Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons is tog so besorg oor ons kinders, maar ons doen ook soms groot skade daarmee. Ons kinders is nie óns kinders nie; hulle behoort aan God – ons moet hulle ons liefde gee en hulle liggame huisves maar nie hulle siele nie, dit behoort aan God. Ons moet ook nie probeer om hulle te maak soos ons is nie want die lewe beweeg nie agteruit nie. Vertrou hulle net aan God toe terwyl julle hulle in liefde versorg.
WANDEL MET GOD (6) (SLOT)
Ds A van den Berg
Lees reeks by Wandel met God
Die beste ding om te doen
“En nou Israel, wat eis die Here jou God van jou as net om die Here jou God te vrees, in al sy weë te wandel en Hom lief te hê en die Here jou God te dien met jou hele hart en met jou hele siel, om te hou die gebooie van die Here en sy insettinge wat ek jou vandag beveel, dat dit met jou goed kan gaan? (Deut.10:12,13).
Om met God te wandel, gee aan die lewe sin. Die teksverse noem die wortel en die vrug daarvan. Die wortel is die eerbied en liefde vir God. Geen mens sal Hom volg as hy nie eerbied en liefde vir Hom het nie. Dis die wortel (begin) van wandel met God – eerbied en liefde. Die vrug daarvan is dat dit met jou goed sal gaan. Jy sal nie altyd sonskyn in jou lewe hê nie. Jy sal ook onweer ervaar. Maar in sulke tye versterk God jou om jou las blymoedig te dra want Hy is by jou. “As jy deur die water gaan, is Ek by jou....” (Jes.43:2).
Die kerklui in die tyd van Jesus was grootliks op uiterlike vertoon ingestel; openbare gebede, brandoffers, slagoffers, tempelbesoeke ens. Hulle was baie godsdienstig, maar nie godsvrugtig nie. Daarom het Jesus soms op seer tone getrap! Hulle het geweet wat om te doen, maar dit nagelaat. Luister wat sê een van hulle aan Jesus: “en om Hom lief te hê uit die hele hart en uit die hele verstand en uit die hele siel en uit die hele krag....is meer as al die brandoffers en die slagoffers” (Mark.12:33). Hy weet baie duidelik wat om te doen, maar laat dit na!
Die godsdienshuigelaars kon al die uiterlike dinge naboots; kerk toe gaan, offers bring, feeste vier ens. Een ding kon hulle nie naboots nie – om vrug te dra. Hulle kon die wortel naboots (eerbied en liefde vir God), maar nie die vrug nie! Daarom was hul godsdiens ʼn gruwel vir God. Hulle wou nie met Hom wandel nie. As jy nie bereid is om met God te wandel nie, mors jy jou tyd om kerk toe te gaan, Bybel te lees en te bid. Jy kan nie daardeur krediete vir die ewigheid opbou nie!
God roep gelowiges op om vrug te dra. Waarom? Om Hom te verheerlik. “Hierin is my Vader verheerlik, dat julle veel vrug dra...” (Joh.15:8). Ons kan wonderlike dinge in die lewe vermag. Die grootste en heerlikste is en bly die verheerliking van God: “Laat alles was asem het, die Here loof! Halleluja!” (Ps.150:6). Jesus gee aan gelowiges ʼn goue reël: “Laat julle lig so skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle vader wat in die hemele is, verheerlik” (Mt.5:16). Om met God te wandel, is ʼn heilige plig!
Wie tot bekering kom en met God begin wandel, val die oog op. Mense is van nature nuuskierig en wil weet wat in mense se lewe gebeur. Daarom word God verheerlik as so ʼn mens praat. Hoe is God nie deur Paulus se bekering in Damaskus verheerlik nie! Om met God te wandel, is om Hom te verheerlik.
Dis ongelukkig nie in ons natuur om met God te wandel nie. Die gedagte stoot ons eerder af. Net die Heilige Gees oorreed ons om met God te wandel. Hy verander ons gedagte- en lewensgang om God te wil volg. Let wel: wil volg.
As ons met God wandel, aanvaar ons dat Hy ʼn regverdige God is en ons lewe bepaal. As dit my lot is om op stoflike gebied swaar te kry, berus ek my daarby want Hy het ʼn doel daarmee. As ek ryk was, sou ek Hom miskien nie in my lewe gesoek het nie en soos die ryk man van Luk.16 ongered gesterf het. Liewer geestelik sterk en stoflik arm as andersom! “Want wat baat dit ʼn mens as hy die hele wêreld win, maar aan sy siel skade ly? Of wat sal ʼn mens gee as losprys vir sy siel?” (Mt.16:26).
Aardse stryd bring dikwels geestelike rykdom mee. Die gelowiges in Thessalonika het dit beleef: “sodat ons self in die gemeente van God oor julle roem vanweë julle volharding en geloof onder al julle vervolginge en die verdrukkinge wat julle verduur – ʼn teken van die regverdige oordeel van God, dat julle die koninkryk van God waardig geag mag word....” (2 Thes.1:4,5).
Om met God te wandel, behaag God. Ons doen graag dinge om mense wat ons liefhet te behaag. En dis lekker! Ons kan God ook behaag. Dit behoort ons lewensdoel te wees. En om Hom te behaag, moet ons opreg en nederig voor Hom wandel. God het nederige mense lief, maar Hy haat hoogmoediges. “God weerstaan die hoogmoediges, maar aan die nederiges gee Hy genade” (Jak.4:6).
Hoogmoedigheid is ʼn lelike ding. Geestelike hoogmoedigheid nog leliker! Let op die hoogmoed by sommige kerklui in die tyd van Christus. Hy vertel ʼn gelykenis daaroor – diè van die Fariseër en die tollenaar. Hulle heiligheid het hul opgeblase gemaak en grootkop laat kry. Wat sê die Fariseër in werklikheid vir die tollenaar? “Staan weg van my af, want ek is heiliger as jy!” Al wat die tollenaar op pleit, is genade. En hy ontvang dit!
Om met God te wandel, moet ons onsself kruisig. Jesus is die volmaakte voorbeeld hiervan. Wanneer Sagaria die koms van die Messias voorspel, skets hy Hom as ʼn nederige koning. In Mt.11:29 sê Jesus: “Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele”
Paulus dring by die gelowiges in Filippi aan om Jesus se voorbeeld na te volg: “Want hierdie gesindheid moet in julle wees wat ook in Christus Jesus was. Hy, wat in die gestalte van God was, het dit geen roof geag om aan God gelyk te wees nie, maar het Homself ontledig deur die gestalte van ʼn dienskneg aan te neem en aan die mense gelyk geword; en in gedaante gevind as ʼn mens, het Hy Homself verneder deur gehoorsaam te word tot die dood toe, ja, die dood van die kruis” (Fil.2:5-8).
Waarvoor leef jy? Om stoflike dinge te versamel? Wat kan jy na jou dood daarmee maak? Niks! Die hoofdoel van die meeste mense se lewe, is om geld te maak. Dis al waaroor hulle kan dink en praat. Ander wil weer so hoog as moontlik teen die gewildheidleer uitklim. Dit vat baie tyd en moeite. Dis ydelheid en op die ou einde alles tevergeefs!
Waarom spandeer die mens soveel tyd en moeite aan dinge wat geen ewigheidwaarde het nie? Is dit nie beter om met God te wandel nie? Al hierdie ander dinge se waarde hou summier by die dood op. Nie die wandel met God nie. Dan begin die waarde eers! Jy kan met jou lewe niks beter doen as om met God te wandel nie!
Amen!