Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die liefde praat nie groot nie...
D A N I Ë L (4)
Die Profeet van die Here wat die heidense konings onderrig het
Dr JP Botha
Lees reeks by D A N I Ë L
DIE DROOM OOR DIE BOOM
Dit was vir my duidelik dat koning Nebukadnesar baie diep beïndruk was met die onoortreflike mag wat die almagtige God getoon het met die redding van my drie vriende uit die helse vlamme van die vuuroond. Maar ek het ook met jammerte opgemerk dat hy nog nie in volkome geloof hom oorgegee het in aanbidding van ons ware God die Here nie. Daarvoor was hy nog te eiegeregtig en trots op sy eie grootheid en mag. Maar ons liewe Heer se plan om hom tot algehele oorgawe te dwing, sou kort daarna plaasvind. Die Here het weer by wyse van ‘n droom met hom gepraat.
Oudergewoonte het hy weer al wat ‘n waarsêer in die land was, bymekaar geroep en vir hulle die droom vertel, maar hulle kon dit nie uitlê nie.
Toe roep hy my en sê vir my: “Beltsasar, ek het jou na my god Beltsasar vernoem, want die gees van die gode is in jou. Ek sal vir jou vertel wat ek gedroom het, dan moet jy vir my sê wat dit beteken:
“Ek het op my bed gelê en in die middel van die wêreld ‘n hoë boom gesien. Die boom het groot en sterk geword. Dit was naderhand so hoog soos die wolke. Almal op die wêreld kon dit sien. Dit het groen blare gehad en genoeg vrugte gedra dat almal daarvan kon eet. Die diere van die veld het in sy skaduwee gestaan. Die voëls van die lug het daarin nes gemaak. Almal wat leef kon van sy vrugte lewe.
“Terwyl ek nog op my bed lê en droom, het daar ‘n bo-aardse wese uit die hemel uitgekom. Hy het hardop uitgeroep: ‘Kap die boom af! Stroop sy blare af! Skud sy vrugte af! Jaag die diere weg van sy skaduwee! Jaag die voëls uit sy takke! Laat staan net sy stomp en sy wortels tussen die gras in die grond met ‘n band van yster en koper om. Die dou uit die lug moet hom natmaak. Hy moet saam met die diere in die oop veld bly. Laat sy geaardheid word soos dié van ‘n dier. Laat sewe tydperke vir hom verbygaan.’
“Dit was die droom wat ek gehad het, Beltsasar. Jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van hierdie ander sogenaamde slimkoppe kan dit vir my verklaar nie. Ek weet jý kan, want die heilige gode is in jou.”
Ek het so hartseer gevoel toe hy die Here God almagtig vergelyk met ‘n klompie “heilige gode”, maar ek was letterlik skrikbevange toe ek besef wat die werklike betekenis van hierdie unieke droom was. Nebukadnesar het my huiwering bemerk en sê: “Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.”
Ek het toe maar op ‘n omslagtige wyse oor die wrede betekenis van hierdie droom van hom begin praat. Met die doel om die skok oor die betekenis daarvan enigsins te versag: “U Edele, ek wens die droom en sy betekenis was eerder vir u vyande. Die boom wat u gesien groei en grootword het, sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien, met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nesmaak, is u self, koning. U het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde.
“Koning, u het ‘n heilige bo-aardse wese gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ‘n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het.
“Koning, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor die koning ‘n besluit geneem het. U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ‘n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil. Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken dat dit die hemele is wat eintlik regeer.
“O koning, luister tog na my raad. Breek weg van u sondes en doen wat reg is. Los u ongeregtigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ‘n bietjie langer.”
Hy het my nie geantwoord nie en ons het nie weer met mekaar daaroor gepraat nie. Ek het nie geweet of hy my uitleg van sy droom geglo het nie. Hy het egter voortgegaan asof daar niks gebeur het nie.
Sy ongeluksdag het ‘n jaar later aangebreek, onderwyl hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop het. Hy spog toe by homself: “Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou, om ‘n teken te wees van my grootheid.”
Onderwyl hy nog besig was om te praat, kom daar ‘n stem uit die lug: “Koning Nebukadnesar, hier is ‘n aankondiging vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat! Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ‘n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbgaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en hulle aanstel soos Hy wil.”
Die volgende oomblik het dit met koning Nebukadnesar begin gebeur. Mense wat die wanstaltige figuur gewaar het, het waarskynlik gedink dat dit ‘n kranksinnige was en het hom na die veld verdryf. Hy het gras begin eet soos ‘n bees. Snags is hy benat deur die dou van die veld. Sy hare het so lank geword soos ‘n arend se vere en sy naels het soos ‘n voël se kloue geword.
Gedurende die tyd wat die ou groot koning in hierdie gedaante en toestand verkeer het, het ek met groot jammerte in my hart daaraan gedink dat dit vir hom iets verskrikliks moes gewees het om so ’n afgryslike vernedering te ondervind, maar toe besef ek dat hy gladnie bewus was van sy aaklike dierlike toestand, solank as wat dit geduur het nie.
Hy self praat as volg daarvan: “Na hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom geloof wat vir altyd lewe. Ek het Hom geprys wat vir altyd regeer en aan wie se heerskappy daar nooit ‘n ende sal kom nie.”
Ek was verbaas en verheug oor die kennis en geloof wat ons “nuwe” koning Nebukadnesar openbaar het. Hy het vir ons gesê: “Almal wat op die aarde woon, is niks in vergelyking met Hom nie. Hy maak soos Hy wil met dié in die hemel en dié wat op die aarde woon. Niemand kan Hom teëgaan nie. Niemand kan vir Hom sê : Wat doen jy? nie.”
Van sy herstel het hy verder vertel: “Toe ek tot my sinne gekom het, het die posisie van my koningskap, my aansien en my eer ook teruggekom. My raadgewers en amptenare het na my kom soek en ek is weer in my koningskap herstel. My aansien het selfs nog meer geword as vantevore. As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nebukadnesar, die Koning van die hemel. Alles wat Hy doen, is waar. Wat Hy doen, is reg. Almal wat hoogmoedig is, kan Hy verneder.”
Toe ek ons “nuwe” koning so hoor praat, het ek die Heer inniglik gedank vir die uiteindelike redding van sy kosbare siel.
Vervolg...