Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Vir talle mense is SIEN wel GLO; tog glo almal wat sien NIE, want slegs diegene wat bereid is om hulle harte te verander sal glo wat hulle sien. So sal groot getalle siele verlore gaan ten spyte daarvan dat hulle God se wonderwerke aanskou het.
TERUG NG KERK TOE?
Ds A van den Berg
Ek is al baie jare lank leraar van ’n stadsgemeente en het baie mense na die AP Kerk sien kom en gaan. Sommige het vir ’n jaar of twee gebly; ander selfs langer. Die meeste wat die AP Kerk verlaat het, is NG Kerk toe, selfs jong mense wat belydenis van geloof in die AP Kerk afgelê het.
Waarom gebeur dit? Omdat oppervlakkigheid die vloek van ons tyd geword het. Jongmense het ’n drang na die onmiddellike bevrediging van behoeftes. Ook op godsdienstige gebied. Daarom word hulle so maklik na die “gevoels” godsdienste weggelok en veroordeel daarna die AP Kerk se inkleding van eredienste as te dood.
Sardis het die naam gehad dat sy leef, maar was in God se oë dood (Openb.3:1). Wanneer is ’n kerk/gemeente dood?
As dit nie meer die waarheid verkondig en verdedig nie. Van Sardis word gesê dat sy dit wat sy ontvang en gehoor het, nie bewaar het nie (3:3). Sardis het nie die waarheid opgepas nie.’n Kerk/gemeente wat die waarheid nie oppas nie, word prooi van leuens en soos die loot wat die wynstok ontval en doodgaan (Joh.15:4-6). Solank as wat ‘n kerk/gemeente die waarheid verkondig, leef dit, al het dit ’n handjie vol lidmate. As dit leuens begin verkondig, sterf dit, al het dit duisende lidmate.
Die AP Kerk het ’n dure verpligting om die waarheid onverskrokke in ’n wêreld van leuens te verkondig. Ouers moet kinders deeglik daarin onderrig en by hulle ’n liefde vir behoudende volkswaardes kweek. Ouers wat nie keer nie, moenie kla as dinge skeur nie!
Die beste manier om te sien of ‘n stok krom is, is om ‘n reguit een langs dit neer te sit. Sit gerus die AP Kerk langs die NG Kerk neer! Wat maak ’n kerk krom? Leuens. “want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4). Niemand loop reguit op ’n krom pad nie!
Die NG Kerk skuif al hoe verder van die waarheid af weg. Haar bedenklike standpunte oor homoseksualisme, saamblyery, die vrou in die amp en apartheid getuig van ongehoorsaamheid, verval en ’n gebrek aan profetiese visie. Daarbenewens hang die swaard van die Belhar-belydenis, ’n neo-Marxisties georkestreerde geskrif ook nog oor elke NG lidmaat se kop. Geen gelowige durf dit aanvaar nie!
Dis hartseer as jongmense wat in die APK belydenis van geloof afgelê het, die kerk verlaat. Het hulle met hul belydenisaflegging God dan nie belowe om aan die kerk getrou te bly en alle leer wat daarvan afwyk, te verwerp nie? Wat maak hulle met hul belofte? Wat sê hulle vir God? Roep die Woord van God ons dan nie op om ons geloftes te hou nie?
Die NG Kerk se troueloosheid jeens die Boerevolk behoort elke volksgenoot teen die bors te stuit. Die geskiedenis leer dat geen boosheid so gelate verrig word as een wat uit godsdienstige oortuiging geneem word nie. Toe die NG Kerk in die 1980’s deur die Marxistiese versoenings-virus besmet is, het sy aan die volksvyand gedienstig geraak. Gevolglik is sy aandadig aan die onregskepping en chaos wat Suid-Afrika sedert 1994 teister.
Baie NG lidmate is ontrou aan hul eie hart. Hulle weet wat die waarheid is, maar swyg omdat die kerk anders daaroor praat. Sluk en volg is geen oplossing nie, maar getuig eerder van inherente swakheid. Al is daar baie sinonieme vir die waarheid, is daar geen alternatief nie. ’n Leuen word nooit ‘n waarheid omdat baie mense dit glo nie. Nog minder word die waarheid ʼn leuen omdat mense dit verwerp nie
Die NG Kerk het deel van die “opkomende kerke” in die wêreld geword; kerke wat nêrens ’n absolute standpunt inneem nie en met alles gemaklik is hetsy waarheid of leuen. Hulle wil vir almal aanvaarbaar wees en almal onder hul vlerke bymekaar maak. Die gevolg is dat hul uitstalvensters vol is, maar hul geestelike rakke leeg.
Die AP Kerk moet ernstiger teen die lekker kerke van ons tyd waarsku. Die wyse waarop hulle die prediking in die idioom van die dag kleur, maak wel ’n sterk appel op jongmense maar is baie gevaarlik, want sodra die Evangelie van Jesus Christus in ʼn wêreldse idioom verkondig word, word ʼn wêreldse evangelie kort voor lank in ’n Christelike idioom verkondig!
’n Kerk wat die minste na die wêreld lyk, beteken die meeste vir haar volk. Jesus gee nie aan Petrus opdrag om sy skape te vermaak of proefnemings met hulle te doen nie, maar om hulle te laat wei. Die wêreld is honger aan geestelike voedsel omdat dit hol geword het van oppervlakkige, kerklike vermaak.