Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wil jy jou take sukses vol uitvoer? Kyk maar na die mense wat hulself heelhartig gee vir hulle belangrike sake en take: hulle toon altyd 'n stygende lyn van sukses.
KULTUUR- DAGBOEK 31 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1. 1918: Lees in hoofartikel waaroor dr DF Malan se onafhanklikheidstoespraak hoofsaaklik gehandel het.
2. 1871: Basoetoeland se administrasie word met dié van die Kaapkolonie verenig.
3. 1929: Die spoorlyn tussen Messina en Beitbrug, die grenspos tussen SA en Zimbabwe, toe nog Rhodesië, geopen.
4. 1977: Die administrasie van Walvisbaai in SWA word na Kaapprovinsie verplaas.
1900: ZAR DEUR ENGELAND GEANNEKSEER
KULTUURDAGBOEK 31 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Lord Roberts was van mening dat wanneer hy in besit van Pretoria, die Transvaalse hoofstad, sou wees, die Republikeinse magte hulle aan Britse gesag sou onderwerp. Toe Roberts op 5 Junie 1900 Pretoria aan die spits van sy troepe ongehinderd binnegery het, het daar, anders as wat die Britte verwag het, geen versoek om onderwerping van Boerekant gekom nie en moes die oorlog dus voortgesit word.
Sowat twee maande later het die slag by Dalmanutha in die laaste week van Augustus plaasgevind. In die waan dat hierdie vir die Boere verlore slag die einde van alle Boereweerstand sou beteken, het Roberts op hierdie dag die ZAR tot Britse gebied geproklameer.
BAKPOEIERBLIKKIE GELOOF
Ds A.E. van den Berg
“Die geloof dan is 'n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, 'n bewys van die dinge wat ons nie sien nie” (Hebr.11:1).
Die mens is van nature verlore en volg derhalwe eerder 'n lewenspad weg van God af. Gevolglik is sy ewige eindbestemming die hel. Jesus sê self: “Gaan in deur die nou poort, want breed is die poort en wyd is die pad wat na die verderf lei, en daar is baie wat daardeur ingaan” (Mat 7:11).
Desondanks wil niemand graag hel toe gaan nie. Kan 'n mens dit verhoed ? Jy moet gered word; iets wat jy self nie kan doen nie. Niemand is so goed dat hy sy ewige eindbetemming kan verander nie. As jy in diep water in die moeilikheid beland, kan jy mos nie jouself aan die hare beetskry en wal toe sleep nie! Iemand sal dit vir jou moet doen, en dis Jesus. Maar daarvoor moet jy geloof hê.
KULTUUR- DAGBOEK 30 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1. 1953: Die Familiebybel in die vorm van die State-Vertaling het 'n baie belangrike rol by huisgodsdiens in die Afrikaanse gesinsverband gespeel; hiermee in gedagte is besluit om met die verskyning van die revisie van die Afrikaanse Vertaling, 'n Familiebybel in Afrikaans vir Afrikaanse gesinne beskikbaar te stel.
2. 1955: Rondalia het in 1955 as vakansie-oord by Hibberdene begin onder leiding van C.A.Bisschoff. Spoedig is dit omgeskakel in 'n Toerklub. Dit het gou 'n uiteenlopende reeks diense aan die motorpubliek begin lewer en vakansie-oorde, motelle, en die grootste duikklopwerk- en toetssentrum-organisasie in die land gewoerd met verskeie takkantore en die hoofkantoor in Pretoria. Hulle het ook 'n pragtige toeristeblad uitgegee genoem Die Mylpaal.
1848: GEVEG BY BOOMPLAATS
KULTUURDAGBOEK 29 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die republikeinsgesinde Trekkers tussen die Oranje- en Vaalrivier was gekant teen die anneksasie van die gebied deur sir Harry Smith vroeg in 1848. Op versoek van die Winburgers het Andries Pretorius met ‘n mag wat later tot 1 000 aangegroei het, in die Oranjerivier-Soewereiniteit aangekom en die Britse Resident versoek om die land te verlaat.
KULTUUR- DAGBOEK 29 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1. 1688: Die Franse predikant Pierre Simond sluit hom in opdrag van die Here XVII by die Hugenote in die Kaap aan.
2. 1848: Die slag van Boomplaats: hierdie veldslag waarin die Voortrekkers (Andries Pretorius se burgermag op versoek van die Winburgers) deur die Britte onder bevel van sir Harry Smith verslaan is, vind op hierdie dag plaas in die distrik Trompsburg in die Vrystaat. Opstandelinge is 'n boete gelykstaande aan wat vandag R40 000 sal wees opgelê.
GESEËNDE LENTE!
Die winter met sy kloue wat dood bring en verderf,
het met die windvlaag koue die landskap vaal geverf.
Toe, nuutgewek, het ingetrek die liewe skone lente in die land,
met voëlgesang die heeldag lang in weergalose soet refrein.
Al die mense is nou vrolik – heerlike lente na die koue winterweer;
al die mense is nou vrolik, niks kan ooit die lentevreugde keer!
