Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die mees effektiewe vorm van regering is die gesin self – die gelowige gesin is in wese ook 'n klein kerk op sy eie – dit wil sê: die krag van 'n hele volk hang van die integriteit, geloof en toewyding van die gesin af.
HOE MOET ONS STAANDE BLY?
Dit was die skrywer Richard Weaver wat gesê het dat daar nie iets soos internasionale "wortels" met betrekking tot kultuur bestaan nie. Hy het hom sterk uitgespreek oor die beskerming van 'n volk se eie kultuurwaardes wat soos 'n heiligdom bewaar moet bly indien die volk nie verdring en vertrap, vermoor en totaal uitgewis wil word nie. Wanneer die reg van 'n volk op voorkeure in sy kultuurlewe van hom ontneem word soos dit nou met die Afrikanervolk gesteld is sodat daar nie meer een voorkeur vir 'n bepaalde beginsel bestaan nie, dan word dit 'n lewe sonder beginsels en dán verval 'n volk in 'n beginsellose pad na selfvernietiging. Geen wonder daar is onder ons volksgenote soveel gevalle van depressie, selfmoord, en veral volksverraad nie.
Daarby het ons volk volkome kulturele selfmoord gepleeg wat uiteindelik gelei het tot politieke selfmoord, en as ons nie gou omdraai nie, sal lei na volkome volksmoord. Die wisselwerking tussen politiek en kultuur is vir die onthalwe van 'n staande volk van die grootste belang: verwaarloos hy die een, verloor hy die ander baie gou. Ook beskerm die een die ander en wanneer die regte politieke leiding dáár is word 'n volk se kultuurbasis versterk en behou hy sy mag. So is alleen 'n volk wat vierkantig waghou oor sy kulturele sake, in staat om weer die politieke mag in sy land te bekom en te behou. Selfs sou hy die mag van selfbeskikking deur onverwagte genade bekom terwyl sy kulturele waardes in die drein afgespoel het soos nou, sal hy daardie politieke mag vinniger verloor as wat hy dit bekom het.
Jaap Marais het gesê ons volk het weer mense aan die roer nodig wat bereid is om alles te waag om die historiese lyn van ons volk nie te laat verbreek nie. As ons dan nie bereid is om as volk uitgewis te word nie, is die een uiters belangrike saak waarmee ons ons behoort besig te hou in 'n tyd waarin ons geen politieke mag besit nie, die herstel van elke kultuurterrein tot dit weer is soos dit was in die tyd toe ons wel oor die politieke mag beskik het. En die man wat dink dit was toe sommer net 'n aangename of selfs onaangename tydverdryf in daardie tyd, het geen idee watter rol die beoefening en beskerming van ons volkskultuur gespeel het om aan die Afrikaner die politieke mag in Suid-Afrika te besorg en te laat behou het nie.
Onkunde oor wat kultuur beteken en behels en die argeloosheid daaroor, het ook grootliks bygedra tot die toestand waarin ons volk vandag verkneg en vermoor word. Kultuur het vir ons 'n siellose ding geword, 'n wankultuur, en daardeur het ons alles verloor wat vir ons kosbaar was. En nog kan geen mens kultuur ontvlug nie, veral nie in hierdie 'Nuwe Suid-Afrika' met sy kultuur van Swart barbarisme nie; mens bly altyd onder die een of ander kultuurstyl vasgevang, en ons het onder listige vuilspel van ons volksvyande dié keuse gemaak om ons unieke en beskaafde kultuur te verruil vir een van wanorde, korrupsie, moord en misdaad. Dié dinge is alles deel van die swart regime se kultuur, iets wat nie kan verander nie en op ons bly afgedwing sal word solank hulle die politieke mag het.
