Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daarom gaan ons met die oë gevestig op God die donker toekoms sonder vrees tegemoet. Al weet ons nie wat die toekoms inhou nie, weet ons vir seker in Wie se hand dit is. Die toekoms is so helder soos God se beloftes want die toekoms behoort aan Hom. En waar ons gaan, is Hy by sy kinders: “En kyk, Ek is met julle al die dae tot aan die voleinding van die wêreld”.
DIE DERDE TEMPEL (7)
Ds Andrè van den Berg
Lees reeks by DIE DERDE TEMPEL
DINGE GEBEUR
1. Die Sanhedrin
1.1 ʼn Woestynraad
Die Sanhedrin (Grieks vir vergadering) is 3,500 jaar gelede tydens Israel se woestyntog in die lewe geroep. God het Moses 70 oudstes laat kies om hom by te staan (Num.11:16-17). Hierdie raad het alle godsdienstige en wetlike magte vertolk totdat Jerusalem in 586 vC verwoes is. Ná die ballingskap het Esra die Sanhedrin laat herleef om hom met die herbou van die tempel te help.
Die Sanhedrin was eeue lank die hoogste hof in Israel en het namens die volk oor godsdienstige sake beslis. Hulle het onder andere die reëls vir die tempeldiens bepaal en toegesien dat dit uitgevoer word. Die laaste aangetekende vergadering van die Sanhedrin was in 453 nC by Tiberias.
1.2 Die nuwe Sanhedrin
Alvorens die Derde Tempel gebou kan word, moet ‘n nuwe Sanhedrin saamgestel word om besluite oor die godsdiensgebruike, offers en toelatingsvereistes vir die priesterskap te neem. Dis op 13 Oktober 2004 gedoen toe rabbi Elyasiv en 70 vooraanstaande rabbis die nuwe Sanhedrin gevorm het - 71 lede soos van ouds.
Die herinstelling van die Sanhedrin is ʼn beduidende stap in die rigting van die bou van die Derde Tempel. Die nuwe Sanhedrin het dadelik aan die werk gespring en opdragte vir die maak van bykans 100 heilige tempelvoorwerpe gegee.
Daar word sedert Januarie 2005 maandeliks in Jerusalem vergader om oor sake rakende die bou en inrigting van die nuwe tempel te beraadslaag. Een van die eerste take was om die juiste ligging van die Eerste Tempel vas te stel. Die Sanhedrin word as die enigste bevoegde liggaam beskou om dit aan te wys.
Hulle het belanghebbendes wat met navorsing oor die Derde Tempel besig is, versoek om alle ter saaklike inligting beskikbaar te stel. Die Sanhedrin doen ook gereeld oproepe vir skenkings omdat die Derde Tempel een van die duurste bouprojekte in die geskiedenis gaan wees.
Hulle beplan om groot dele van die tempel vooraf te laat vervaardig sodat dit, soos tydens die bou van die Eerste Tempel, net op die Tempelberg aanmekaar gesit kan word. God het aan Dawid opdrag gegee om die boublokke vir die Eerste Tempel vooraf gereed te kry sodat dit in betreklike stilte aanmekaar gesit kon word. Baie van die boublokke lê alreeds reg vir gebruik!
Een van Christus se profesieë dui indirek op die herinstelling van die Sanhedrin: “En bid dat julle vlug nie …op die Sabbatdag mag plaasvind nie” (Mt.24:20). Indien die Antichris ʼn aanval op ʼn Sabbat sou maak en die Jode in Jerusalem se vlug tot ʼn sabbatsreis (1000 meter) beperk is, kan hulle uitgewis word. Hierdie profesie dui dus indirek op ʼn nuwe gesagsliggaam wat die gesag sal hê om die vyfde gebod op Jode af te dwing.
2. Nuwe priesters
2.1 Opleiding
Die Sanhedrin het met opleidingskole in Jerusalem begin waar meer as 500 jong Jode wat van Levi afstam as priesters opgelei word. Hulle word ook geleer om namaaksels van ou tempelinstrumente te bespeel. Jong Levitiese vrouens (Yehuda Avrasham) is tans besig om honderde priesterlike gewade van ‘n uitsonderlike sesdraad katoengare te weef.
