Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
En nou bly geloof, hoop, liefde – hierdie drie; maar die grootste hiervan is die liefde.
D A N I Ë L (5)
Die Profeet van die Here wat die heidense konings onderrig het
Dr JP Botha
Lees reeks by D A N I Ë L
DIE SKRIF TEEN DIE MUUR
Die Here het die ou Galdese koning nog ‘n geruime tyd toegelaat om oor Babel te regeer voordat hy uiteindelik opgevolg is deur die laaste Galdese koning, Bélsasar. Hierdie koning het egter kortstondig onder spannende omstandighede regeer, want die Meders uit die noorde het die een na die ander verwoede aanval op Babel en sy inwoners geloods. Onder hierdie gevaarlik-wisselende omstandighede het koning Bélsasar besluit om die beste daaruit te haal. Hy het saam met 1 000 van sy amptenare ‘n groot fees by sy paleis in Babel gehou.
Toe almal reeds lekker en vrolik aan die drink was, beveel die koning dat al die goue voorwerpe wat sy voorganger, Nebukadnesar, uit die tempel van die Here in Jerusalem verwyder het, gehaal moes word sodat hy saam met sy vooraanstaande amptenare, sy vroue en sy byvroue daaruit kon drink.
Toe die wyn wat uit die goue bekers vloei, die brassery sy hoogtepunt laat bereik en die menigte besig was om hulle nuttelose afgode te loof en te prys, sien die koning tot sy grootste skrik die vingers van ‘n mens se hand verskyn en die hand begin om regoor die kandelaar op die muur van die koning se paleis te skryf.
Toe die koning sien hoe die hand skryf, het hy meteens bleek geword. Sy knieë het teen mekaar begin klap, want hy het ontsettend bang geword.
Spoedig was die hele byeenkoms in rep en roer, want die koning het geskreeu dat die voorspellers, die sterrekykers en die besweerders gehaal moes word om te verklaar wat daar op die muur geskryf word.
Hy het vir die wyse manne wat om hom saamgedrom het, gesê as enige persoon dit kan lees en verklaar, sal hy hom met koninklike klere laat uitdos, ‘n goue ketting om sy nek hang en hom as die derde persoon in sy koninkryk aanstel.
Niemand van die koning se slimmes kon egter die skrif lees of verklaar wat dit beteken nie.
Toe die jong koning se ma hoor van die debakel waarin die koning en sy amptenare hulle bevind, gaan sy na die saal waar die fees gehou is en sê vir hom: “Moenie jou so ontstel en bang wees nie. Daar is ‘n man in jou koninkryk in wie die heilige gode woon. Hy het insig, begrip en wysheid soos van die gode self. Jou voorganger, Nebukadnesar, het hom aangestel as hoof oor sy towenaars, besweerders en sterrekykers. Sy naam is Daniël. Hy is buitengewoon skerpsinnig en begaafd. Hy kan drome uitlê, raaisels oplos en probleme ontknoop. Laat Daniël kom sodat hy dit kan lees en kan verklaar wat dit beteken.
Die koning het my toe laat kom. Toe ek voor hom staan, sê hy: “Ek verstaan dat die gode in jou woon en dat jy ‘n besondere begrip, insig en wysheid het. My geleerdes en towenaars kan nie die skrif teen die muur verklaar nie. As jy kan lees wat daar gskryf staan en vir my sê wat dit beteken, sal ek vir jou ‘n koning se klere gee, ‘n goue ketting om jou nek hang en jou in die derde posisie in my koninkryk aanstel.”
Ek het die koning toe as volg geantwoord: “U kan maar die geskenke vir u self hou en die beloning vir iemand anders gee. Ek sal nogtans vir die koning lees wat daar geskryf staan en sê wat dit beteken. U is die koning. God die Allerhoogste het die koninkryk, sy grootsheid, sy eer en sy aansien vir u voorganger, Nebukadnesar, gegee. Hy het hom so groot gemaak dat volke, nasies en tale vir hom bang was. Hy het doodgemaak wie hy wou en laat lewe soos hy wou. Hy het aangestel wie hy wou en verneder soos hy lus gekry het.
Toe hy hoogmoedig en verwaand geword het, is hy van sy troon afgesit en sy eer is van hom weggeneem. Hy is van die mense af weggejaag en het soos ‘n dier geword. Hy het tussen die wilde donkies gebly en gras geëet soos ‘n bees. Die dou van die lug het op hom geval, totdat hy erken het dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die wêreld en daaroor aanstel wie Hy wil.
Koning Bélsasar, hoewel u as sy opvolger dit alles geweet het, was u nogtans nie nederig nie. U het u teenoor die Here van die hemele aangestel. U het die bekers uit sy huis laat kom en saam met u amptenare, vroue en byvroue daaruit wyn gedrink. U het heildronke ingestel op afgode wat van silwer, goud, brons, yster hout en klip gemaak is, wat nie eens kan sien of hoor of enigiets weet nie. U het hulle aanbid, en nié die God wat u lewe in sy hand hou en die rigting van u lewe bepaal nie. En u het Hom nie vereer nie.
Daarom het Hy hierdie hand gestuur om dié boodskap te skryf.
“Daar staan geskryf: Mene, mene, tekel ufarsin. Dit beteken: Mene – God het die tyd van u koninkryk afgetel en bring dit nou tot ‘n einde. Tekel – u is op die skaal geweeg en te lig bevind. Peres – u koninkryk word verdeel en vir die Mede en Perse gegee.”
Na hierdie uiters noodlottige en slegte nuus, het Bélsasar nogtans opdrag gegee dat ek ‘n koning se klere moes ontvang, ‘n goue ketting om my nek gehang en derde in rang in die koninkryk aangestel moes word.
Daardie selfde nag nog het die Mediërs uit die noorde Babel binnegeval en verower en koning Bélsasar doodgemaak.
In die leeuhok... vervolg