Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Het u al ooit 'n sielsongelukkige 'kunstenaar' gesien? Nie sommer nie! Iemand wat iets skep, enige iets, selfs net 'n pragtige bord kos, is nie 'n ongelukkige mens nie. Skeppende mense is gelukkige mense want om dinge te skep gee jou visie, rigting en selfrespek. Hoe besiger jy is om kreatief te wees, hoe gelukkiger sal jy wees.
DIE DERDE TEMPEL (9)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
DIE GOG-MAGOG OORLOG
1. ʼn Beslissende slag
Esegiël het 2600 jaar gelede die herlewing van Israel voorspel (Eseg.36-37). So ook die profeet Sagaria. Hy het gesien dat die Jode na ʼn baie lang tyd van verstrooiing weer in Jerusalem deur hul eie mense regeer word (Sag.12-14). Esegiël het voorspel dat ʼn konfederasie van vyandige volke Israel in ʼn bloedige oorlog gaan probeer vernietig. God gaan egter ingryp en Israel laat wen (Eseg.38-39). Dit word die Gog-Magog oorlog genoem.
Die Christendom, Judaïsme en Islam se leer van die eindtyd (eskatologie) beskryf hierdie oorlog as ʼn beslissende wêreldgebeure. Met hierdie laaste oorlog op aarde, gaan ʼn deel van Rusland haar met Islamitiese volke verbind om Israel te probeer vernietig. God gaan hulle egter Self verslaan waarna duisende buitelandse Jode na Israel gaan terugkeer:
”En hulle sal weet dat Ek, die HERE, hulle God is, daarin dat Ek hulle in ballingskap laat gaan het na die nasies, maar hulle weer versamel het in hulle land en dáár niemand meer uit hulle agter laat bly het nie” (Eseg.39:28).
2. Ontwrigting
Islam ontwrig al jare lank die wêreldvrede. Nie net in Westerse lande nie, maar ook in die Ooste. Indië en Pakistan is bv. al jare lank haaks en kan enige oomblik tot ʼn volskaalse oorlog oorgaan. Pakistan is ʼn Islamitiese republiek en is sedert haar ontstaan (1947) ʼn moeilikheidmaker.
In 2006 was Israel in ʼn onverbiddelike oorlog met die Islamitiese terreurgroep, Hezbollah, gewikkel. Hierdie terroriste-organisasie is in Libanon gesetel en word deur Sirië en Iran gesteun.
Talle Westerse lande het al onder Islamitiese terroriste deurgeloop. Amerika het op 11 September 2001 ʼn nare ondervinding gehad toe Islamitiese terroriste twee wolkekrabbers verwoes het. Daarna is London en Madrid deur Islamitiese bomdraers lamgelê.
3. Haat
Namate die uurglas uitloop, word die beheer oor Jerusalem al hoe meer op die spits gedryf. Die Joods-Palestynse haatstryd stuur onafwendbaar op oorlog af. Dit dateer uit die dae van Mohammed toe hy van Mekka na Medina gevlug en die plaaslike Jode sy aanspraak as profeet verwerp het. Hy het verneder gevoel en die Jode daarvoor gehaat. Toe dit in die Koran opgeteken is, het hierdie haat ook na alle Islamiete deurgevloei.
Israel se buurlande haat haar almal. Die Palestyne het gesweer om die stryd om Jerusalem nie te laat vaar alvorens hulle die stad van die Jode afgeneem het nie. Daarvoor geniet hulle die steun van Sirië, Irak, Iran en Egipte. Almal berei hulle vir oorlog voor. Iran is ongetwyfeld die grootste bedreiging omdat sy militêre sowel as ekonomiese bande met Rusland het en oor kernwapens beskik.
Gevolglik het die oorlogswolke nog nooit so duidelik teen Israel opgesteek soos tans nie. Die Palestyne glo dat hulle as wenners uit die stryd gaan tree. In September 2003 het Yasser Arafat gesê dat die Arabiere as martelare na Jerusalem gaan. Hy is intussen oorlede, maar sy gees word nog steeds in Palestynse kringe geadem.
