Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wie die waarheid verdedig, kan dit nie in eie krag doen nie, maar slegs met God s’n wat Hy beloof: “Wees nie bevrees nie, wurmpie Jakob, volkie Israel! Ek help jou, spreek die Here, en jou Losser is die Heilige van Israel” (Jes.41:14).
SKEP U EIE TOEKOMS
FOKUS OP DIE LEWE VAN DR H F VERWOERD
Frikkie Strauss
Septembermaand word as erfenismaand in Suid-Afrika gevier, maar soos verwag, het die historiese erfenis van ons volk nie veel aandag tydens die laaste vieringe geniet nie. Tog staan Septembermaand in die teken van een van die mees tragiese gebeurtenisse in die geskiedenis van ons volk. Op Dinsdag 6 September 1966, om kwart oor twee die middag het ons een van ons grootste en geliefdste volksleiers verloor toe Dr H F Verwoerd, toe Eerste Minister van Suid-Afrika, aan die hand van die sluipmoordenaar Tsafendas in die Volksraad gesterf het. Dit was nie net ‘n dolksteek in sy hart nie, maar ook ‘n dolksteek in die hart van die Afrikanervolk, soos sedertdien baie duidelik geblyk het.
Die feit dat Dr Verwoerd in die maand van September gesterf het, is dalk nie sonder betekenis nie. Hy is as ‘n seuntjie op 8 September 1901 in Amsterdam in Holland gebore. Die maande van Augustus, September en Oktober 1901 word allerweë beskou as die smartlikste maande van die Tweede Vryheidsoorlog toe duisende Boerekindertjies in die Britse konsentrasiekampe gesterf het, terwyl hulle vaders en andere buite op die slagveld vir die behoud van hulle volk se vryheid geveg het. Op 2 September 1958 word Dr Verwoerd Eerste Minister van Suid-Afrika. Dit plaas hom in die posisie om die vryheidsideaal waarvoor soveel kindertjies en ander hulle lewens opgeoffer het op 31 Mei 1961 te verwesenlik, maar op 6 September 1966 moes hy ongelukkig ook self die hoogste prys daarvoor betaal.
‘N MAN VAN DIE TOEKOMS
Dit sal, as die Here wil, hierdie jaar op 6 September 50 jaar wees sedert die sluipmoord op Dr Verwoerd. Dit sal die geleentheid bied om sy lewe en die rol wat hy gespeel het in die vorming van ons lewens en die skepping van ‘n toekoms vir ons wat ná hom gekom het, weer in oënskou te neem. Dit is baie nodig om dit te doen, want ons as 21ste eeuse Afrikaners het ‘n verantwoordelikheid om ook vir ons nageslag ‘n toekoms in Suid-Afrika te skep. Dit sal baie moeilik wees om ‘n beter leermeester in visionêre denke en toekomsbe-planning as Dr Verwoerd te vind. Sy lewe as ‘n man van die toekoms het tipies uitdrukking gevind in sy leuse vir sy volk: SKEP U EIE TOEKOMS.
HERSTEL SY NAAM IN ERE
Daar is ook ‘n ander, baie belangrike rede waarom dit nodig is om die kollig skerp op Dr Verwoerd se lewe te laat val. Daar was voor Dr Verwoerd nie ‘n leier in ons volk se geskiedenis wie se goeie naam na sy dood só beswadder en belaster is as dié van Dr Verwoerd nie. Dit het binne enkele maande na sy dood begin toe daar eers net bedenkinge oor die uitvoerbaarheid van sy volkerebeleid uitgespreek is. Dit het oorgegaan in ‘n aanval oor die morele regverdigbaarheid daarvan en uiteindelik het hy die simbool geword van die misdaad teen die mensdom waarvan ons volk beskuldig is. In hierdie proses was daar geen pogings vanuit die geledere van die amptelike volksleiers op politieke, kerklike en kulturele terreine om sy naam te beskerm nie. Op dié wyse het die positiewe fasette van sy lewe natuurlik heeltemal in die slag gebly en is sy nageslag beroof van die voorreg om moed en inspirasie uit sy lewe te put.
