Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons moet ophou wegskram oor ons liefde vir God; selfs val jy in mense se oë oor jou liefde vir God, sal jy soos 'n ster verrys - veral dan!
JOSEF (6)
Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red
Dr JP Botha
Lees reeks by JOSEF
EK MAAK MYSELF BEKEND
Toe ek so staan en luister na Juda se hartroerende pleitredes om vergiffenis vir alles wat hulle jare gelede teenoor my misdryf het, het ek hulle almal meteens baie jammer gekry en gedink dat as die Here hulle al die sondes van destyds sal vergewe, waarom sal ek dan nie ook alles wat hulle aan my gedoen het, vergewe nie? Toe skiet my gemoed my heeltemal vol en omdat ek nie graag voor die Egiptenaars in trane wou uitbars nie, het ek hulle gevra om die vertrek te verlaat en deur my trane heen na my elf broers voor my gekyk en gesnik: "Ek is Josef. Leef Pa nog?"
Hulle het my stom aangekyk en was baie bang. Ek roep hulle toe nader en sê toe weer: "Ek is Josef. Leef Pa nog?” Maar my broers was stomgeslaan, want hulle het baie bang geword. “Kom na my toe”, sê ek. Hulle kom toe nader. Ek sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. Maar moenie julle self verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word. Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie. God het my hierheen gestuur om julle en julle gesinne in die lewe te hou sodat julle ‘n groot nasie kan word. Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte.
Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik oor hierheen! Pa kan in die land Gosen woon sodat pa naby my kan wees saam met pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. Ek sal vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.
Ek sê verder vir hulle: "Julle kan nou self sien en Benjamin, jy kan sien dit is regtig ek, julle broer Josef. Vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik na my toe."
Ek het Benjamin gegryp en omhels en daarna het ek elkeen van my broers aan my hart gedruk onderwyl ons vreugdetrane vryelik vloei. Toe eers het hulle werklik tot verhaal begin kom en met gemengde gevoelens besef en ontdek dat die strenge onderkoning van Egipte niemand anders as die lankal doodgewaande ou Josef die dromertjie is nie. Wat gaan hy nou met ons doen, het hulle seker gewonder. Maar gou het die skrik verdwyn en ons trane was die tekens van ons blye weersiens.
FARAO NOOI JAKOB NA EGIPTE
Toe Farao hoor dat die elf manne my broers is, laat weet hy vir my: "Stuur hulle dadelik Kanaän toe om jou pa en hulle gesinne te gaan haal. Farao gee die beste deel van Egipte aan hulle. Stuur waens saam met hulle om hul vroue en gesinne hiernatoe te bring. Hulle moenie bekommerd wees oor die besittings wat hulle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan hulle."
Ek het toe nuwe waens verskaf en genoeg voorrade vir die reis gegee. Ek het vir elkeen van my broers nuwe klere gegee, maar vir Benjamin het ek vyf stelle klere gegee en 300 stukke silwer. Vir my pa het ek tien donkies belaai met die beste dinge uit Egipte. Ek het ook tien donkiemerries belaai met graan en voedsel as padkos vir my pa vir sy verhuising hiernatoe. Ek het vir my broers gesê ek is haastig, hulle moet nou ry en hulle moet tog nie op die pad bang word nie.
Daar aangekom, sê hulle vir my pa dat ek, Josef, lewe en die heerser van die hele Egipte is. Hy was oorbluf oor die nuus en kon dit net nie glo nie. Maar toe hy die waens sien en die boodskappe hoor wat ek vir hom gestuur het, het hy gesê: "Dit moet waar wees. My seun Josef lewe regtig! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterf."
Jakob het eers met al sy besittings tot by Berseba verhuis. Daar het hy offers aan God gebring. Die Here het ook in 'n visioen hier met hom gepraat en gesê: "Moenie bang wees om Egipte toe te gaan nie, want Ek sal jou daar tot 'n groot nasie maak. Ek gaan saam met jou Egipte toe, maar Ek sal jou nageslag weer terugbring. Jy sal in Egipte sterf en Josef sal by jou sterfbed wees."
Jakob se seuns het toe hulle pa, hulle kinders en hulle vroue op die waens gelaai en ook hulle lewende hawe wat hulle in Kanaän bymekaar gemaak het asook ook hul ander besittings, en daarmee in Egipte aangekom. In totaal was daar 70 lede van Jakob se familie buiten die vroue en kinders, wat met die waens van Kanaän na Bethlehem verhuis het. Farao het die mooi en vrugbare landstreek Gosen vir die Israeliete gegee om in te woon.
Nadat pa Jakob-hulle daar aangekom het, het ek my wa laat inspan en daarheen gery om my pa te ontmoet. Toe ek by hom kom, het ek my pa omhels en lank op sy skouer gestaan en huil. Toe sê my pa vir my: "Nou kan ek maar sterf, want ek het jou met my eie oë gesien en weet nou dat jy nog lewe."
Daarna het ek na die farao toe gegaan om hom te vertel van my pa en broers se aankoms. Ek het vyf van my broers saamgeneem en aan Farao voorgestel. Hulle het op sy navraag vir hom gesê dat hulle veeboere is. Hy was in sy skik daarmee en het vir hulle gesê hulle kan dan ook sommer 'n ogie oor sy kuddes hou.
Ek het ook my pa na die farao gebring. Toe my pa hom sien, het hy hom geseën. Farao vra toe hoe oud my pa is. "Ek lewe al 130 jaar as 'n vreemdeling. My voorvaders het ouer geword, maar my lewe is vol swaarkry."
Ek het die beste deel van Egipte, die land van Rameses, aan my pa en broers gegee, net soos die farao my beveel het.
Josef se regering tydens die hongersnood... vervol (slot)