Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie is die mense wat die tekens van die tye, ook van dié tye waarin ons nou leef, duidelik raaksien en akkuraat verstaan? In Mt 16 sê Jesus sommer reguit dat 'n slegte en owerspelige geslag tevergeefs sal soek na tekens maar dat dit nie aan hom gegee sal word nie. Dus gee die HERE self aan mense hierdie insig – aan wie dan? Net aan diegene wie hulle harte op Hom rig, met Hom 'n oop verhouding het – aan hulle sal Hy die wysheid gee om betyds te weet wat om te doen in elke situasie.
WANDEL MET GOD (3)
Ds A van den Berg
Lees reeks by Wandel met God
God sien alles raak
“Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ʼn weg is van smart, en lei my op die ewige weg” (Ps.139 vers 23,24).
In die lied From a Distance sê die skrywer: “God is watching us from a distance” Dis baie waar. Niks ontglip sy oog nie. God weet van alles in ons lewe; ook die dinge wat ons met niemand deel nie. Hy ken ons soos ons is!
Geen Skrifgedeelte skets God se alomteenwoordigheid so treffend soos Ps.139 nie. Om met God te wandel, is om te weet dat Hy alles sien en daarmee rekening te hou. Ons kan nie, soos Adam en Eva uitgevind het, vir God probeer wegkruip nie. “En daar is geen skepsel onsigbaar voor Hom nie, maar alles is oop en bloot voor die oë van Hom met wie ons te doen het” (Heb.4:13).
In Ps.139 sê koning Dawid dat mense nie eens die donkerte kan gebruik om vir God weg te kruip nie. Die donkerste nag is vir God soos helder daglig. Ons bely graag die alomteenwoordigheid van God, maar getuig ons lewens daarvan? Baie van ons leef asof ons vir Hom kan wegkruip!
Om met God te wandel, is eintlik baie gerusstellend. As ek my oog op God hou, hou Hy sy oog op my. Hy sê vir Dawid: “Ek wil jou onderrig en jou leer aangaande die weg wat jy moet gaan; Ek wil raad gee; my oog sal op jou wees” (Ps.32:8). Wat wil ʼn mens meer hê? Dis hoe ons met God moet wandel; met die wete dat Hy vanuit die hemel na ons kyk - From a Distance.
Waarom kyk God na ons? Omdat Hy, soos ʼn goeie vader in die doen en late van sy kinders belangstel. Hy stel in ons lewensrigting belang en wil dat ons reg loop. Daarvoor het ons sy raad nodig. Sal ʼn kind wat onder die wakende oog van sy vader is en bang is hy verdwaal hom nie na die regte pad vra nie? God wil hê dat ons Hom moet vra omdat Hy die salige lewenspad ken. “Die oë van die Here bewaar kennis...” (Spr.22:12). En dis wat koning Dawid in Ps. 139 vra (lees teksverse).
Nog ʼn rede waarom God in ons doen en late belangstel, is omdat Hy ons van lelike dinge wil bewaar. “Wyk af van wat verkeerd is, en doen wat goed is; soek die vrede en jaag dit na” (Ps.34:15). Salomo sê in Spr.3 dat as ons God in al ons weë ken, Hy ons paaie gelyk maak. By geleentheid het koning Asa van Juda teen die wense van God ʼn bondgenootskap met die koning van Aram aangegaan waarna ʼn profeet hom ernstig berispe het: “...want die Here – sy oë deurloop die hele aarde om diegene kragtig te steun wie se hart onverdeeld op Hom gerig is..” (2 Kron.16:9).
ʼn Verdere rede waarom God in ons lewensweg belangstel, is om ons gehoorsaamheid te toets. Wandel ons werklik gehoorsaam met Hom? Wanneer Christus die kerk se geloofsgehoorsaamheid toets, sê Johannes dat Hy oë soos van vuur het. (Openb.1:14). Hy skroom nie om vir hulle te sê: “Ek ken jou werke” (Openb.2:2) of “Ek het dit teen jou” (:4) nie. God weet wat agter elke masker van godsdienstige vertoon skuil. Hy weet van alles! Daarom moet ons des te meer opreg met Hom wandel.
