Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is wel redes waarom Suid-Afrikaners die afgelope paar jaar met lang gesigte loop, maar daar is rede om ook te glimlag – God is in beheer van alle omstandighede. Daarom kan ons saam met die digter in Psalm 42 sê: Hoop op God, want ek sal Hom nog loof – die verlossing van my aangesig en my God! Dit is moontlik om God se vriendelike aangesig te ontmoet en sy glimlag oor ons te voel skyn, dan sal óns aangesigte ook verhelder!
DOBBEL: HOOR WAT SÊ DIE BYBEL
Anita Joubert
ʼn Baie groot persentasie van Suid-Afrika se bevolking noem hulleself Christene. ʼn Christen is, volgens enige verklarende woordeboek, iemand wat in die Drie-enige God: Vader, Seun en Heilige Gees, glo. ʼn Christen glo dus ook dat God die Skepper van hemel en aarde en die Onderhouer van alle goeie dinge is; dat die Bybel die waarheid is en dat ons deur dit te lees, die karakter van God kan leer ken.
Dit wat ons in die Bybel lees, is nie ʼn klomp verhale wat handel oor volmaakte mense nie. Nee, dit is die ware vertelling van ʼn volmaakte God se handeling met ʼn klomp sondige, wederstrewige mense, vanaf die sondeval tot vandag toe, dwarsdeur ses duisend jaar.
Die Here sê vir ons dat Hy nie verander het nie.(Mal. 3:6). Die skrywer van die brief aan die Hebreërs sê dat Jesus Christus gister en vandag dieselfde is tot in ewigheid (Heb. 13:8). Met ander woorde, dít wat vir God reg van die begin af ʼn gruwel en afskuwelik was, is dit vandag nog steeds.
Die Here het vir sy volk gesê dat Hy onverdeelde trou aan Hom vereis. Hy het aan ons die lewe geskenk en Hy wil ons nie met afgode deel nie (Eks. 20:5; 34:14).
Moses het vir die volk gesê: “… die afgodsbeelde is afskuwelike goed in die oë van die Here jou God. Moenie iets so afskuwelik in jou huis inbring nie, want dan is jy gedoem om vernietig te word. (Deut. 7:25-26)
Die apostel Johannes het ook die vroeë Christene gewaarsku: “En ons weet dat die Seun van God gekom het en ons verstand gegee het om die ware God te ken; en ons is in die ware God, en sy Seun, Jesus Christus. Hy is die ware God en die ewige lewe. Liewe kinders, bly dus weg van die afgode af.” (1Joh. 5:20-21)
Noudat ons presies weet hoe die Here voel oor afgode en hulle verering, kan ons kyk na wat die Here gesê het deur die profeet Jesaja: “Maar julle wat van die Here afvallig geword het, julle wat my heilige berg verlaat het, julle wat vir die afgod Gad offermaaltye hou, wyn inskink vir die afgod Meni…” (Jes. 65:11 – 1983 Afr. Vert.)
Hierdie sin in Jesaja 65:11 gaan nog aan in vers 12, maar voordat ons dit verder lees en oordink, moet ons eers baie mooi verstaan wie die afgode Gad en Meni is. Die 1953 Afrikaanse Vertaling sê baie duidelik dat dit die geluksgodin en die godin van die noodlot is. Dit is twee Babiloniese afgode wat met geluk en noodlot geassosieer word. In die Griekse afgodediens bestaan daar ook ʼn Griekse godin, Tyche, wat met geluk, kanse en voorspoed verbind word. Hierdie godin se Romeinse gelyke, se naam is Fortuna.
Al hierdie volke het geglo dat deur hierdie godinne te vereer, dit vir hulle geluk en rykdom sou bring. Dit is presies wat vandag nog gedoen word wanneer daar aan enige dobbelpraktyk, trekking van lootjies met gelukkige nommers of die speel van die Lotto, deelgeneem word. Hierdie geluksgodinne word vereer.
