Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Geluk is soos ‘n boemerang – dit keer altyd terug na diegene wat dit gee. As jy dus regtig in jou hart gelukkig is, moet jy dit met ander deel anders gaan dit verlore. Niks kelder geluk soos selfsug nie.
GAAN IN HIERDIE KRAG VAN JOU
Hannes Ollewagen
Rigt. 6:1-40
“Toe draai die HERE na hom toe en sê: Gaan in hierdie krag van jou en verlos Israel uit die hand van die Midianiete. Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Maar hy vra Hom: Ag, Here, waarmee sou ek Israel verlos? Kyk, my geslag is die swakste in Manasse, en ek self die geringste in my familie. Toe sê die HERE vir hom: Ek sal met jou wees, sodat jy die Midianiete soos een man sal verslaan.” (:14-16).
Is dit nie Ek wat jou stuur nie? Hierdie is die krag waarin Gídeon sy volk moet gaan verlos – die krag van die Een wat Hom stuur. Hy hoef nie, tewens, hy moenie op sy eie krag of vermoë steun nie. Hy moet gehoorsaam aan God en in geloof in sy getrouheid, bystand, krag en leiding God se opdrag uitvoer. Hy moet die instrument wees waardeur God se krag kan werk – hy is nie die krag wat God nodig het om sy doel te bereik nie.
Wanneer God vir Gídeon roep tot sy diens, stel Gídeon uit ’n menslike oogpunt , duidelik hoe ‘n ontoereikende keuse hy eintlik is. Hy is nie alleen uit die swakste geslag van Manasse nie, maar boonop onder sy familie ook die geringste. En dit is presies waarna God soek. Hy is nie verleë oor Gídeon se krygsvernuf, sy vermoë of sy krag nie. Hy kies vir Hom ’n instrument uit waar laasgenoemde nie in die weg sal staan van sy krag, raad en eer nie – ’n instrument waardeur sy krag ten toon gestel sal word en sy Naam verheerlik sal word.
Ons verstaan dan ook beter waarom God nie op Gídeon toornig raak wanneer hy die proef met die wolvlies op die dorsvloer twee maal doen nie. Hierdie was nie ’n optrede wat die krag van God in twyfel getrek het nie, maar eerder wou Gídeon doodseker maak dat sy optrede nie uit homself is nie, maar wel volgens die wil van God.
Gídeon versamel dan vir hom die manskappe om hierdie opdrag van God uit te voer. ’n Kragtige leër van twee-en-dertigduisend man word by hom versamel. En dan beveel God vir Gídeon om bykans die hele leër weg te stuur sodat daar eindelik minder as een persent van die aanvanklike leër oorbly waardeur God sy volk sou verlos. Gídeon versit hom nie teen hierdie opdrag van God nie. Hy voel nie op hierdie stadium dat hy met die krag van hierdie groot leër nou sommer self die Midianiete die styd kan aansê nie. En God stel juis aan Gídeon dat Hy deur hierdie geringe klompie man, driehonderd in getal, die Midianiete sal verslaan sodat Israel nie in hul eie krag in die oorwinning kan roem nie. “Toe sê die HERE vir Gídeon: Die manskappe by jou is te veel vir My om die Midianiete in hulle hand te gee; anders kan Israel hom teen My beroem deur te sê: My eie hand het my verlos.” (Rigt. 7:2).
Ons sien uit hierdie gebeure in Gídeon se lewe dat hy God nie aangeroep het om hom uit ’n verknorsing te red nie, maar dat hy in geloof op God vertrou het om hom toe te rus met die krag en dit wat nodig is om in diensbaarheid aan Hom sy opdrag uit te voer. God se krag sou juis deur Gídeon se ootmoedige gehoorsaamheid na vore kom.
Dit was ook nie in die lewe van Moses veel anders nie – hierdie man wat God in ootmoed gehoorsaam het sodat God se krag ook deur hom openbaar is. En na die plae waarmee Egipte geteister is en die volk onder sy hand uit Egipte gelei is, is Moses steeds in ootmoed op God ingestel. Hy probeer nie om in eie krag die leiding verder te neem nie. Wanneer die volk by die Skelfsee vasgekeer word, roep hy hulle nie tot oorlog op met die gedagte dat hulle hul eie heil en oorwinning kan bewerk nie. Hy volg in gehoorsaamheid God se opdrag om dit wat oënskynlik onmoontlik is te doen. En nie alleen lei hy in ootmoedige gehoorsaamheid die volk op droë grond deur die see nie, maar word Farao se hele leërmag in die see gestort. Daarna bely Moses dan ook dat hierdie oorwinning nie in eie krag of uit eie vermoë bewerk is nie, maar dat dit deur die krag van God was. “Die HERE is my krag en my psalm, en Hy het my tot heil geword. Hy is my God, Hom sal ek roem; die God van my vader, Hom sal ek verhef.” (Ex. 15:2).
Ons lees in Handelinge 3 waar Petrus en Johannes ’n man genees wat kreupel was van geboorte af. En wanneer die hele volk met groot verbaasdheid tot hulle nader oor hierdie kragtige werk, stel Petrus ook aan hulle duidelik dat hierdie wonder nie deur hulle eie krag bewerk is nie. En nog minder is dit deur hul regverdige of vroom lewenswandel – hierdie wonder is bewerk deur die geloof in die krag van God. “En toe die kreupel man wat genees was, aan Petrus en Johannes vashou, het die hele volk uitermate verbaas na hulle gehardloop in die pilaargang wat Salomo s’n genoem word. En toe Petrus dit sien, sê hy vir die volk: Israeliete, waarom is julle hieroor verwonderd, of waarom kyk julle ons so aan asof ons deur ons eie krag of godsvrug bewerk het dat hy loop? En deur die geloof in sy Naam het sy Naam hierdie man, wat julle sien en ken, sterk gemaak, en die geloof wat deur Hom is, het hom hierdie volkome gesondheid gegee in die teenwoordigheid van julle almal.” (Hand. 3:11, 12 &16). God se krag is ook tot sy eer in die ootmoedige en gehoorsame optrede van Petrus en Johannes openbaar. Dit is uit hierdie gebeure duidelik dat God se knegte inderdaad tot alles in staat is waartoe Hy hulle stuur omdat hulle vir die diens aan Hom op sy krag kan reken soos wat Paulus ook in Fil. 4:13 getuig. “Ek is tot alles in staat deur Christus wat my krag gee.”
Mag ons deur die voorbeelde uit God se Woord vandag opnuut tot die besef gebring word van die belangrikheid om ons te beywer om God in ootmoed te dien en te gehoorsaam sodat sy krag in ons lewe tot sy eer openbaar mag word. En dit nie omdat ons oor iets beskik waaroor Hy verleë is nie, maar omdat ons in liefde en met geloof in Hom en sy krag tot sy eer wil lewe.
“En Hy het vir my gesê: My genade is vir jou genoeg, want my krag word in swakheid volbring. Baie liewer sal ek dus in my swakhede roem, sodat die krag van Christus in my kan woon.” (2 Kor. 12:9).