Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lees in Handelinge 13 hoe volksgenote die Woord van die Here verwerp terwyl heidene hul wel daardeur bekeer Dan waarsku God dat die veragters van sy Woord net voordat hulle verdwyn in verwondering sal toekyk na die wonderwerk wat God sal doen, so groot, so ongelooflik, dat niemand dit sal glo indien dit vooraf vir hulle vertel word nie. Is ons volk nou in Suid-Afrika nie in presies dieselfde plek nie?
JOSEF (3)
Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red
Dr JP Botha
Lees reeks by JOSEF
IN DIE TRONK
Toe haar man die aand huis toe kom, wys sy hom die kledingstuk en beweer dat "daardie Hebreeuse slaaf wat jy hier ingebring het, het probeer om van my 'n gek te maak." Toe Potifar al die valse beskuldings teen my hoor, was hy briesend. Hy het my met geweld laat gryp en in die tronk gegooi waar die koning se gevangenes aangehou word.
Teen hierdie tyd het ek al baie vas geglo en besef dat die Here my wispelturige lewe beheer en gewonder wat alles in die tronk met my gaan gebeur. Ek het begin om diensies aan die ander gevangenes te bewys en vir die bewaarder gehelp om hulle te versorg. Toe word die bewaarder my baie goedgesind en stel my oor die ander gevangenes aan en oor alles wat in die tronk moes gebeur. Dit het die bewaarder se taak baie verlig omdat ek oor alles toesig gehou het. Die Here het gesorg dat ek in alles wat ek gedoen het, suksesvol was.
Toe ek na verloop van tyd begin wonder hoe lank my nuttige verblyf in die tronk nog sou voortduur, begin dinge weer gebeur. Een môre tref ek twee persone saam aan in 'n sel en herken toe die een as die hoof van die koninklike bakkers en die ander een as die koning se hoofskinkers. Die hoof van die koninklike lyfwag het hulle in hierdie tronk geplaas vir oortredings wat hulle aan die koninklike hof begaan het. Ek verneem toe dat die hoof van die lyfwag my spesiaal aangestel het om hulle te bedien. Ek kon toe nie help om te wonder of hy darem intussen vasgestel het dat sy vrou my vals beskuldig het nie en indien wel – waarom hy my dan nie uit hierdie tronk vrylaat nie.
DIE SKINKER EN BAKKER SE DROME
Ek het die twee koninklike amptenare goed versorg. Maar toe ek een oggend in hulle sel kom, lyk albei baie ongelukkig. Dit blyk toe dat albei die vorige nag 'n unieke droom gehad het en graag die betekenis daarvan wou weet. Ek het vir hulle gesê, om drome te verklaar, is God se werk, maar hulle moet asseblief vir my vertel wat hulle gedroom het.
Die hoof van die skinkers het eerste sy droom vertel: "In my droom het ek 'n wingerdstok gesien. Dit het drie lote gehad wat begin bot en blom het en gou was daar trosse ryp korrels. Ek pluk toe die druiwe en druk die sap daarin uit. Toe gee ek dit vir Farao."
Ek het vir hom gesê: "Ek kan vir jou sê wat die droom beteken: Die drie lote dui op drie dae. Binne drie dae sal Farao jou uit die tronk laat haal en jou herstel in jou vorige posisie as hoofskinker. En asseblief, dink aan my wanneer dit weer met jou goed gaan. Noem my naam en vra hom om my uit hierdie plek vry te laat. Want ek is ontvoer uit my geboorteland, die land van die Hebreërs. Nou is ek hier in die tronk, sonder dat ek iets verkeerd gedoen het."
Toe die hoof van die bakkers hoor dat die eerste droom 'n goeie uitleg gehad het, vertel hy ook syne vir my: "In my droom was daar drie mandjies met brood op my kop. In die boonste een was daar 'n heerlike baksel vir Farao. Maar die voëls het gekom en alles opgevreet."
Ek het vir hom gesê ek sal vir hom vertel wat sy droom beteken: "Die drie mandjies dui op drie dae. Drie dae van nou af sal Farao jou kop afkap en jou liggaam aan 'n paal ophang. Die voëls sal dan die vleis van jou afpik."
Drie dae later het die farao 'n groot eetmaal op sy verjaarsdag gegee. Hy het die twee manne laat haal en in die openbaar verhoor. Hy het die hoof van die skinkers weer in sy pos herstel, maar die hoof van die bakkers aan 'n paal laat ophang. Die hoof van die skinkers het egter van my vergeet. Maar ek het goeie moed gehou en geweet die HERE sal my nie vergeet nie.