Ander volkere het die voorreg gehad om geïnspireer te word deur die denke en dade van hulle leiers wat min of meer tydgenote van Dr Verwoerd was. Vir die Engelse was Winston Churchill die man wat Engeland deur die krisis van die Tweede Wêreld oorlog gelei het. Net so ‘n man was Genl Charles de Gaulle vir die Franse en kon hulle nog tot in die laat sestigerjare van die 20ste eeu uit sy leierskap inspirasie put. Vir die Duitsers was Dr Konrad Adenauer die man wat hulle uit die as van die Tweede Wêreldoorlog opgetel het. Wat staatsmanskap betref, het Dr Verwoerd ten minste gelyk gestaan aan enige van hierdie drie persone, maar sy volk is die geleentheid ontneem om na sy dood inspirasie uit sy lewe te put. Die 50ste herdenking van sy dood en die aanloop daartoe in die jaar wat voorlê sal aan ons as 21ste eeuse Afrikaners die geleentheid gee om sy naam weer in ere te herstel en die ware Verwoerd aan sy nageslag bekend te stel. “Eer jou vader en jou moeder.....” het God aan die Israeliete by Sinai gesê. Dit geld vandag nog.
‘N MAN VAN VRYHEID
Daar is ‘n derde rede waarom Dr Verwoerd se lewe en dit waarvoor hy gestaan het vir ons van belang is. Dit was onder sy leiding wat die lank-gekoesterde ideaal van ons volk, naamlik om ‘n eie republiek, vry van Britse oorheersing vir alle Afrikaners tot stand te bring, verwesenlik is. Dit was die eindpunt van ‘n stryd wat reeds in 1795 met die stigting van die eerste Afrikanerrepubliek in Graaff-Reinet begin het, sterk momentum gekry het met die Groot Trek en die stigting van twee Boere-republieke, maar wat ‘n groot terugslag gekry het toe die twee republieke hulle onafhanklikheid na die Tweede Vryheidsoorlog in 1902 verloor het. Gelukkig was daar manne en vroue wat geweier het om in die verlies van hulle vryheid te berus en die vryheidstryd weer opgeneem het. Dit het uiteindelik uitgeloop op die totstandkoming van die Republiek van Suid-Afrika op 31 Mei 1961. Ons sou egter net bietjie meer as 5 jaar van ware vryheid geniet, want met die sluipmoord op Dr Verwoerd op 6 September 1966 het die proses begin wat uiteindelik op 27 April 1994 op die formele beëindiging van ons eie republiek uitgeloop het en ons weer onder vreemde heerskappy gebring het.
Net soos die manne en vroue van na 1902 mag ons ook nie berus by die verlies van ons vryheid nie. Ons skuld ons kinders ‘n vrye land onder ons eie regering soos ons voorvaders vir ons nagelaat het, want anders dompel ons hulle in ‘n moeras van Afrika-ellende. Die hand van die geskiedenis druk swaar op die geslag Afrikaners wat nou lewe. In hierdie opsig maak die lewe van Dr Verwoerd ‘n besondere appél op ons. Hy was die laaste in ‘n ry van volksleiers wat hulle vir die vryheid van ons volk beywer het. Enkele name kom dadelik in ‘n mens se gedagtes op: Andries Hendrik Potgieter, Piet Retief, Sarel Cilliers, Gerrit Maritz, Andries Pretorius (uit die era van die Groot Trek), President Kruger, President Steyn, Genl De Wet, Genl De la Rey (uit die era van die Boere-republieke), Genl Hertzog, Dr Malan, Adv Strydom (uit die 20ste eeu). Dr Verwoerd staan in dieselfde linie as hulle en ‘n fokus op sy lewe as die een wat die vryheidsideaal verwesenlik het, trek dadelik hierdie ander persone en ons hele geskiedenis in die gesigsveld in. Ons geskiedenis sal die basis moet vorm waarop ons weer vir ons nageslag ‘n vrye toekoms moet skep.
‘n Ander aspek van Dr Verwoerd se lewe wat aandag verdien, is sy beleid van volk-ereskeiding in Suid-Afrika, seker die faset van sy lewe waaroor hy die meeste beswadder is en waaroor die krane van die leuen vol oopgedraai was. Dit is nodig dat die waarheid hieroor weer geboekstaaf word vir die nageslag.
Daar is baie ander aspekte van Dr Verwoerd se lewe wat ook aandag verdien, soos sy betrokkenheid by die armblankevraagstuk van die dertigerjare van die vorige eeu, sy rol wat hy as Eerste Minister gespeel het in die onderwerping van die beplande kommunistiese revolusie in Suid-Afrika onder leiding van Nelson Mandela, sy rol in die ekonomiese opbou van Suid-Afrika en sy betrokkenheid by die wel en weë van die destydse Suidwes-Afrika en Rhodesië. Dan is daar natuurlik die gebeure rondom sy dood wat ook bepaalde waarnemings verdien. Ons sal in volgende aflewerings daaraan aandag gee.