Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Wanneer mense 'n lig het wat uit hulle skyn, het niemand nodig om mekaar se harte in te dring nie, want dan leer ons mekaar ken soos ons saam in die donker stap. Laat jou lig skyn sodat ander jou so leer ken.
ONS VIER JESUS SE GEBOORTE, NIE SY GEBOORTEDAG NIE
Is 25 Desember werklik die geboortedag van Jesus of kom dit uit die heidendom soos sommige kritici beweer? Die antwoord op beide die vrae is nee; 25 Desember is nie die werklike geboortedag van Jesus nie. Dit kom egter nie uit die heidendom soos sommiges glo nie. Wat wel waar is, is dat 25 Desember sedert die vierde eeu nC die Christelike kerk se feesdag is waarop Jesus se geboorte gevier word. Let wel: sy geboorte en nie sy geboortedag nie! Daar is ‘n groot verskil om ‘n gebeure te vier of ‘n dag te vier. Die dag waarop mens ‘n gebeure vier is minder belangrik as die gebeure self. As ons dan nie die presiese dag van Jesus se geboorte weet nie, dan kies ons maar ‘n dag om dit wat belangrik is te doen. Want as ons nie Jesus se geboorte erken nie, kan ons ook nie sy tydperk op aarde tot by sy kruisiging erken nie. En as ons sy kruisiging net soos sy geboorte ontken, dan het ons geen deel aan Hom en die ewige lewe hierna nie en is so 'n siel verlore.
Dat Jesus se geboorte op of naby aan 25 Desember geskied het, is wel ’n moontlikheid. Die vroeë kerk het aan die hand van ou Joodse geskrifte die tyd van Sagaria se diensbeurt in die tempel uitgewerk. Dit was glo in September van daardie jaar. In daardie tyd het ’n engel aan hom verskyn en van Johannes (die Doper) se komende geboorte verwittig. Werk dit ’n bietjie uit - Elizabeth was ses maande swanger toe ’n engel Maria oor Jesus se komende geboorte ingelig het. Dit was dus in Maart. Die kerk het hierdie datum op 25 Maart bereken. Die geboorte van Jesus was nege maande later – 25 Desember.
Daar is talle besware teen hierdie datum. Desember is winter in die Noordelike Halfrond en herders sou kwansuis nie tydens die koue in die veld wees nie. Dis moontlik. Tog moet daar rekening gehou word dat skape die heel jaar by die tempel geslag is, hoofsaaklik skape wat in Betlehem (naby Jerusalem) aangehou is. Daarom kon dit in Desember gewees het.
Uit ou geskrifte is dit duidelik dat Kersfees nie in die vroeë kerk gevier is nie. Dit het eers in 386 nC ’n vaste datum in die kerk geword, waarna 25 Desember oral byval gevind het. Veertien eeue later het kritici met bewerings voor die dag gekom dat Kersfees ’n heidense oorsprong het en die Roomse Kerk die skuldige een was wat ’n heidense fees verchristelik het. Daar is hoegenaamd geen bewyse vir so ’n aantyging nie. Gevolglik hou dit nie water nie.
Kersfeesdag kom wel na aan die winter-sonstilstand wat deur die Romeine op 26 Desember gevier is nadat dit deur ’n weeklange fees van 16-23 Desember voorafgegaan is. In die vroeë kerklike geskrifte is daar geen aanduiding dat die kerk ’n datum van die heidene geleen of dat Kersfees die heidense fees vervang het nie.
Die kerk was egter bewus van hierdie heidense fees, maar het geglo dat die herdenking van Jesus se geboorte op 25 Desember nie blote toeval was nie, maar deur God so beskik is. En daar was ’n goeie rede voor. In die Noordelike halfrond het die son dan gedraai en somer-toe begin beweeg. Die heidene het dan ’n sonfees ter ere van die onoorwinlike son gevier. Maar Wie is die ware onoorwinlike? Jesus Christus, onse Here! Hy is ook die Lig wat in die donker verskyn het; die Son van geregtigheid wat opgekom het. Dit was vir die gelowiges ’n goddelike bevestiging van ’n wonderlike waarheid.
Die presiese datum van Jesus se geboorte maak regtig nie saak nie. Christene herdenk nie sy geboortedag nie, maar sy geboorte as sulks. Nie die dag nie, maar die wondergebeure waarvan die teksvers melding maak. “En terwyl hulle daar was, is die dae vervul dat sy moes baar”.
Die vraag is nie of ons Kersfees mag vier nie, maar hoe gelowiges dit moet vier. Kersfees is ’n tyd van welwillendheid; ’n tyd van gee. God het gegee; ons moet ook gee. Daarom gee ons geskenke. Ongelukkig het dit wat heilig is ’n handelsfees geword – mense word met hoë pryse uitgebuit en om te voorkom dat Kersfees heidene aanstoot gee, word eerder van die Festive Season gepraat, nog ‘n onheiligheid.
Kersfees gaan oor God se liefde. “Want so lief het God die wêreld gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het….” (Joh.3:16). Dit wat God in Christus kom doen het, is die ewige maatstaf van wat liefde is. Vier Jesus se geboorte deur liefde te bewys. Ons het mekaar lief omdat ons God liefhet. Daarom is dit lekker om as familie by mekaar te kom en iets spesiaal vir mekaar te doen. Kersfees is die geleentheid vir getuienis van Christus se geboorte wêreldwyd. Daarom bly Christene dit wêreldwyd vier. Almal moet weet dat die Verlosser gebore is.
Dit is ook hiermee ons wens dat Geloftelandlesers hierdie Kersfees rondom Christus sal vier, omring van geliefdes wat saam die vreugde van Christus se geboorte en ons redding deel.