Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons word nie beter of slegter namate ons ouer word nie. Ons word eerder meer onsself.
D A N I Ë L (1)
Die Profeet van die Here wat die heidense konings onderrig het
Dr JP Botha
Lees reeks by D A N I Ë L
VOORWOORD
Ek is Daniël, ‘n profeet van die Here. Hy het my gebruik om sy Woord te verkondig en te verklaar aan die heidense konings wat Hy toegelaat het om Jerusalem te verower en in te neem.
Ek wil graag hierdie veelbewoë stukkie geskiedenis self aan jou vertel, sodat die wonderlike betekenis daarvan nie verlore gaan nie.
AAN DIE HOF VAN KONING NEBUKADNESAR
Ek was ‘n jong man in 597 vC toe Nebukadnesar Jerusalem ingeneem het. Daarna is die heilige stad sistematies geplunder en beroof van al sy kosbaarhede. Die Galdese koning het van die voorwerpe wat hy uit God se tempel geplunder het, saamgeneem na Babel en dit in die voorraadkamers van sy gode se tempel gaan sit.
Nebukadnesar het sy hoofpaleisamptenaar gevra om al die geletterde, aantreklike, intelligente en gesonde jongmanne in Jerusalem bymekaar te maak en na Babel saam te neem. Hulle moes veral uit koninklike families en vooraanstaandes van die gevange Israeliete wees.
Dis hoe ek in Babel beland het as een van die bevoorregte (?) jonges wat elke dag in die koning se paleis moes gaan diens doen, terwyl ons in die Galdese taal en letterkunde onderrig word en met kos en drank uit die paleis gevoer word. So moes ons drie jaar lank opgelei word, om daarna in die koning se diens te kan staan.
Toe ons klomp nou so “koninklik” aan die gang is, ontdek ek drie van my vriende, Gananja, Misael en Asarja. Hulle het toe reeds nuwe Galdese name gekry: Gananja het Sadrag geword, Misael was Mesag en Hananja het verander in Abednego. Ek ontdek toe dat my naam ook verander het van Daniël na Beltsasar.
Ek en my drie vriende weier toe ten enemale om die koninklike heidense kos waarmee ons gevoer word, te eet. Ek het vir die hoofkelner net groente gevra om te eet en water om te drink, maar hy was bang dat ons na ‘n tyd baie sleg sou lyk en dan sou die koning sy kop laat waai.
Ek vra toe vir ons vier ‘n proeftydperk van tien dae op groente en water. As ons dan slegter lyk as die ander wat koninklike kos kry, kan hy met ons maak wat hy wil.
Nouja, daarna het ons nie net beter gelyk en gevoel as al die ander nie, maar die Here het ons ook met ekstra gawes en wysheid voorsien. Vir my het Hy die vermoë gegee om gesigte en drome te verstaan.
Toe ons opleidingstyd verby is, is al die jongmanne voor koning Nebukadnesar gebring. Tydens die onderhoude is niemand gevind wat my en my drie vriende se gelyke was nie. Hy het bevind dat ons in wat wysheid en insig vereis, tien keer beter was as al sy towenaars en voorspellers.
NEBUKADNESAR SE DROOM
Kort nadat ek en my drie vriende en die meeste van die oulike jongmanne wat saam met ons opgelei is, diens aanvaar het aan die koninklike hof, het daar ‘n ding in Babel gebeur wat al die inwoners gruwelik omgekrap het. Koning Nebukadnesar het in sy derde regeringsjaar een nag ‘n merkwaardige droom gehad wat hom baie ontstel het. Hy kon om die dood nie verder slaap nie en laat net daar in die middel van die nag al sy waarsêers, voorspellers, besweerders, sterrekykers en towenaars kom om vir hom die droom te verklaar. Hy sê vir hulle dat hy ‘n droom gehad het wat hom baie ontstel het en hy wil weet wat die droom beteken.
Die hele klomp “geleerdes” was nog houtgerus oor die hele saak toe hulle segsman ewe liefies vir die koning sê dat hulle graag soos altyd vir hom gaan sê wat die droom beteken, maar hy moet tog net vir hulle vertel wat hy gedroom het.
Koning Nebukadnesar het blykbaar nie veel geloof gehad in sy waarsêers se vermoë om drome uit te lê nie en besluit om hulle hierdie keer tot die uiterste te toets. Hy sê: “As julle nie sowel die droom en sy betekenis vir my kan gee nie, sal julle liggame in stukke gekap word en van julle huise sal mishope gemaak word. Maar as julle dit kan doen, sal ek julle met geskenke beloon en julle vereer. Sê vir my wat ek gedroom het en wat dit beteken.”
Hulle antwoord was: “ Ag, sê net vir ons wat u gedroom het en ons sal dit vir u uitlê.”
“Ja-nee!” sê die koning. “Dis nes ek gedink het. Julle probeer tyd wen. Julle het gesien my besluit staan vas. As julle nie vir my kan sê wat ek gedroom het nie, bly daar net één ding vir julle oor. Julle verkoop aan my leuens met die hoop dat ek my besluit sal verander. Sê vir my wat ek gedroom het, dan sal ek weet dat julle ook kan verklaar wat dit beteken.”
In hulle benoudheid oor die vreeslike lot wat hulle wag, het hulle by die koning gehuil: “Geen mens op aarde, buiten die gode alleen kan sê wat die koning gedroom het nie!”
Koning Nebukadnesar het so woedend geword dat hy opdrag gegee het dat al sy raadgewers doodgemaak moes word. Hy het sommer dadelik so ‘n wet uitgevaardig...
Daar het groot konsternasie in die stad geheers toe die beamptes van die koning na sy gewese raadgewers begin soek om hulle tereg te stel. Hulle het ook van my en my drie vriende gehoor, onder andere dat ons oor spesiale vermoëns beskik.
Toe ek agterkom hulle soek na ons ook, het ek na Arjok, die hoof van die koning se lyfwag gegaan om vas te stel hoe ernstig die dinge teen ons is. Ek het toe na die koning self gegaan en vir hom uitstel gevra om sy droom te verklaar.
Ek het na my huis toe gegaan en my drie vriende, Gananja, Mesael en Asarja vertel hoe sake staan. Hulle moet asseblief saam met my tot die Here bid en pleit vir ‘n oplossing oor die raaisel oor wat koning Nebukadnesar gedroom het, sodat ons nie saam met die res van die raadgewers in Babel doodgemaak word nie.
Die Here gee die oplossing van die droom aan Daniël...vervolg