Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hoe ouer mens word, hoe meer besef jy dat die ouderdom sinvol en ryk kan wees. Dat jy meer ervaring en meer wysheid het om aan ander deur te gee, dat jy meer tyd het om dinge te doen wat jy nog altyd graag wou doen. En boweal, jy het meer tyd om te bid vir almal wat jy liefhet.
DIE REIS NA EGIPTE
BYBELVERHALE VIR JONG KINDERS (6)
Lees almal Bybelverhale vir jong kinders
Jacqueline Sibley
Wanneer 'n nuwe baba gebore word kyk sy ma mooi na hom, nie waar nie? Sy gee vir hom kos, was hom en versorg hom mooi.
Toe Jesus gebore is het Maria ook mooi na Hom gekyk. God het geweet dat baie mense bly was omdat Jesus gebore is. Maria en Josef was baie bly. Simeon en Anna was bly. Die slim manne was ook baie bly. Maar God het geweet dat daar een man was wat nie bly was nie. Koning Herodes was nie bly nie.
Koning Herodes was kwaad toe die slim manne vir hom vertel dat 'n nuwe Koning gebore is. Hy het gedink: 'Ek is die koning, ek wil nie 'n nuwe koning hê nie.' Hy was bang dat hy dan nie meer die koning sal wees nie.
Daarom het hy vir die slim manne gesê: "Ek wil hê julle moet na Betlehem gaan om die nuwe Koning op te soek. Dan moet julle vir my kom vertel waar Hy is sodat ek Hom ook kan sien."Hy wou Jesus nie net sien, hy wou Hom doodmaak. Maar God sal nie toelaat dat koning Herodes vir Jesus doodmaak nie.
Nadat die slim manne Jesus gesien en sy presente vir Hom gegee het, sê hulle: "Ons moet teruggaan na koning Herodes. Ons moet vir hom vertel waar die nuwe Koning is." Hulle weet nie dat koning Herodes vir Jesus wil doodmaak nie. Maar God sorg vir Jesus.
Daardie nag droom die slim manne dat God vir hulle sê: "Moenie teruggaan na koning Herodes nie. Neem 'n ander pad huistoe." Hulle luister en gaan nie terug na Herodes nie.
Koning Herodes weet nie dat die slim manne reguit huistoe gegaan het nie. Hy sit in sy paleis en wag en wag. Een dag gaan verby. Twee dae gaan verby. Drie dae gaan verby. Vier... vyf... ses dae gaan verby. Toe word koning Herodes moeg om te wag. Hy is baie kwaad. "Waar is daardie manne?" skreeu hy. "Waarom het hulle nie vir my kom vertel waar die Baba is nie?" Hy word kwater en kwater.
God het geweet dat koning Herodes baie kwaad sal wees. Maar God sorg dat Jesus veilig is. Nadat die slim manne huistoe gegaan het kry Josef ook 'n droom.
In die droom praat 'n engel met hom. Die engel sê: "Staan op Josef. Neem vir Baba Jesus en Maria na Egipte. Koning Herodes wil vir Jesus doodmaak."
Josef word wakker. Dit is in die middel van die nag. Alles is nog donker. Maar dadelik maak hy vir Maria wakker. Hy sê: "Word wakker Maria. 'n Engel het vir my gesê om Jesus na Egipte te neem."
Haastig staan Maria op en hulle vertrek, al is dit nog donker. Maria ry op die donkie. Sy hou Jesus versigtig in haar arms vas. Josef loop langs haar. Klip-klop, klip-klop, klink die donkie se hoewe.
Later kom die son op en dit is dag. Maria en Josef is baie moeg maar hulle wil nie rus nie. Die hele dag lank loop hulle verder. Toe die son ondergaan kom hulle by 'n huis waar baie mense kan bly. "Kom ons bly vannag hier," sê Maria. Josef stem dadelik in.
Die volgende môre staan hulle vroeg op. Hulle eet net en gaan dan weer verder. Hulle loop daardie hele dag en die volgende dag, en die volgende een. Bedags loop hulle en snags slaap hulle in 'n huis langs die pad.
Eindelik kom hulle in Egipte aan. Hulle weet dat Jesus daar veilig is. God sorg vir Hom.
En die hele tyd is koning Herodes in sy paleis. Hy is nog baie kwaad. Hy laat roep sy soldate. Hy sê: "Daardie slim manne het nie teruggekom om vir my te vertel waar die nuwe Koning is nie. Julle moet Hom nou vir my gaan soek." Die soldate gaan toe na Betlehem. Hulle soek en soek, maar kan Jesus nêrens kry nie. Hulle was te laat!
Jesus was veilig in Egipte waar Hy saam met Maria en Josef gebly het totdat koning Herodes dood is. Hulle het geweet dat Jesus daar sou veilig wees. God sou vir Hom sorg.
GEBED
Dankie God, dat U vir Jesus gesorg het. Dankie dat Herodes Hom nie kon kry om dood te maak nie. Help my om Hom altyd beter te leer ken.
AMEN
Tuis in Nasaret... vervolg