Wie van ons oueres ken nie hierdie pragtige lied nie! Hoe laat dit ons aan ons onbesorgde jeugdae dink, wek dit heimweë na jonkheid blye môre, na laggies lank verlewe. Dan voel ons ook die traan in ons oë staan, en ons fluister: Here, vergewe! Hoe helder klink die vrolike sang van jongmense en kinders in die lente:
Al die veld is vrolik, al die voëltjies sing.
Al die kriekies kriek daarbuit', elke sprinkaan spring.
Al die koggelmannetjies kom om fees te vier.
Hier galop 'n goggatjie, daarso dans 'n mier.
TOELATINGSVEREISTE
Die leraar besoek die nuwe inrigting vir verstandelik gestremdes.
“Hoe besluit julle wie om hier op te neem?” vra hy die verpleër.
“Ons maak ’n bad vol met water en gee aan die persoon ’n lepel, koppie en emmer met die opdrag om die bad leeg te maak” sê die verpleër.
“O, ek sien, die slim een sal die emmer neem omdat dit groter is” sê die dominee begrypend.
“Nee, die slim een sal die badprop uittrek. Waar sal u graag ’n bed wil hê, dominee? Naby ’n venster?” vra die verpleër.
KULTUUR- DAGBOEK 28 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1. 1844: Victoria-Wes in die Noord-Kaap is op hierdie dag as Victoria gestig.
2. 1945: Agricura Laboratoria Beperk wat op inisiatief van dr HO Mönnig gestig is, produseer aanvanklik veemiddels maar onderneem later ook die vervaardiging van plantinsekmiddels, wat langs hierdie weg 'n wesenlike bydrae tot die Suid-Afrikaanse landboubedryf lewer.
3. 1875: Lees in hoofartikel meer oor die merkwaardige vrou, Maria Elisabeth Rothman, (M.E.R.)
1875: MARIA ELISABETH ROTHMAN (M.E.R.)
KULTUURDAGBOEK 28 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Maria Elisabeth Rothman is op Swellendam gebore. As M.E.R. het sy een van die mees geliefde en gewaardeerde skryfsters van die Afrikaanse letterkunde geword.
M.E.R. was een van die eerste vroue wat in Suid-Afrika 'n BA-graad verwerf het. In 1922 word sy aangestel as die eerste vroueredaktrise van Die Burger. Weens haar daadwerklike belangstelling in maatskaplike werk is sy in 1928 benoem tot die organiserende sekretaresse van die ACVV.
In 1938 word 'n Carnegiebeurs aan haar toegeken en het sy 'n studiereis onderneem na die VSA. Ook verskeie Europese lande het sy besoek.
1962: JOHANNESBURG STADSKOUBURG OPEN
KULTUURDAGBOEK 27 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Wat 'n openingsaand: die pragtige Stadskouburg, pas voltooi, open met 'n Afrikaanse opera! Toe die voorgordyn vir die eerste keer opgetrek word op 27 Augustus 1962, was dit in teenwoordigheid van die Republiek se eerste Staatspresident adv. CR Swart, en sy gade, en die Eerste Minister, dr HF Verwoerd en mev Verwoerd. Die dirigent vir die opvoering was ook 'n bekende Johannesburgse Afrikaner, dr Anton Hartman. Ons land se bekendste en destydse voorste sopraan, Mimi Coertse, is van die Staatsopera in Wenen, Oostenryk, teruggebring om die hoofrol te sing. Die manlike hoofrolle is deur Gé Korsten, en Hans van Heerden vertolk.
1966: TRANSVAALSE KOORRAAD GESTIG
KULTUURDAGBOEK 27 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Hierdie liggaam het sy ontstaan in die eerste plek te danke aan die suksesvolle optrede van die Republiekfeeskoor in 1966 by die Sentrale Fees by die Voortrekkermonument.
Die geesdrif van die persone wat deelgeneem het, het diegene wat die leiding op hulle geneem het, laat besef dat die geleentheid nog nie verby is om ons volk tot 'n singende volk te inspireer nie. Die Koorraad het dus opgetree as 'n koördinerende liggaam vir die verskillende kore en aanverwante verenigings en het daadwerklik bygedra tot die bevordering van sang in die algemeen deur die reël van plaaslike koorfeeste en ook koorfeeste op provinsiale of streeksbasis.
KULTUUR- DAGBOEK 27 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1. 1818: Cradock in die Oos-Kaap is op hierdie dag gestig.
2. 1855: Pres Jacobus Nicolaas Boshof, tweede president van die Republiek van die Oranje-Vrijstaat word ingehuldig.
3. 1962: Lees in hoofartikel oor Johannesburgse Stadskouburg wat met opera in Afrikaans open.
4. 1966: Lees ook oor die stigting van die Transvaalse Koorraad.
1933: EERSTE VERTALING VAN BYBEL IN AFRIKAANS
KULTUURDAGBOEK 26 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die vertaling van die Bybel in Afrikaans lê ten grondslag van die Eerste en die Tweede Taalbeweging van ongeveer 1872 en 1902. Al die ander bedrywighede van die lede van die Genootskap van Regte Afrikaners van 1875 en daarna het eweneens die Bybel in Afrikaans as motief en beginsel ondersteun.