Op 4 April 1999 is Jode met die van Cohen (Hebreeus vir priester) tydens die jaarlikse Priesterlike Seën by die Wesmuur vir priesterlike gene getoets. ‘n Amerikaanse genetikus het bevind dat alle Cohens oor ‘n gemeenskaplike afwyking van die Y chromosoom beskik. Jode met die van Levi of Cohen word as afstammelinge van die priesterlike geslag (Kohanim) beskou.
Ortodokse Jode bewaar die Kohanim en Levi’im al eeue lank vir toekomstige diens in die nuwe tempel. Eersgenoemdes is afstammelinge van die priesterlike familie van Aäron en lg. van Levi. Die Jode glo dat God hulle ook vir toekomstige tempeldiens bestem het.
2.2 Hoëpriesterlike drag
Alhoewel van die tempelvoorwerpe tydens die verwoesting van die Eerste Tempel gebuit is, het die borsplaat van die hoëpriester; ʼn kunswerk van goud en 12 edelstene, nie in vyandshande geval nie. Dis in die Tweede Tempel gebruik en is net voor die verwoesting daarvan in die omgewing van Koemran weggesteek. Alhoewel die Koperrol sê waar dit weggesteek is, kan die plek nie meer geëien word nie.
Die Tempelgenootskap werk baie nou saam met die nuwe Sanhedrin en het ʼn namaaksel van die borsplaat laat maak wat in die Derde Tempel gebruik sal word indien die oorspronklike een nie gevind word nie. Hierdie organisasie is aan elke aspek van die Derde Tempel toegewy en is in 1987 deur rabbi Yisrael Ariel, ʼn oud valskermsoldaat in die Sesdagoorlog as ʼn nie-winsgewende organisasie met hul hoofkantoor in die Joodse woonbuurt van die Ou Stad gestig.
Die Ou Testament en Mishneh Torah skryf ʼn pers-blou kleursel (tchelet) vir die maak van die hoëpriesterlike gewaad voor (Ex.28:31). Hierdie kleursel het uit die klier van ʼn baie skaars seeslak (Murex trunculus) gekom wat net in die Middellandse See voorgekom het. Dit het eeue gelede uitgesterf. Daarsonder kan die tempeldiens nie hervat word nie.
In die laat 1990’s het Israeliese duikers dieselfde slak in die Rooisee ontdek waarna ʼn voorraad van die kleurstof gemaak is. Ongespinde wol verkry aanvanklik ʼn helder groen kleur as dit in dié kleursel gedruk word. Daarna word dit pers-blou as dit droog is. Dit word as ʼn garedraad gespin en in die hoëpriesterlike kleed gebruik.
3. As van die rooi koei
Die Talmoed meld dat die Derde Tempel nie gebou kan word alvorens Leviete die Tempelberg ritueel gereinig het nie. Rituele reiniging was vir die Jode baie belangrik. Profete het simbolies daarvan gepraat: “En Ek sal julle uit die nasies gaan haal en julle uit al die lande bymekaar laat kom, en Ek sal julle in jul land bring. Dan sal Ek skoon water op julle giet, sodat julle rein kan word…” (Eseg.36:24,25). Reinigingswater is o.a. van die as van ʼn ongeskonde rooi koei verkry (Num.19).
Joodse godsdiensleiers het ʼn paar jaar gelede ʼn taakspan gestuur om ongeskonde rooi beeste in die buiteland te vind. Dis in Finland en Amerika gevind waarna ʼn eie stoetery in Israel begin is. In Mei 1997 is ʼn verskalf gebore wat aan al die vereistes van Num.19 voldoen het.
ʼn Tweede koperrol wat in ʼn grot by Koemran gevind is, bevestig dat Esseners die asse van die laaste rooi koei saam met ander voorwerpe in die omgewing begrawe het. Argeoloë soek al jare lank in ʼn grot suid van Jerigo daarna. Wat ʼn opskudding sal dit nie veroorsaak indien hierdie houertjie met as gevind word nie!
Gedagtig aan die salwingsolie wat reeds gevind is, is dit nie onmoontlik dat dit wel kan gebeur nie. Dis egter nie ʼn Skriftuurlike vereiste vir die hervatting van die tempeldiens nie. Die as van ʼn nuwe dier kan ook desnoods gebruik word.
4. Gereed om te offer
Na 70 nC is daar nooit weer op die Tempelberg geoffer nie. Die tempel was verwoes en die Jode verstrooi. Daar sal egter weer met die inwyding van die Derde Tempel geoffer word. Die Antichris sal hierdie diens egter na 42 maande opskort.
