons verhouding met die Vader te versoen sodat daar ware vrede tussen ons en Hom mag wees.
Christus het ons op Gólgota met sy bloed duur gekoop en daarom is Gólgota vir ons nie die verskoning wat gebruik word om ons gewete te sus oor die verkeerde wat ons doen nie, maar eerder die wonderlike gebeurtenis wat ons daaraan herinner hoe duur die prys was wat Hy betaal het om ons uit ons sondige lewenswandel los te koop en tot sy koninkryk oor te bring. “...omdat julle weet dat julle nie deur verganklike dinge, silwer of goud, losgekoop is uit julle ydele lewenswandel wat deur die vaders oorgelewer is nie,maar deur die kosbare bloed van Christus, soos van 'n lam sonder gebrek en vlekkeloos,” (1 Pet. 1:18&19).