Wanneer daar in die Bybel van die heilige berg van God gepraat word, dan is dit altyd simbolies van God se teenwoordigheid, sy heiligheid en en sy Goddelikheid. In Psalm 15:1 vra Dawid die vraag: “Wie het die reg om in u woonplek te kom, Here? Wie mag op u heilige berg vertoef?”
Hy gee dan self vanaf vers 2 die antwoord en sê wie dit is wat op God se heilige berg mag wees. Dit is diegene wat opreg en gehoorsaam voor Hom lewe. Lees dit gerus self.
Die Here sê dus in Jesaja 65:11 dat mense wat hierdie godinne van geluk en noodlot vereer en vir hulle offermaaltye hou en wyn inskink, is mense wat sy teenwoordigheid verlaat – sy heilige berg, waar ons sy liefde, sy voorsiening en sy beskerming geniet.
Mense wat dobbel, en daarby word enige vorm van geluk en kanse ingesluit, maak staat op ʼn klomp dooie afgode en ʼn klomp skelm, korrupte dobbelbase wat die masjiene op so ʼn manier stel, dat die kans om iets te wen, tot die minimum beperk word, sodat hulle die geld in hulle sakke kan steek.
Mense wat dobbel, gee dus hulle geld wat God aan hulle voorsien het vir hulle lewensonderhoud en om by te dra vir die uitbreiding van sy koninkryk, aan ʼn klomp skelms wat al die pad bank toe, lekker lag.
Dit is God was sy kinders oorlaai met goedheid en guns – wat ons by ʼn feesmaal laat aansit, as ons Hom net wil vertrou. Paulus het aan die gemeente in Korinte geskryf dat God by magte is om aan ons alles in oorvloed te skenk sodat ons in alle opsigte altyd van alles genoeg kan hê en volop kan bydra vir elke goeie werk (2 Kor. 9:8), maar ons gooi dit alles in sy gesig terug wanneer ons dobbel of Lotto speel in die hoop dat ons sal wen.
Wat ʼn ontsettende klap is dit nie in die gesig van ʼn almagtige God nie! Hy het ons geskep, gevorm in ons moederskoot (Ps. 137:17). Die grootste probleem is egter dat God aan die mens ʼn vrye keuse gegee het. Ons is nie ʼn klomp marionette wat aan toutjies beheer word en gedwing word om ʼn lewe te lei wat God verheerlik nie. Ons het ʼn keuse. Ons moet self kies of ons die Satan en sy koninkryk van die duisternis wil dien, of die almagtige, lewende, liefdevollge God en die koninkryk van die hemel. Hy het die mensdom só liefgehad, dat Hy sy enigste Seun gegee het om vir ons sondes te sterf sodat ons oorwinning oor die duiwel en die koninkryk van die duisternis kan verkry; sodat ons saam met God en Jesus Christus die ewige lewe kan kry; sodat ons nie die ewigheid in die hel hoef deur te bring nie.
Maar wat doen ons? Ons as volgelinge van Jesus, wat onsself Christene noem – ons draai ons rug op God. Ons speel met dieselfde magte van die duisternis waaroor Jesus vir ons die oorwinning behaal het sodat ons in oorwinning kan leef, asof hulle ons speelmaatjies is.
Josua en Elia het albei by geleentheid vir die volk gesê dat hulle moet kies wie hulle wil dien – afgode of die lewende God (Jos. 24:15; 1 Kon. 18:21)
Elkeen wat tot hier gelees het, kan ook nie meer skuil agter onkunde nie. Jy weet nou wat die waarheid is en moet self ook kies.
Die res van die sin in Jesaja 65:11, gaan voort in vers 12, en klink so: “Ek gaan julle straf met die dood, julle sal almal inmekaar sak en doodgesteek word, omdat julle nie geantwoord het toe Ek geroep het nie, nie geluister het toe Ek gepraat het nie. Julle het gedoen wat verkeerd is in my oë, julle het gekies wat My nie aanstaan nie.” (Jes. 65:12)
God het vir Israel reg aan die begin, nog voordat hulle die beloofde land binne gegaan het, deur Moses gewaarsku dat hulle die land gaan verloor as hulle nie sy gebooie gehoorsaam en hulle aan sy waarskuwings steur nie.
