Gedagtes vir elke dag
Om verbondsvolk van die lewende God te mag wees is 'n voorreg maar ook 'n groot verantwoordelikheid. Niemand kan reken op die Here se seën sonder gehoorsaamheid nie. "En Ek sal in julle midde wandel en vir julle 'n God wees, en julle sal vir my 'n volk wees. ...Maar as julle nie na My luister nie... Ek sal verskrikking oor julle beskik... en julle lyke op die lyke van julle drekgode gooi..." Is die Afrikanervolk ná talle waarskuwings nie reeds hier waar ons lyke só gestrooi word nie? En nóg luister ons nie! "En as julle ook hierom nie na My luister nie... sal Ek julle stede puinhope maak... selfs die land verwoes sodat julle vyande wat daarin gaan woon, daaroor verstom sal staan". Hoe naby is ons aan die verwoesting van moontlik aardbewings en burgeroorlog - net omdat ons verwyderd van Hom leef?
DIE WEDERKOMS (2)
Ds Andrè vd Berg
Lees reeks by WEDERKOMS VAN CHRISTUS
Misleidende boeke
Die gedagte aan ‘n einde van ons wêreld het baie mense so aangegryp, gedagtes laat loop en drome laat droom dat daar deur die eeue talle boeke en artikels oor hierdie onderwerp geskryf is. As ons maar net al die boeke wat die afgelope twee eeue oor die wederkoms geskryf is bymekaar kon maak, sal dit ‘n hele biblioteek kon vul!
Wanneer ek enkele van hierdie boeke onder oë neem, staan ek verstom oor hoe vreemd en verkeerd mense die Bybel gebruik. Baie van die skrywers ontspoor geheel en al en leer dinge wat die Bybel beslis nie sê nie! In werklikheid gebruik hulle nie die Bybel nie, maar misbruik dit. Hulle laat die Bybel nie spreek nie, maar eerder buikspreek. Die Bybel word ‘n tipe van kapstok waaraan hulle hul eie fantasieë hang.
Neem maar net die Amerikaner Hal Lindsay wat met sy boek The late great planet Earth groot bekendheid verwerf het. Lindsay gaan van die standpunt uit dat die Bybel ‘n boek vol profesieë is wat vandag voor ons oë in vervulling gaan. Dis allermins die geval!
Behalwe vir die stortvloed van boeke oor die eindtyd, snak ‘n mens soms na jou asem oor sommige mense en selfs predikers se verstommende uitleg van Bybelse gegewens oor die eindtyd. Dis niks anders as ‘n totale verdraaiing van Bybelwaarhede nie! Sektes maak hulle veral hieraan skuldig.
Ons leef in ‘n tyd van verstommende mikro-rekenaartegnologie. Dit het talle van die eindtyd-skrywers en sg hel, fire and brimstone predikers so aangegryp dat hulle selfs die elektroniese betaalmiddels as ‘n bedreiging veroordeel, om nie eens van die moontlike inplanting van mikro-rekenaarskyfies onder die vel te praat nie. Dis volgens hulle die merk van die dier waarvan ons in Openbaring 13 lees.
Vir die gewone man op straat skep hierdie boeke en misleidende sieninge oor die eindtyd ‘n geweldige probleem want wie is reg en wie kan hy glo? Dis ‘n Babelse verwarring!
Die enigste oplossing - Terug na die Bybel
Daar is maar net een oplossing – terug na die Bybel! Die probleem by baie van hierdie eindtydskrywers en predikers is dat hulle die Bybel nie reg lees en derhalwe nie reg verklaar nie. Jy kan nie ‘n klomp tekse aanmekaarflans en dan ewe vroom sê: So sê die Bybel nie. Nee, dis in die meeste gevalle alles behalwe wat die Bybel sê!
Ons moet opnuut leer om na die stem van die Bybel te luister en nie ons eie vertolking en wilde idees daaraan koppel nie. Indien ons die Bybel egter reg lees, sal ons dit ook reg verstaan en nie verward raak nie.
As ek die werke van sommige eindtydskrywers lees, is dit duidelik dat hulle een kardinale fout maak: Hulle meen dat die Bybel vir ons hier aan die begin van die 21ste eeu geskryf is. Nee, alhoewel die Bybel vir alle gelowiges deur die eeue bedoel is, is dit in die eerste plek vir die mense van 2000 jaar gelede geskryf. Ons moet derhalwe in gedagte hou dat hulle ander tale, gebruike en gewoontes as ons gehad het. As ons nie daarmee rekening hou nie, sal ons die Bybel nooit werklik verstaan nie.
Wees versigtig met Openbaring!
Kyk maar net hoe sukkel mense met die boek Openbaring. Waarom? Omdat hulle nie verstaan dat dit in simboliese taal geskryf is nie. As jy Openbaring letterlik wil opneem, word dit nooit ‘n openbaring nie, maar bly dit eerder ‘n geslotenheid. Nee, die beelde in hierdie laaste boek van die Bybel kan nie letterlik opgeneem word soos wat die Jehowagetuies bv.met die getal 144,000 van Openbaring7 doen nie. Hierdie dwaalgeeste beskou dit as die letterlike getal van al die gereddes, net 144,000 gaan hemel toe.
Nee, hierdie getal is ‘n simboliese getal wat ‘n ontelbare skare aandui. Johannes werk hier met die getal twaalf - 12 X12 X1000. Dis die 12 stamme van Israel, die 12 dissipels en 1000, die getal wat volheid aandui. Hierdie 144,000 is slegs die simboliese getal van alle gereddes. Daar gaan miljoene der miljoene gereddes wees.