Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die drie allerbelangrikste dinge wat alle mense in hierdie lewe nodig het is: iets om te doen, iets om lief te te hê, en iets waarop hy kan hoop.
JOSEF (1)
Deur God gebruik om sy volk van ondergang te red
Dr JP Botha
Lees reeks by JOSEF
EK IS DIE KLIKBEK
Ek is Josef. Ek wil hê dat julle wat hierdie boek gaan lees waarin ek my lewensverhaal wil vertel, van die begin af moet weet met watter Josef julle hier gaan kennis maak, want toe ek as jong seun op my pa se plaas, daar in Hebron groot geword het, het my broers my aanhoudend uitgeskel vir 'n lae en gemene "Klikbek", as ek vir my pa Jakob vertel van die baie lelike dinge wat hulle agter sy rug aangevang het.
Hierdie broers van my – ons was twaalf in getal – was almal seuns van my liewe vader Jakob, maar ons was vier vroue se kinders: Die seuns van Lea was Ruben, Simeon, Levi, Juda, Issaskar en Sebulon. Die seuns van Ragel was ek (Josef) en Benjamin. Die seuns van Bilha (Ragel se slavin) was Dan en Naftali. Die seuns van Silpa (Lea se slavin) was Gad en Aser.
HULLE HET MY GEHAAT
Toe ek nog 'n jong seun in die huis van my vader Jakob was, het hy baie rondgetrek. Op 'n sekere tydstip het hy Bet-El verlaat op pad na Efrata (Betlehem). My moeder Ragel was swanger. Voor my pa sy bestemming met sy groot gesin kon bereik, het moeder Ragel geboorte geskenk aan my broer Benjamin. Dit was 'n baie moeilike bevalling, waartydens sy gesterf het. Daarmee het vader Jakob vir die klein Benjamin en vir my met groot sorg en liefde grootgemaak. Hy het ons baie lief gehad en voorgetrek by die ander. Dit het gladnie in die tien broers se smaak geval nie. Dit was nie lank nie of hulle het geen goeie woord meer vir my gehad nie. Ek het nie besef dat ek eintlik self verantwoordelik was vir hulle haat en nyd teen my nie.
Nadat vader Jakob op my moeder Ragel se graf 'n klip as gedenkteken gesit het, het ons verder getrek en gaan kamp opslaan by Migdal-Eder. Onderwyl ons 'n ruk lank hier vertoef het, het ek op 'n dag tussen die tente rondgedwaal, terwyl my broers in die veld met pa Jakob se beestroppe besig was. By een van die tente het ek snaakse geluide gehoor. Toe ek naderstap en die flap oplig, het ek dit weer van skrik laat val en weg gehardloop. Daardie aand het ek vir pa Jakob vertel wat ek in daardie tent gesien het: My oudste broer Ruben was besig om geslags-gemeenskap te hou met Bilha, my pa se slavinvrou! Ek het my pa dit vertel. Ek weet nie of hy ooit vir Ruben daaroor aangespreek het nie. Ek glo nie hy het nie, want dan sou ek as informant nog meer gehaat gewees het.
Ek het gereeld wanneer hulle my saamgeneem het in die veld, en gesien het watter lelike dinge hulle doen, dit in die aand vir pa Jakob vertel. Hy het hulle soms aangespreek daaroor. Dan het hulle my weer as 'n klikbek uitgeskel en wou my later nie meer saamneem nie.
Toe het daar 'n ding gebeur waaroor hulle my letterlik begin haat het. Met my sewentiende verjaarsdag het my pa vir my 'n pragtige veelkleurige bokleed laat maak.
Ek was trots daarop om dit te dra en het oral daarmee gepronk, tot ergernis van my liewe broers. Maar toe gebeur dit dat ek een nag 'n droom gehad het wat ek aan hulle vertel het. Ek droom ons was besig op die landerye om gerwe graan vas te bind. My gerf het regop gestaan, maar hulle gerwe het rondom kom staan en laag voor myne gebuig. Toe ek hulle van hierdie eienaardige droom verteL, toe spot hulle my: "O so! Gaan jy ons koning word, hê?"
Daarna het hulle my nog meer gehaat. Maar soos dit moes kom, het ek kort daarna 'n tweede eienaardige droom gehad, en kon nie help om dit ook vir my broers en vir my pa te vertel nie. In hierdie droom het die son, die maan en elf sterre voor my kom neerbuig. My pa het my streng aangespreek daaroor: "Wat bedoel jy? Sal jou ma, jou broers en ek voorwaar voor jou kom neerbuig?" Dit was vir hom baie snaaks en ek kon sien hy sit daaroor en dink.
Dit was vir my duidelik dat my broers verskriklik jaloers was op my omdat ek my pa se ou witbroodjie was. Hulle het my uitgeskel en bespot as "die ou dromer."
Kort nadat ek so gedroom het, het my broers met al die vee na Sigem vertrek, omdat daar nog baie goeie weiveld te benut was. Nadat hulle 'n tyd lank weg was, roep my pa my en sê: "Ek hoor niks van jou broers daar by Sigem nie. Ek wil jou daar na hulle toe stuur. Gaan kyk hoe dit met hulle en met die vee gaan. Kom dan terug en vertel my”.
Ek word 'n slaaf ... vervolg