In April 2008 is berig dat rabbis gereed is om diere op die Tempelberg te offer. Dit het die Palestyne hewig ontstel omdat dit in die skaduwee van die Rotskoepel sal plaasvind en tot ʼn jihad kan lei. Die meeste Jode het dit as ʼn voorloper vir die reiniging van die Tempelberg verwelkom.
The Jerusalem Post (2 Julie 2009) berig dat Yitzak Aharonovitch, die Minister van Openbare Veiligheid, die vorige Dinsdagoggend (30 Junie) onverwags op die Tempelberg opgedaag het. Hy was deur twee polisiehoofde vergesel. Die Palestyne was baie omgekrap hieroor en het dit as ʼn openlike uittarting beskou!
5. Die Tempelbergetrouheidbeweging (TGB)
Tisha b’Av is die Joodse nasionale dag waartydens die verwoesting van die twee tempels in herinnering geroep en bekla word. Dit word jaarliks op 9 Augustus herdenk. Die Netemanei Har Habayit of te wel Tempelberggetrouheidbeweging (TGB) is ʼn paar jaar gelede in die lewe geroep om Jode se aandag op die belangrikheid van die Tempelberg te vestig. Hulle glo vas dat die lot van Israel sowel as die ganse mensdom op die Tempelberg beslis sal word.
Die TGB wil die besondere band tussen Israel en die Tempelberg hernu en die Jode daarmee ʼn nuwe fase in hul volksgeskiedenis laat betree. Hulle slagspreuk lui: “Ons sal Jerusalem nooit weer verlaat en die stad nooit weer in vyandshande laat val nie!”
In hulle beleidsdokument sê die TGB dat Israel God se uitverkore volk en werktuie van verlossing is. Tweedens sê hulle dat Hy Israel se grense vasgestel het en dat geen deel van die land derhalwe weggegee mag word nie. Derdens moedig hulle elke buitelandse Jood aan om na Israel terug te keer en aan die verlossingsproses deel te neem. Wie die uitnodiging nie aangryp nie, sal hierdie voorreg verloor. Laastens wy hulle hul opnuut aan God se opdragte soos in die Tanach verwoord word.
ʼn Groot groep Jode het op 10 Augustus 2000 na die Tempelberg beweeg om die Jode se aandag op die bou van die Derde Tempel te vestig. By hierdie geleentheid het hulle al Israel se vyande gewaarsku dat hulle optrede teen Israel alles tevergeefs is. Buitelanders hunker eerder na Arabiese olie as om Israel te ondersteun!
Tydens hierdie verrigting was almal in sak en as geklee en is daar uit Klaagliedere gelees. Daarna is swart vlae gewaai om die regering teen ʼn derde verwoesting van Jerusalem te waarsku indien hulle die Islamiete nie van die Tempelberg af verdryf nie. Daarna is Ex.34:12,13 as boodskap aan die regering gestuur: “Neem jou dan in ag dat jy geen verbond sluit met die inwoner van die land waarin jy kom nie; sodat hy nie miskien ʼn strik vir jou word nie. Maar hulle altare moet jy omgooi en hulle klippilare verbrysel”
Die TGB wou alreeds op 16 Oktober 2000 die hoeksteen van die Derde Tempel op die Tempelberg lê, maar is deur die regering verhinder. Daarna het die optog na die Wesmuur beweeg waar ʼn beroep op die regering gedoen is om nie vir die Palestynse bang te wees nie. God sou hulle help. Daarna is Ps.137:5,6 ter afsluiting gelees: “As ek jou vergeet, o Jerusalem, laat my regterhand dan homself vergeet! Laat my tong kleef aan my verhemelte as ek aan jou nie dink nie, as ek Jerusalem nie verhef bo my hoogste vreugde nie”
Op 27 Desember 2000 het die TGB saam met duisende buitelandse ondersteuners na die Tempelberg beweeg. Dit was op dieselfde dag dat pres. Clinton die Jode versoek het om Jerusalem aan die Palestyne te oorhandig. Die polisie het verhoed dat die optog verder gaan waarna die TGB die boodskap van Nehemia aan die Arabiere van sy tyd aan Clinton gestuur het: “Die God van die hemel, Hy sal ons dit laat geluk, en ons, sy knegte, sal ons klaarmaak en bou; maar julle het geen deel of reg of gedagtenis in Jerusalem nie” (Neh.2:20).
Teenstand...vervolg