Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Christene is mense wat van die naglewe van sonde oorgegaan het na 'n lewe van lig in die HERE. Maar nou moet hulle ook lewe soos mense van die lig – dit bring mee om elke ding in jou lewe te ondersoek, of dit reg voor God is, of nie.
JOSEF (7) SLOT
Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red
Dr JP Botha
Lees reeks by JOSEF
JOSEF SE REGERING TYDENS DIE HONGERSNOOD
Intussen het die sewe jaar van hongersnood wat op die volop tyd gevolg het, die wêreld kwaai geknou. Die gesaaides het keer op keer in Egipte en Kanaän misluk. Ek het baie geld ingesamel met die verkoop van graan in Egipte. Farao se skatkamers het vol geword. Maar toe die mense se geld op was, het hulle by my kom pleit vir kos. Ek sê toe hulle kan dan vee gee in ruil vir kos. Hulle het toe hulle perde, kleinvee, grootvee en donkies gegee in ruil vir genoeg kos vir daardie jaar.
Die volgende jaar kom hulle weer en sê: "Ons geld is op en ons diere behoort nou aan u. Ons het nog net onsself en ons landerye, in ruil vir kos. Gee asseblief vir ons saad dat ons nie van honger doodgaan nie."
Op hierdie manier het ek die hele Egipte vir Farao gekoop. Al die Egiptenaars het hulle landerye verkoop vir geld om kos te koop. Dit het Farao se eiendom geword. Hy het toe al die inwoners na die stede toe verskuif.
Ek sê toe vir die mense: "Kyk, ek het julle en julle landerye vir Farao gekoop. Ek sal nou vir julle saad gee om te plant. Wanneer julle oes, moet een vyfde Farao s'n wees. Julle kan vier vyfdes vir julle self hou en vir volgende jaar gebruik as kos vir julle en julle mense." Ek het toe vir die hele Egipte hierdie bepaling gemaak. Die bevolking was hoogs in hulle skik daarmee. Hulle was selfs gewillig om Farao se slawe te wees, net so lank as wat hulle nie van honger sou sterf nie.
JAKOB WIL NIE IN EGIPTE BEGRAWE WORD NIE
My vader Jakob se afstammelinge, die Israeliete, het hulle in die Gosenstreek gevestig en daar vooruit geboer. Die Here het gesorg dat alles met hulle goed gaan. Hulle het floreer en hulle getalle het vinnig toegeneem. Nadat Jakob in Egipte aangekom het, het hy nog 17 jaar gelewe en was dus 147 jaar oud by sy afsterwe.
Toe hy voel sy dae word min, laat hy my roep en sê: "Bewys my 'n laaste guns: Belowe my met 'n eed dat jy goed sal wees vir my en my nie in Egipte sal begrawe nie. Wanneer ek sterf, neem my liggaam uit Egipte en begrawe my by my voorvaders." Ek belowe toe om dit te doen, maar my vader was met niks minder as 'n eed tevrede nie. Daarop het hy in dankbaarheid by die koppenend van die bed gebuig.
JAKOB SEËN MANASSE EN EFRAIM
My ou vader se gesondheid het daarna vinnig agteruit gegaan. Toe ek dit verneem, het ek my twee seuns, Manasse en Efraim, geneem en hom gaan besoek. Toe ons by hom aankom, het hy met al sy beskikbare kragte regop gaan sit om ons te kan groet. Hy het ons vertel dat die Here aan hom gesê het dat Hy hom tot baie nasies sal maak. "Hierdie land Kanaän gee ek vir jou en jou nageslag as eiendom vir altyd. Jou twee seuns, Manasse en Efraim, neem ek aan as my eie. Jou kinders wat na hulle gebore word, is jou eie. Maar mag die Here hierdie twee seuns seën en mag hulle 'n groot nasie word."
Ek sien toe hy sit met sy regterhand op Efraim se kop. Toe tel ek die sy hand op en sit dit op Manasse se kop en sê: "Nie so nie Pa. Die een daar anderkant is die oudste. Sit u regerhand op sy kop."
Maar my pa het geweier. "Ek weet, my seun, ek weet. Manasse sal ook 'n groot nasie word, maar sy jonger broer sal magtiger wees. Sy nageslag sal 'n magtige nasie word!" Hy het hulle verder geseën met die woorde: "Die Israeliete sal julle name gebruik om mekaar seën toe te wens. Hulle sal sê: "Mag God jou so voorspoedig maak soos vir Efraim en Manasse."
Hy sê toe verder nog vir my: "Ek is op die punt om te sterf. Maar God sal met julle wees. Hy sal julle terugbring Kanaän toe, na die land van ons voorouers. Vir jou laat ek iets meer na as vir jou broers. Dis die grond wat ek met swaard en pyl en boog van die Amoriete verower het."
Daarna het hy nog krag gehad om al sy seuns bymekaar te roep en vir ons te vertel wat in die toekoms met ons sal gebeur. Elkeen van ons twaalf seuns het 'n seëning ontvang wat vir hom toepaslik was.
JAKOB SE DOOD EN BEGFRAFNIS
Toe my ou vader Jakob voel die dood kom baie nader, sê hy vir my: "Ek gaan binnekort sterf. Begrawe my by my pa en oupa in die grot van Magpela." Toe ek sien hy sterf, het ek teen sy gesig geval en gehuil en hom geseën.
Ek het my dokters opdrag gegee om pa se liggaam te balsem. Dit het 40 dae geneem. Die hele Egipte het 10 dae lank oor hom gerou.
Daarna het Farao toegelaat dat ek my eed aan my pa nakom. 'n Groot aantal mense het saam met my na Kanaän gereis. Ons het hom in die grot wat Abraham as 'n permanente begraafplek gekoop het, die grot van Magpela, weggelê.
EK STEL MY BROERS GERUS
Na my pa se dood het my broers bang geword. Hulle het gedink ek gaan hulle terugbetaal vir al die kwaad wat hulle my aangedoen het. Hulle stuur toe vir my 'n boodskap wat lui dat voordat my pa gesterf het, hy hulle beveel het om vir my te sê: "Vergewe jou broers tog vir die groot kwaad wat hulle jou aangedoen het. Ons is dienaars van die God van jou pa en ons pleit dat jy ons sal vergewe. Hierdie boodskap het my hartseer gemaak. Onderwyl ek sit en huil, kom val hulle voor my neer en sê: "Ons sal u slawe wees!"
Ek sê toe: "Moenie vir my bang wees nie. Alles moes net so gebeur dat ek in my hoë pos baie mense se lewens kon red. Moenie bang wees nie. Ek sal self vir julle en julle gesinne sorg." Dit het hulle gerus gestel.
Toe ek 110 jaar oud was, het ek vir hulle gesê die Here sal hulle weer terugneem na Kanaän.
Hulle moes toe 'n eed voor my aflê dat hulle my liggaam sal saamneem wanneer hulle weer na die land van ons herkoms sou terugkeer. Hulle dit gedoen.