Dit wil voor kom of die vyande van die Afrikaner 'n beter besef van die ontsaglike waarde van 'n volk se kultuur het as die Afrikaner self. Hulle het ook goed geweet dat hulle ons volk kan 'bestuur' deur ons denke te 'orden'. Omdat ons nie ons 'heiligdom' beskerm het nie, kon hulle dit deur middel van volmaakte breinspoeling vervang met wat ons ondergang sou meebring. Dit was nie baie moeilik om Afrikaners te laat glo dat politiek, kerkbywoning, suiwer taalgebruik, afsonderlike ontwikkeling, ons heldegeskiedenis en elke terrein van ons kulturele bestaan, nou uit die mode en selfs 'n sonde is nie. Ons het sonder veel weerstand plek gemaak vir 'n internasionale kultuurstyl van neusringe, velgrafering en kleremodes wat ons voorouers sou laat beswyk. Pophelde in die plek van De Wet, De la Rey en Verwoerd; Harry Potter en TV in plek van opbouende lektuur; stampmusiek wat ons ore laat tuit en ons harte laat sluit, saamblyery, ANC-gewettigde aborsies, dobbel en hoerery – dit is alles deel van ons aangenome swart kultuur in die naam van 'vrywording' en 'demokrasie' wat deur internasionale magte op ons afgedwing is. Die gevolg? Selfs universiteitstudente kan vandag nie eers behoorlik lees, skryf of spel nie; reeds drie geslagte weet feitlik niks van hulle herkoms en geskiedenis nie; ons waardes is verrot, sielloos, Godloos, en ons volk weet nie waarheen hulle oppad is nie want 'n volk wat nie weet waarvandaan hy kom en hoe hy in hierdie toestand beland het nie, kán nie weet waarheen hy oppad is nie! Dus besef die Afrikanervolk nie eers dat hy, geestelik en fisies ontwapen, binne die laaste loopgraaf verkeer nie – presies dít wat ons volksvyande vir ons beplan het.
En nou wil hierdie volk sy vryheid in sy eie vaderland terughê? Hy wil weer die politieke mag oor minstens homself uitoefen, sê hy. Maar hy weet nie meer hoe om te lees, te skryf, te dink, te praat of nog die ergste, sy sondige toestand op sy knieë te bely en te laat staan nie, wat staan nog sy geloof met gereelde gebed versterk soos sy voorvaders by Bloedrivier – 'n Godgegewe voorbeeld hoe om ons eie huidige 'Bloedrivier' te hanteer.
As daar één ding is wat ons vandag in ons weerlose toestand moet doen, dan is dit om terug te keer na ons Drie-enige God, Skepper van hemel en aarde by Wie niks onmoontlik is nie. Hy alleen kan 'n wonderwerk in ons land bewerk. Selfs die begeerte om uself weer op te hef, uself te bemagtig op elke kulturele gebied sodat ons weer die politieke mag kan bekom, kan net van Hom kom. En die proses sal van ons eis om die enigste toelaatbare 'verraad' te pleeg naamlik teenoor onsself: ons selfsug en ego's op die altaar te lê, oor te gee, uit te lewer sodat God daarmee kan klaarspeel, en ons gelouter en gereinig die pad sal aandurf.
Natuurlik sou dit makliker wees onder ware volksleierskap, maar in die huidige landstoestand is daar geen moontlikheid daarvoor nie en is volksgenote op hulself aangewese om die eerste stap te neem; maar onthou ook dat 'n volk uit individue bestaan, daarom is élkeen van ons 'die volk', en kán ons met behulp van ons enigste Leier, Jesus Christus, in hierdie tyd 'n ommekeer maak – Hy wag nét vir óns!
Ook slegs ons hemelse Vader kan ons volk die wysheid gee om ons kleinlike verskille wat daagliks deur die vyand geplant word te oorbrug en ons helderheid skenk in sy Plan met ons sodat ons die werklike slagveld kan identifiseer.
Hý alleen kan ons die heldemoed van ons voorouers gee om, soos Jaap Marais gesê het, waarlik aan die roer te kom en alles te waag om die historiese lyn van ons volk te laat voortvloei. En as ons dit vandág doen, dan ís daar hoop vir ons. Solank ons nog 'n klein Gideonsbende vorm wíl Hy Hom oor ons ontferm want dit alles strek tot eer van sy Heilige Naam. Laat ons dan vandag nog erns daarmee maak om die pad na herstel te stap, met Hom heel vooraan!
Laat ons 'ja' weer ons ja wees, en ons 'nee', ons nee.