In 1884 het ds SJ du Toit formeel met die vertaling begin. In 1912 het ds WJ Conradie se Kinderbybel die lig gesien. 'n Proefuitgawe van die Evangelies en die Psalms het in 1920 verskyn.
1914: NP VAN TRANSVAAL GESTIG
KULTUURDAGBOEK 26 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Op hierdie dag is die Nasionale Party van Transvaal in die Erasmussaal in Pretoria deur ongeveer 300 aanwesiges gestig. Die oogmerk was om die vertrapte nasionale en godsdienstige beginsel van die Afrikaner weer op te hef en om die breuk in volksgeledere te heel.
Die Botha-regering as sodanig het veral ook in die opvoeding nie die volk se godsdienstige beginsels gehandhaaf nie. Versoeningspogings het by herhaling misluk.
KULTUUR- DAGBOEK 26 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1929: Die eerste lugposdiens tussen Maitland, Kaapstad en Port Elizabeth word ingestel met die vervoer van vyf possakke.
1914: Lees in hoofartikel oor die stigting van die Nasionale Party van Transvaal in die Erasmussaal in Pretoria.
1933: Ook in 'n hoofartikel meer oor die eerste vertaling van die volledige Bybel in Afrikaans.
RIG HY ONS WEË?
Hannes Ollewagen
2 Kron. 27:1-9
“En Jotam het magtig geword, want hy het sy weë gerig voor die aangesig van die HERE sy God.” (:6).
Dit is vir ons uit hierdie en vele ander gedeeltes uit God se Woord duidelik dat dit in God se oë goed is dat die mens sy weë voor Hom rig. Ons lees in Psalm 25 waar Dawid verskeie kere vir die HERE vra om hom die regte lewensweg te wys. “He. Lei my in u waarheid en leer my, want U is die God van my heil. U verwag ek die hele dag.” (Ps. 25:5). Dit is ook uit hierdie Psalm duidelik dat God die mens wat met ootmoed na sy leiding vra, daarin onderrig. “Jod. Hy sal die ootmoediges lei in die reg en die ootmoediges sy weg leer. Mem. Wie tog is die man wat die HERE vrees? Hy sal hom leer aangaande die weg wat hy moet kies.” (Ps. 25:9&12).
KULTUUR- DAGBOEK 25 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
1685: Kommandeur Simon vd Stel vertrek op 'n lang ekspedisie na Namakwaland.
1900: Pres MT Steyn van die OVS kon tydens die Tweede Vryheidsoorlog in Waterval-Onder (Transvaalse Laeveld) aan vir beraadslaging met pres Paul Kruger van die ZAR kort voor lg se vertrek na Nelspruit. Hulle ontmoet mekaar vir die laaste maal by Hectorspruit in Noord-Transvaal voor Kruger se vertrek na Europa.
1942: AHI GESTIG
KULTUURDAGBOEK 24 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die gedagte vir die stigting van die Afrikaanse Handelsinstituut (AHI) het gekom van dr JG (Kaalkop) van der Merwe, wat reeds op die Ekonomiese Volkskongres van 1939 gepleit het vir 'n Afrikaanse handelsblad, Volkshandel, as voorloper. Met die ondersteuning van dr MS Louw, hoofbestuurder en uitbouer van Sanlam, is die FAK genader, wat 'n ondersoek uitgevoer en daarna 'n gidskomitee benoem het.
Die besluit tot stigting is op 10 Februarie 1942 in Bloemfontein belê. Dr JG van der Merwe is verkies tot die eerste voorsitter van die Afrikaanse Handelsinstituut.
Die doel van die AHI was om die jong ongeorganiseerde Afrikaanse sake, merendeels op die platteland, te verenig in een groot organisasie wat as spreekbuis vir hulle kon dien, om hulle belange te bevorder en om voorligting te gee.
1572: DIE BLOEDBRUILOF
KULTUURDAGBOEK 24 AUGUSTUS
Lees volledig by Kultuurdagboek
Die Bartholomeusnag of Bloedbruilof soos dit ook genoem word, het in 1572 plaasgevind toe duisende Protestante in Parys byeengekom het om die huwelik van Magaretha van Valois met Hendrik van Bourbon te vier.
Baie Franse Rooms-Katolieke het gevrees dat hierdie huwelik die Protestantse element in die land sou versterk. Daarom het hulle 'n vreesveldtog begin en die koning Karel IX en sy moeder Catharina de Medici daarvan oortuig dat hulle lewens in gevaar is. Die Franse Roomse hoë lui het die straatskares tot moord aangehits en Gaspard de Coligny as leier saam met 2 000 Hugenote, talle van hulle edelliede, vermoor.
Die aanval het versprei en voortgeduur, sodat ongeveer 20 000 Protestante om die lewe gebring is. Baie duisende het uit die land gevlug, en die Protestante se lewe het onveilig geword. Een so 'n persoon wat die land verlaat het was Chrétien de la Quellerie, die oupa van Maria de la Quellerie, die vrou van Jan van Riebeeck – 'n suiwer Godsbestiering vir Suid-Afrika!