Toe die profeet Jesaja van God die opdrag ontvang om as profeet op te tree en die volk te waarsku, was dit teen ʼn agtergrond van vrede en buitengewone voorspoed. Ongelukkig bring voorspoed altyd trots en verwaandheid, en Jesaja se waarskuwing het op dowe ore geval. Eers is die Noordryk in 733 v.C., en toe die Suidryk (Juda) in 587 v.C., in ballingskap weggevoer. Dít waarteen Jesaja gewaarsku het, het presies net so gebeur.
Ongeveer drie jaar gelede, was daar een aand ʼn televisieprogram oor die Kyknet kanaal, wat oor plaasmoorde gehandel het. Die program was baie visueel saamgestel; niks is weggesteek nie. Ek en my man het saam daarna gekyk en ons albei het in absolute afgryse na die verskriklike tonele van wreedheid en barbaarsheid gekyk waarmee die mense vermoor is.
In sommige gevalle het die bloed letterlik teen die mure afgeloop soos wat die slagoffers vir hulle lewens geveg het. Ek het in daardie oomblik my hande in die lug gegooi en letterlik na ons almagtige God uitgeroep: “Waarom gebeur dit, Here? Waar kry die duiwel die reg om die mense só wreed te vermoor?”
Die Here het my net een antwoord gegee – helder en duidelik: “Jesaja 65 vers 11 en 12.”
Ongelukkig doen mense soms dinge uit pure onkunde. Die Here het deur sy profeet Hosea gesê: “My volk gaan te gronde weens gebrek aan kennis.” (Hos. 4:6 – 1953 Afr. Vert.) In die 1983 Vertaling klink hierdie vers so: “My volk gaan onder omdat hulle nie aan my toegewy is nie.” Wanneer ons toegewyd aan God lewe, dan sorg ons dat ons weet wat in die Bybel staan.
Die res van die vers is ook ʼn baie ernstige vermaning vir predikers wat hulle taak om God se kinders aanHom toe te wy, nagelaat het. Gaan lees dit gerus.
Predikante en pastore wat dit deur die jare nagelaat het om hulle gemeentelede te waarsku, en toegelaat het dat kerkbasaars in dobbelgeleenthede ontaard, staan net so sterk onder die oordeel van God as die persone wat self dobbel.
Dr. Willie Marais was ʼn fenominale prediker van die N.G. Kerk vanaf ongeveer 1960 tot 1995. Baie van ons ouer mense kan hom nog goed onthou. Ek het homself een maal in ʼn preek oor dobbel, gehoor sê dat hy as jong predikant ʼn plakboek gemaak het. Daarin het hy alle koerantuitknipsels geplak van berigte oor die mense wat die destydse Rhodesian Sweepstakes gewen het. Hy het vertel dat elkeen van daardie persone ʼn rukkie nadat hulle gewen het, aan onnatuurlike oorsake dood is.
Dr. Willie het ook, toe hy al sewentig jaar oud was, ʼn boek geskryf oor sy eie lewe, met die titel: “ʼn Man van God gestuur.” Hy vertel in sy boek dat hy die predikant was van die N.G. Gemeente Pretoria-Oos, waar die Eerste Minister, John Vorster, ook ʼn lidmaat was.
Toe dit bekend geword het dat die Nasionale Regering van plan was om Bonusobligasies in te stel, het die kerkraad van die Pretoria-Oos gemeente eenparig besluit om beswaar by die Kabinet aan te teken. Die Bonusobligasies was ʼn beleggingskema waar landsburgers aangemoedig is om hulle geld, teen rente, in die staatskas te belê. Om mense te lok en aan te moedig om dit te doen, is daar van tyd tot tyd gelukkige nommers getrek en dan is daar bonusse uitbetaal. Dit was in wese niks anders as ʼn staatslotery nie, en duisende ou mense het hulle aftreegeld so belê, in die hoop dat hulle ook gelukkige wenners sou wees.
