... IN APOE4-DRAERS (APOLIPO-PROTËIN E)
Ons het gister gekyk na wat nuwe navorsing oor hoëvet dieëte te sê het met betrekking tot verspreiding van kanker in die liggaam. Vandag se navorsingsonderwerp behels ‘n minder bekende aspek nl die ApoE4-geen wat sommige mense dra en grootliks tot Altzheimer se siekte kan bydra. Hierdie artikel fokus hoofsaaklik op die dieet wat draers van hierdie geen behoort te volg om Altzheimers te probeer voorkom maar voordat ons daarby kom, moet ons eers meer uitvind oor wat hierdie ApoE4- geen werklik is, want mense met die grootste genetiese risiko om AS te kry is diegene wat die ApoE4-geen dra.
Die ApoE4-geen is die mees bestudeerde genetiese risikofaktor vir Altzheimer se siekte (AS), 'n toestand waarvan die voorkoms wyd toeneem en steeds sonder 'n geneesmiddel is. Presisievoeding wat metaboliese weë teiken (wat deur ApoE4 verander kan word), bied wel 'n instrument vir die potensiële voorkoming hiervan. Geen afgehandelde langtermyn menslike studies is egter nog beskikbaar om die voorkoming van Altzheimer se siekte (AS) in ApoE4-draers te bepaal nie. Gelukkig begin onlangse indiepte navorsing die kollig hierop werp. Hierdie nuwe data bied die geleentheid vir spekulasie oor hoe draers die risiko van AS deur lewensstyl en voeding kan verbeter. Hier leer ons dmv onlangse ontdekkings oor hoe ApoE4 baie dinge, waaronder insulienweerstandigheid en glukosemetabolisme, beïnvloed. Omdat dit ‘n lywige inhoud bevat, sal Gelofteland hierdie navorsing in verskeie aflewerings aanbied waarvan vandag die eerste is.
INLEIDING
Altzheimer se siekte (AS) is nou een van die top tien oorsake van dood in die Verenigde State en bly een sonder 'n genesingsplan. Selfs met betrekking tot simptoombestuur, misluk 99.6% van kandidate wat met tradisionele geneesmiddels behandel word. Teen hierdie tempo word verwag dat die aantal Amerikaners wat met AS leef, teen die middel van hierdie eeu sal verdriedubbel tot 13.8 miljoen, wat 'n onvolhoubare ekonomiese tol en 'n ondenkbare menslike las sal oplewer.
WAT IS DIE APOE4-GEEN?
Die APOE4-geen is 'n spesifieke weergawe (variant) van die apolipoproteïen (APOE)-geen, wat bekend is daarvoor dat dit die risiko van die ontwikkeling van Altzheimer se siekte verhoog, veral laat-aanvang Altzheimer se siekte. Alhoewel die oorerwing van APOE4 nie waarborg dat 'n persoon Altzheimer se siekte sal kry nie, verhoog dit hul risiko aansienlik.
Ons erf een APOE-geen van elke ouer. Dit het verskillende variante insluitend APOE4, APOE3 en APOE2. Ongeveer 25% van mense dra een kopie van APOE4, en 'n klein persentasie (2-3%) dra twee kopieë. As jy een APOE4-variant erf, het jy 'n verhoogde risiko vir Altzheimer se siekte. As jy twee APOE4-variante erf, is jou risiko dubbeld so groot. APOE4/4-draers is geneig om simptome van Altzheimer se siekte vroeër te ervaar, dikwels gemiddeld rondom 65 jaar oud. Afhangende of 'n draer een of twee kopieë het, verhoog ApoE4 die risiko van AS in die algemene bevolking met drie tot twaalf keer. Alhoewel slegs ongeveer 20% van die wêreldbevolking ApoE4 draers is, verteenwoordig hulle 'n geraamde 40-65% van Altzheimer-gevalle.
WAT IS DIE WERKING VAN DIE APOE-GEEN?
Die APOE se proteïen speel 'n belangrike rol in cholesterolvervoer en metabolisme in die liggaam. Dit het ‘n groot invloed op insulienfunksies, die bloed-breinversperring (BBB)-funksie asook vaskulêre funksies.
HOE WORD DAAR GETOETS OF JY DIE APOE4-GEEN DRA?
Bloedtoets:
’n Gesondheidsorgverskaffer sal ’n bloedmonster of soms ’n wangdepper neem om DNS te versamel.
Laboratoriumanalise:
Die monster word na ’n laboratorium gestuur vir analise om die teenwoordige APOE-variante te identifiseer, insluitend APOE4.
Resultate en bespreking:
Die resultate word teruggestuur na die verskaffer, wat die bevindinge aan jou sal verduidelik en enige implikasies vir jou risiko van Altzheimer se siekte sal bespreek.
WAT IS MIKROGLIA?
Mikroglia is die brein se inwonende immuunselle wat inflammasie help voorkom. 'n Brein sonder inflammasie sal heelwaarskynlik 'n brein vry van AS en baie ander siektes wees. Ongelukkig word die mikroglia dmv veranderinge hoofsaaklik verantwoordelik vir neuro-inflammasie (wat 'n noodsaaklike komponent van AS is). Eksperimente dui sterk daarop dat ApoE4 die mikroglia-funksie verander om siektes te bevorder. Mikroglia-gemedieerde inflammasie is 'n vroeë kenmerk van AS. Navorsing het getoon dat mikroglia-gemedieerde neuronale skade erger is in die teenwoordigheid van ApoE4.
Ook is waargeneem dat die beskermende effek van sekere anti-inflammatoriese stowwe (sitokiene wat afgeskei word deur die immuunsisteem) wat in nie-draers teenwoordig is, uitgewis word in ApoE4-draers. Data het ook getoon dat ApoE4 die brein prikkel om met 'n sterk inflammatoriese sein terug te reageer in reaksie op 'n inflammatoriese besering. ApoE4 ontwrig ook vetsure. Soos die ApoE4-brein verouder en nie energiek kan kompenseer nie, wil dit voorkom asof 'n "metaboliese krisis" dan onvermydelik is.
Daar is ook bevind dat ApoE4 die brein se kognitiewe funksie kan verander deur serebrale bloedvloei te verminder. Nadelige gedragsveranderinge is opgemerk. Dus moet 'n effektiewe voedingsstrategie vir die voorkoming van AS in ApoE4-draers fokus op die blokkering van negatiewe komponente en die optimalisering van serebrale bloedvloei.
Hierdie bevindinge waarin ApoE4 mikrogliale gedrag en die inflammatoriese reaksie patologies verander om by te dra tot die ontwikkeling van AS, bied dan nou 'n teiken vir presiese voedingsintervensie.
Gelofteland sal dus in die volgende aflewering uitbrei oor waarom watter voeding sekere voordele en nadele vir hierdie toestand meebring.
Voeding.../2