Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As bekeerdes in Christus verkeer ons elke dag op die gevaarlikste van alle slagvelde waar versoekings ons grootste geveg uitmaak. Boonop is daardie 'ou ek' my verraderlikste vyand. Hoe vermy ek versoekings? 1). Wees met jou hele hart en verstand lief vir die HERE. 2). Fokus weg van jouself na buite met Christus in die senter. 3). Gebruik die nuwe lewe in Christus ten volle – dit kan nooit weer weggevat word nie. 4). Weet en glo dat God jou beskerm en dra sodat jy nie hoef toe te gee aan versoekings nie.
D A N I Ë L (3)
Die Profeet van die Here wat die heidense konings onderrig het
Dr JP Botha
Lees reeks by D A N I Ë L
DIE DRIE MANS IN DIE BRANDENDE OOND
Die volgende snaakse ding wat in Babel plaasgevind het, was toe koning Nebukadnesar besluit het om ‘n reuse beeld van dertig meter hoog en drie meter breed van goud te laat maak. Hy het mos genoeg goud uit die tempel in Jerusalem laat wegdra om so iets aan te vang. Toe hierdie struktuur met skrikwekkende voorkoms voltooi is, het hy hom in die Duravlakte van die provinsie laat oprig. Daarna het hy opdrag gegee aan al sy amptenare, hoofgoewerneurs, goewerneurs, raadgewers, skatmeesters, regters, magistrate en al die amptenare van die provinsies om bymekaar te kom vir die ingebruikneming van die beeld.
Almal wat toe so aangesê is om die inwyding van die beeld by te woon, het opgedaag en voor die beeld gaan staan. ‘n Aankondiger het toe hard uitgeroep: “Luister, alle volke en nasies en tale. Sodra julle die trompet hoor blaas en die fluit, siter, lier, harp en ander blaas- en musiekinstrumente hoor, moet julle neerval en tot die goue beeld bid wat koning Nebukadnesar laat oprig het. Enigeen wat nie neerval om dit te aanbid nie, sal dadelik in ‘n vlammende oond gegooi word.”
Op die oomblik toe almal wat so gereed gestaan het, die geluid van al die musiekinstrumente hoor, het hulle op hul knieë gegaan en die goue beeld aanbid.
Daarna het ‘n paar Galdese mans na Nebukadnesar gegaan en ewe langdradig en skynheilig vir hom gesê: “Mag die koning lank lewe! U Edele het mos ‘n bevel uitgereik dat elkeen wat die geluid van die trompet, fluit, siter, lier, harp of enige ander musiekinstrument hoor, dadelik moet neerval en die goue beeld aanbid. Dié wat dit nie doen nie, sal in die vuuroond gegooi word. Daar is Joodse mans wat nie doen wat die koning beveel het nie. Dit is Sadrag, Mesag en Abednego wat u oor die administrasie van die provinsie van Babel aangestel het. Hulle gee nie eer aan u gode nie en hulle aanbid nie die goue beeld wat u opgerig het nie.”
Nebukadnesar het baie kwaad geword. Die sprankie geloof in my en my vriende se God wat vir hom vertel het wat hy gedroom het en dit verklaar het, het verdwyn toe hy hulle aanspreek: “Sadrag, Mesag en Abednego, is dit waar dat julle nie aan my gode eer wil bewys nie en nie die goue beeld wat ek opgerig het wil aanbid nie? Kyk, ek gee julle nog één keer kans. Luister, as julle die musiek hoor, val dan neer en aanbid die beeld. As julle dit nie doen nie, sal julle onmiddellik in die vlammende oond gegooi word. Watter God sal julle dan uit mý hand kan red?”
Het hy vergeet dat hy vir my gesê het, “Sowaar jou God is die god van alle gode en die Heer van alle konings?”
Sadrag, Mesag en Abednego het die koning geantwoord: “Natuurlik kan ons God ons uit die vuur red en ons uit u hand bevry. Maar selfs al red Hy ons nie, meneer die koning, sal ons nie u gode vereer nie. Ons sal nie die goue beeld wat u gemaak het, aanbid nie.”
Ou koning Nebukadnesar was nou só kwaad vir Sadrag, Mesag en Abednego dat hy in een van die groot oonde wat beskikbaar was, die vuur so kwaai laat stook het dat dit sewemaal so warm as gewoonlik was. Hy het seker gemeen om die drie rebelse manne se liggame onmiddellik te veras, sodra hulle binne in beland.
Toe gee hy ‘n paar van sy soldate bevel om die drie manne vas te bind en so, met klere en al by die oop deur van die gloeiende oond in te slinger. Hulle kon ter nouernood daarin slaag, want hulle is net daar voor die deur doodgebrand deur die versengende hitte wat uitgestraal het.
En my drie vriende, Sadrag, Mesag en Abednego? Hulle stap ongebind en ongedeerd saam met ‘n vierde persoon in die oond rond. Dit is die Engel van die Here! Hulle het later vir my gesê hulle sal enige tyd weer die ongerief van die vlamme verdra, saam met die heerlike geselskap van die Engel.
Koning Nebukadnesar was absoluut verstom toe hy sien wat gebeur. Hy het opgestaan en vra stotterend: “Was dit nie drie mans wat ons vasgebind het en in die vuur gegooi het nie?”
“Ja, beslis, u Majesteit”, het hulle gesê.
“Ek sien dan vier mans in die oond rondloop. Hulle is nie vasgebind nie. Hulle makeer niks. Die vierde een lyk soos ‘n bo-aardse wese.”
Nebukadnesar het nadergestaan aan die deur van die vlammende oond en geroep: “Sadrag, Mesag en Abednego, dienaars van God die Allerhoogste, kom uit en kom hier na my toe.”
My liewe drie vriende het toe uit die vlammende oond uitgestap, onderwyl die amptenare, hoofgoewerneurs, ander goewerneurs en ministers om hulle saamgedrom het. Hulle het gesien dat die vuur geen effek op hulle gehad het nie. Die hare op hulle kop was nie eers geskroei nie. Hulle klere het niks oorgekom nie en hulle het ook nie na rook geruik nie. Die Engel was nie meer daar nie.
Toe praat Nebukadnesar: “Loof Sadrag, Mesag en Abednego se God! Hy het sy Engel gestuur om hulle wat op hom vertrou het, te red. Hulle het die koning se bevel verontagsaam en was bereid om hulle lewens te gee, eerder as om eer te bewys aan enige ander god of enigeen buiten hulle eie God te dien.
“Ek maak nou ‘n wet dat enige volk, nasie of taal wat sonder respek oor Sadrag, Mesag en Abnednego se God praat, in stukke gekap en van hul huise ‘n ashoop gemaak sal word. Daar is geen ander god wat so kan red soos Hy nie!”
Sommer net daar het hy my drie vriende in nog hoër posisies in Babel aangestel.
Die droom oor die boom... vervolg