John Vorster en sy Kabinet het hulle nie veel aan die kerkraad se besware gesteur nie, en toe dr. Willie weer ʼn keer vir John Vorster bel om by hom te pleit om dit nie toe te laat nie, was John Vorster se antwoord: “Ons het klaar besluit, Doktor.”
“Dan, Minister, het die Here ook oor u en u regering, klaar besluit,” het dr. Willie hom na ʼn paar oomblikke van stilte geantwoord.
Dr. Willie vertel in sy boek dat hy die aand gevoel het asof iemand vir wie hy baie, baie lief was, gesterf het.
Skaars 18 jaar later, na die verkiesing op 27 April 1994, het die Afrikanervolk opgehou om sy eie land te regeer, en het dit net al hoe slegter begin gaan. Die Afrikanervolk het ballinge in hulle eie land geword, want dit is die Here wat oor die lotgevalle van volke en nasies beskik (Job. 12:23). Hy doen wat Hy sê: Wanneer ʼn volk nie wil luister en na Hom terugkeer nie, dan word daardie volk gestraf.
Neem kennis
Ons moet vir geen oomblik dink dat dit in ons land beter sal gaan wat al die geweld, wreedheid, armoede, korrupsie, plaasmoorde en ander moorde betref, voordat ons as volk na die lewende God toe terugkeer nie. Ons sal móét wegdraai van ons sonde af, ons afgodsaanbidding laat staan, en die Here Jesus se vergifnis in ware berou, vra.
Die Here sê dat as sy volk, oor wie sy Naam uitgeroep is, berou toon en bid en na sy wil vra, en wegdraai van hulle bose weë af, dan sal Hy luister uit die hemel, hulle sonde vergewe en hulle land herstel (2 Kron. 7:14).
Ons moet glad nie verbaas wees dat dobbel ʼn verslawing word nie. Die opwinding wat daarmee saamgaan, veroorsaak so ʼn hoë adrenalienafskeiding, dat dobbelaars later nie meer daarsonder kan funksioneer nie. Net soos met pornografieverslawing, verg dit dan groot wilskrag en die krag en genade van ʼn lewende God om daarvan vry te kom. Niks is egter vir God onmoontlik nie en elkeen van ons is tot alles in staat, deur Christus wat vir ons die krag daarvoor gee. (Fil. 4:13)
Die duiwel en sy koninkryk lok en wink ons nader met opwinding, want aan die begin is sonde mos lekker. Na ʼn rukkie is jy verslaaf en so diep daarin dat dit moeilik is om uit te kom. Wanneer hy jou dan uitgeroei en jou lewe verwoes het, spoeg hy jou uit om te vergaan – en vir hom en sy demone is dit ʼn groot genot om jou te sien swaarkry, en veral om jou hel toe te kan sleep.
Verstaan dus baie goed:
- Elkeen wat enige vorm van dobbel of lotery beoefen, bring ʼn vloek oor homself en sy mense. Die duiwel soek net ʼn smal opening waar hy wettige toegangsreg in jou lewe kan kry.
- Elke prediker wat nie sy gemeentelede waarsku nie, en wat toelaat dat daar op die kerkterrein, in die naam van fondsinsameling, dobbelpraktyke beoefen word, sal daarvoor voor God verantwoording doen.
- Hierdie ANC Regering wat dobbel in Suid-Afrika gewettig het met die Lotery Wet 57 van 1997, sal voor God verantwoording doen.
- Daarmee saam sal die ANC Regering ook verantwoording doen vir die lewens van derduisende babas wat in Suid-Afrika vermoor is onder die Wetgewing 92 van 1996, waarvolgens vroue die keuse van swangerskapbeëindiging gekry het.
Kom ons staak ons deelname aan loterye wat deurdobbelplekke, banke of die internetaangebied word, asook enige ander vorm van staatmaak op geluk om iets te wen!
Mag die Here ons mooi land genadig wees. Kom ons vra die Here om ons te vergewe en ons land te genees.
Kies vandag wie julle wil dien, Suid-Afrika: Die lewende God of afgode.