Die Gog-Magog oorlog is voor die deur en gaan omvangryk wees: “...en hy sal uitgaan om die nasies te verlei…die Gog en die Magog, om hulle te versamel vir die oorlog; en hulle getal is soos die sand van die see” (Openb.20:8).
4. Esegiël se gesig
4.1 Die sameswering
Esegiël 38 begin met ʼn profesie teen Gog : “…Kyk, Ek het dit teen jou, o Gog, vors van Ros, Meseg en Tubal…” (:3). Dis die name van die seuns van Jafet wat hulle eeue tevore noord van Israel gevestig het. Verse 5-6 maak van Persië, Kus, Put, Gomer en Bet Togar in die verre Noorde melding. Persië is vandag Iran, Kus die Soedan en Ethiopië. Put is Libië. Gomer en Bet Togar is noord van die Swartsee en vorm tans die Ukraïene en die westelike gedeelte van Rusland. Al hierdie nasies is Islamities en omring Israel van alle kante.
Vers 8 meld dat hierdie volke ʼn land bedreig wat weens oorlog verkry is en wie se bevolking uit verskillende wêrelddele kom. Dis onteenseglik Israel. Vers 17-23 beskryf die lot wat hierdie invallers gaan tref as God ingryp en hulle vernietig. Die Sesdagoorlog was ʼn voorsmaak daarvan!
4.2 ʼn Profetiese posseël
In 1930 het Rusland ʼn 14 kopek posseël uitgereik wat die Gog-Magog oorlog uitbeeld - die beeld waarvan Eseg.38:15-16 gewag maak nl. Rusland en haar bondgenote se opmars na Israel. Hierdie seël beeld ʼn leër Kosakke-ruiters teen die agtergrond van onweerswolke af wat uit die Noorde op Israel afstorm.
4.3 Lignostone
Volgens Eseg.39:9 gaan dit Israel sewe jaar neem om die vyandelike wapens na die Gog-Magog oorlog te verbrand. Hoe is dit moontlik? Rusland maak toenemend van Lignostone, ʼn merkwaardige Nederlandse produk wat uit 20-30 lae saamgeperste hout bestaan, vir die vervaardiging van wapentuig gebruik. Dis baie ligter en sterker as staal en betreklik elasties. Die enigste nadeel is dat dit maklik brand. Die Nederlanders gebruik dit selfs vir brandstof in hul kragsentrales. Rusland voorsien die meeste Arabiese lande van wapens!
4.4 God gryp in
Eseg.39:12 sê dat Israel vir sewe maande lank die lyke van die vyand gaan begrawe ten einde die land te reinig. Die wêreld sal weet dat God ingegryp en Israel van ʼn gewisse uitwissing gered het.
“En Ek sal my heerlikheid onder die nasies bring, en al die nasies sal my strafgerig sien wat Ek voltrek het, en my hand wat Ek op hulle gelê het. En die huis van Israel sal weet dat Ek die Here hulle God is, van dié dag af en verder” (:21,22).
4.5 Vrede ten alle koste
Ná hierdie oorlog sal die mensdom na vrede smag soos nog nooit tevore nie. En dis presies wat die Antichris die mensdom sal gee – sy vrede in die Derde Tempel!
“Want wanneer hulle sê: Vrede en veiligheid – dan oorval ʼn skielike verderf hulle soos die barensnood ʼn swanger vrou, en hulle sal sekerlik nie ontvlug nie. Maar julle, broeders, is nie in die duisternis, dat die dag julle soos ʼn dief sou oorval nie. Julle is almal kinders van die lig en kinders van die dag; ons is nie van die nag of die duisternis nie. Laat ons dan nie slaap soos die ander nie, maar laat ons waak en nugter wees” (1 Thess.5:3-6).
Roomse gevaar... vervolg