Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Laat ons liewers sterf omdat ons die waarheid praat, as om te leef en oor leuens te swyg!
NASIONALE VROUEMONUMENT GEDENKBOEK...
... Verlede -Hede - Toekoms
Die Gedenkboek oor die Nasionale Vrouemonument in Bloemfontein, die enigste Vrouemonument ter wêreld, is redaksioneel saamgestel deur skrywer-uitgewer Marthinus van Bart, bekend vir sy waarheidsgetroue gedenkboeke oor belangrike Suid-Afrikaanse kultuursake. Tien vakkundiges – elkeen 'n spesialis in sy / haar vakgebied – het aan die boek meegewerk.
Die Gedenkboek, wat oorspronklik in 2013 deur die FAK uitgegee is, is pas deur die redakteur hersien. Dit bevat nou etlike belangrike byvoegings, asook verbeterings van die eerste uitgawe. 'n Hele hoofstuk oor die inskripsies op die monument, is ingevoeg. Dit is geskryf deur die teoloog prof. Piet J. Strauss, voormalige voorsitter van die monumenteraad. Ook is daar 'n nuwe inligtingstuk oor die rol van die Vlugtende Vroue van die Anlo-Boereoorlog wat nie in die eerste uitgawe verskyn het nie.
Anders as wat baie mense na aanleiding van die tema van die Gedenkboek sal verwag, is hierdie bewaringsprojek allermins ’n polities-ongeskakeerde gewroeg oor die oorsake, gewelddadigheid en gevolge van die Anglo-Boereoorlog. Dit is ’n objektiewe ontleding van die verskeidenheid fasette van hierdie unieke monument as bouwerk en simbool, en van die persoonlikhede rondom hierdie gedenkteken, opgedra aan Die Universele Vrou.
Die aanvoerder van die projek, pres. M.T. Steyn, het sy regsgeleerdheid in Engeland verwerf. Hy was advokaat, staatsprokureur, en later Hoofregter van die Republiek van die Oranje-Vrijstaat voordat hy tot Vrijstaatse Staatspresident verkies is. Van die twee vernaamste teenstanders van sy Monument-projek, Louis Botha en Jan Smuts, was Smuts ook ’n regsgeleerde wat in Cambridge, Engeland opgelei is. Smuts en Botha het probeer om die projek te dwarsboom, maar die briljante Steyn het met nugtere juridiese logika sy teenparty die loef afgesteek. Twee vakkundiges, proff. Jaap Steyn en Leopold Scholtz, bespreek hierdie spannende episode in hul onderskeie hoofstukke in die Gedenkboek.
Die twaalf hoofstukke is geskryf deur tien top Afrikaanse vakkundiges, wat vanuit hul onderskeie vakgebiede verskillende perspektiewe bied op die simboliese betekenis van die Monument en die geskiedenis van die oprigting daarvan. Daar word onder meer deur ’n hoogleraar in ingenieurswese, prof. Christo Viljoen, gekyk na die besonderse argitektuur en boutegnieke (wat terugdateer na antieke Egipte) wat gebruik is om dit op te rig.
Marthinus van Bart bespreek die interessante lewe van die Nederlandse beeldhouer, Anton van Wouw, skepper van die indrukwekkende vroue-en-kind bronsbeeldegroep – waarby die wêreldbekende Renaissance Piëta-beeldgroep van Michaelangelo in Rome ’n vername rol gespeel het. Hy vertel ook meer van die toonaangewende argitek van die projek, Frans Soff, soos Van Wouw, ook ’n Nederlander.
Prof. Hermann Giliomee, vooraanstaande historikus en skrywer van die formidabele boek Die Afrikaners, bespreek in sy hoofstuk die karakter en rol van die Afrikanervrou oor byna 400 jaar. Hy wys uit hoedat die Afrikanervrou die standvastigste en mees bevryde vrou ter wêreld was – én steeds is; dat sy inderdaad die hoofdraer van die Afrikaans-Christelike kultuur was – én steeds is. Hierdie nugtere opstel is seer sekerlik die mees positiewe ontleding van die Afrikanervrou wat nog ooit deur enige historikus gedoen is. Elke Afrikanervrou van vandag behoort nie net daarvan kennis te neem nie, maar dit ook aan die nageslag oor te dra vir die vestiging van ’n kragtige, positiewe selfbeeld in daardie geledere.
Voorts handel verskeie hoofstukke spesifiek oor die literatuur en die digkuns (ook deur Engelse digters) rondom die tema van die Monument. Onder die elf aangehaalde gedigte – elk prominent op afsonderlike bladsye – is die aangrypende gedig deur die dokter, skrywer en digter C. Louis Leipoldt wat beskou word as die mooiste verse in Afrikaans wat nog ooit opgedra is aan Die Vrou.
In ’n byderwetse wetenskaplike hoofstuk oor die digtaal-opgestelde konsentrasiekamp-statistiek deur die gerekende argivaris Celesté Reynolds, word ook onthul dat duisende swart en bruin vroue ook in konsentrasiekampe gedurende die Anglo-Boereoorlog gely en gesterf het.
Die laaste hoofstuk, deur die kultuurhistorikus E.S. van Bart, oor die rol van die antieke boukuns, die Christelik-verwante skilder- en beeldhoukuns van die Renaissance en vernaamlik die antieke Grieks-Romeinse en Egiptiese simboliek, bring die leser terug na die besef dat die wortels van die Afrikaanse Christelike kultuur terugstrek na die vroegste beskawings. Daarvan getuig die Vrouemonument in die besonder.
Kortom beloof die Gedenkboek om die leser op ’n veelfasettige opvoedkundige reis te neem wat vernaamlik Christelik-geestelik opbouend van aard is. Inderdaad strek die betekenis van die Vrouemonument veel verder as die herinnering aan oorlogsgeweld, veral teenoor vroue en kinders, soos tans, helaas, weer in die Oekraïne, en die Midde-Ooste, beleef word.
Die vroue van die Nasionale Vrouemonument het die gifbeker van ongeregtigheid gedrink en geweier om hul geloof in Reg en Geregtigheid, in Vryheid van die mens en van ’n volk, prys te gee. En daarmee het hulle ’n boodskap uit die verlede na vandag en die toekoms uitgestuur: Die “noodlot” is nie ’n opdrag nie, dit is ’n uitdaging want Christene glo nie in die noodlot nie. Daardie uitdaging word ontmoet deur arete, persoonlike uitnemendheid, wat in deugsaamheid bed, en eusebia, maatskaplike pligsbesef, met respek teenoor God en medemens as kern.
Die hardeband Gedenkboek is luuks, in A4-formaat gedruk op glanspapier, en het volop foto’s en illustrasies in volkleur en monochroom. Die prys van die boek is R480.
Posgeld en verpakking is R120 ekstra.
Bestel hierdie bewaringserfstuk deur navrae te rig per e-pos aan: Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.