Die feit dat Hy vir my laat weet het wat die skinker en die bakker se drome beteken het en elke keer wanneer teëspoed op my toesak, my weer met seën daaruit verlos het, het aan my die vaste vertroue en versekering gegee dat Hy besig is om iets groots in my lewe te bewerk. Daarom het ek maar geduldig my pligte in die koninklike tronk nagekom, oortuig daarvan dat die skinker een of ander tyd sy belofte aan my gestand sal doen en aan die farao sal vertel hoe onregverdig en onskuldig ek hier in die tronk sit.
FARAO SE DROME
Maar verlossing het eers twee lange jare later gekom toe die farao self aan die droom gegaan het. Die Here het hom hierdie drome laat droom om die plan wat Hy met my lewe gehad het, te kon uitvoer.
Farao droom hy staan op die wal van die Nyl. Hy sien sewe mooi vet koeie uit die water kom en hoe hulle al langs die wal begin wei. Toe sien hy sewe ander maer en lelike koeie uit die water opkom. Hulle het na die sewe mooies toe gegaan en hulle opgevreet. Toe skrik hy wakker. Maar na 'n rukkie raak hy weer aan die slaap en daar droom hy weer!
Hy sien sewe mooi vol are aan een stingel. Toe kom daar nog sewe are uit, maar hulle is verdroog en verskroei deur die oorstewind. Toe gebeur daar net die selfde ding as wat met die koeie gebeur het: Die maar are sluk toe die sewe vet are in!
Farao het toe hy wakker skrik, besef dat dit nie maar net 'n ou sommerse droompie was nie en dat hulle iets moet beteken. Hy het al Egipte se wyse manne en waarsêers geroep en vir hulle vertel wat hy gedroom het, met die hoop dat hulle dit vir hom sou kon uitlê en sê wat dit beteken. Maar hulle kon nie.
Toe val dit die hoof van die skinkers weer by hoe ek twee jaar van te vore sy droom en dié van die bakker in die tronk vir hulle uitgelê het. Sy versuim om nou eers daarvan te praat, het swaar op sy gewete gelê en hy het begin om baie omslagtig te vertel van die Hebreeuse jong man wat hulle drome uitgelê het en dat dit alles net so plaasgevind het as wat hy voorspel het.
Farao het nie 'n oomblik gewag nie. Hy het my onmiddellik laat roep. Ek is dadelik uit die tronk gehaal, geskeer en ander klere aangetrek. Toe het ek voor Farao verskyn.
Hy sê toe vir my: "Ek het laas nag 'n droom gehad, maar niemand kon dit vir my verklaar nie. Ek hoor jy kan drome uitlê."
"Nee, ek kan nie," sê ek. "Maar God sal die verklaring gee waarvoor u vra."
Toe het Farao maar weer sy droom vertel, van die sewe vet koeie en die sewe maeres, wat toe hulle die sewe vettes ingesluk het, nog net so maer was. Daarna het hy ook vir my van die sewe are aan die een stingel vertel en ook van die sewe droës en verskrompeldes en dat hulle insgelyks die sewe vettes ingesluk het.
Die Here het die betekenis van hierdie drome van Farao duidelik voor my gestel. Ek het vir hom gesê: "Albei die drome beteken dieselfde: God het vir u vertel wat Hy van plan is om te doen. Die sewe vet koeie is sewe jaar en die sewe vol are dui ook op sewe jaar. Die sewe maer koeie en die sewe droë en verskrompelde are dui op sewe jaar van hongersnood. Die volgende sewe jaar sal 'n tyd van groot voorspoed in Egipte wees. Daarna sal sewe jaar van hongersnood volg. Dit sal baie erg wees en sal 'n groot ramp oor die land bring. Die feit dat die droom herhaal is, beteken dat die saak by die Here vasstaan en dat Hy dit spoedig sal doen."
Toe praat die Here duidelik deur my met Farao. Ek hoor my eie stem wat vir hom sê: "Ek wil graag voorstel dat u 'n baie bekwame persoon oor die hele land aanstel en manne wat hom help. Hulle moet in die sewe volop jare een vyfde van die oeste vir u insamel en in groot skure bêre, sodat daar genoeg kos in die sewe maer jare sal wees. Dan sal die groot ramp nie die land tref nie."
My voorstelle het die raadgewers beïndruk en hulle kyk na die farao wat duidelik in sy skik daarmee is. Hy sê vir hulle: "Wie sal dit beter kan doen as hierdie Josef? Hy het ongetwyfeld die Gees van God." Hy draai toe na my en sê: "Kyk Josef, jy is ongetwyfeld die wysste man in die land, want net jy kon my drome verklaar. Ek stel jou aan oor die projek en die paleis. Jy sal oor al my onderdane gesag hê. Net ek sal meer mag as jy hê."
Ek regeer Egipte... vervolg