Die skrywer van die Hebreërbrief waarsku dat God ʼn mens met ʼn maskergodsdiens straf: “Daarom, omdat ons ʼn onwankelbare koninkryk ontvang, laat ons dankbaar wees, en so God welbehaaglik dien met eerbied en vrees. Want onse God is ʼn verterende vuur” (Heb.12:28,29).
Kyk hoe voorbeeldig tree mense nie voor konings en ander aardse heersers op nie! Sien hulle wat hier diep binne-in ons aangaan? Beslis nie! Waarom tart mense dan vir God wat alles raaksien? Daar is net een antwoord: Sulke mense glo nie werklik in God nie! Hulle sê maar net so. Dis alles uiterlike vertoon.
Esegiël kla oor die mense van sy tyd wat die kerk in groot getalle bywoon, maar hulle doen nie wat God vra nie: “En hulle kom na jou toe soos ʼn volk saamstroom ....en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklaringe met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan” (Eseg.33:31).
Waarom wandel ons met God? Uit vrees vir oordeel? Is jy so bang vir die hel dat jy jou gedwonge voel om met God te wandel? Nee, ons wandel met God eerder met vreugde. Ons is immers met koorde van liefde aan Hom verbind, sê die Bybel. As jy teen jou sin gedwing word om ʼn pad met iemand te loop, raak jy later sat daarvoor. Elke treë is vermoeiend. Jou hele wese beur daarvan weg. As die geloofspad nie ʼn lus is nie, word dit ʼn las. So ʼn mens kan nie mos nie met God wandel nie!
Baie kerkgangers oorweeg dit nie eens om met God te wandel nie, omdat hulle die vreugde daarvan nie insien nie. Dis eerder pretbederwend. Waarom gaan hulle dan kerk toe? Hulle vind iets anders aanloklik in die gemeente. Miskien die leraar of gesellige atmosfeer. Feit bly staan dat iets anders as Jesus hulle lok. Luister wat sê Christus oor Johannes die Doper se gewildheid onder baie Jode: “Hy was ʼn lamp wat brand en skyn, en julle was gewillig om julle vir ʼn tyd in sy lig te verbly” (Joh.5:35).
Esegiël was net so gewild: “En hulle kom na jou toe soos ʼn volk saamstroom en sit voor jou as my volk en hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie; want hulle maak liefdesverklarings met hulle mond, maar hulle hart gaan agter hulle onregverdige wins aan. En kyk, jy is vir hulle soos ʼn minnelied, soos een skoon van stem, wat goed op die snare speel: hulle hoor jou woorde, maar hulle doen dit nie” (Eseg.33:31,32). Wee die mens wat hom in die gemeente, die leraar of enigiets anders as God verlustig. Ons wandel met niemand anders as met Hom nie!
Waarom sal mense hul in Christus verlustig? Omdat God daarvan hou: “...verlustig jou in die Here; dan sal Hy jou gee die begeertes van jou hart” (Ps.37:4). Wanneer ʼn gelowige hom ten doel stel om sy lewe op God te rig, met Hom te praat en selfs soos ʼn Jakob van ouds met Hom te worstel, wandel hy met God. God is nie die Een wat ons Sondae in die kerk ontmoet en tot volgende Sondag daar agterlaat nie. Hy is ook van Maandag tot Saterdag ʼn werklikheid. Hy is elke sekonde by sy kinders.
As ek gedwing was om God te volg, sou godsdiens nie lekker wees nie, maar eerder moeitevol, uitputtend en ondraaglik. God het niemand die hemel in ruil vir godsdienstige moeite en opofferings gegee nie! Formele godsdiensbeoefening en die uitvoer van sekere pligte skiet ver tekort van ʼn wandel met God. Dit gaan om die Here met jou hele hart, siel en verstand lief te hê. As jy nie daarvoor kans sien nie, moet jy maar liewer los!
God geniet dit as gelowiges met Hom wandel. Hy leer ons wonderlike dinge. Selfs dinge wat vir ongelowiges nie sin maak nie. Hy leer ons om nie net ons dierbares lief te hê nie, maar ook ons vyande. Hy leer ons om nie net ʼn weersin in die weë van die goddeloses te hê nie, maar ook in ons eie sonde. Hy leer ons nie net om niemand seer te maak nie, maar ook om goed te doen. Hy leer ons heilige te leef omdat Hy alles raaksien!