Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Isebel adem ʼn gees wat by alle heidene voorkom - die drang om te wil beheer. Ons besef nie hoe sterk die vlees is nie. Dit manipuleer, domineer en intimideer mense soos Isebel met Israel gedoen het!
POS- EN AFLEWERINGS
SKOOLPROJEK
Voordat die Kaapse nedersetting gestig is, het baie Nederlandse en Engelse skepe hulle in Tafelbaai kom verfris. Matrose het briewe onder groot, gegraveerde klippe gelaat en gehoop dat dit gevind en afgelewer sou word. Daar was in Tafelbaai gou baie posklippe waarop die name van skepe en hul offisiere uitgekerf was.
Die eerste posbus was 'n ou stewel wat in 1501 deur Pedro d'Ataide, 'n verbyvarende Portugese seekaptein, in 'n boom in Mosselbaai gehang is. Die brief in sy stewel is deur 'n matroos ontdek.
Vandag is pos- en telekommunikasiedienste baie meer gesofistikeerd en doeltreffend.
Die Kaapse Posdiens
Nadat die nedersetting gestig is, was posklippe en stewels nie meer nodig nie omdat skepe die Kaap gereeld aangedoen het . In 1792 het 'n poskantoor in Kaapstad begin om pos tussen Europa, die Oos-Indiese Eilande en die Kaap te hanteer. Amptelike dokumente is ook deur Khoikhoi-boodskappers – wat dit soos 'n aflosspan vir mekaar aangegee het – na landdroste geneem. Die Kaap het eers in 1805 'n gereelde binnelandse posdiens gekry.
Ons Eerste Poskantore
In 1849 het die Oranjerivier-soewereiniteit sy eerste poskantoor geopen, en die volgende jaar is vier in Natal geopen. Transvaal se eerste poskantoor by Ferreira se Kamp – later Johannesburg – het al die pos na die goudmyne hanteer. Teen 1899 was alle dele van Suid-Afrika deur poskoetsroetes verbind. 'n Gereelde posdiens is ingestel en 'n posunie het tot stand gekom tussen al die landsdele wat voor 1994 vier provinsies was en nou die nege provinsies van Suid-Afrika genoem word, asook Mosambiek.
Seepos
Vanaf 1815 het skepe wat na en van Indië gereis het, een keer per maand pos tusssen Engeland en die Kaap afgelewer. Die seereis van 114 dae is tot 58 dae verkort toe die eerste stoomskip, die Enterprise, in 1825 in Tafelbaai aangekom het. In 1857 het die Union Line die Kaapse seeposdiens oorgeneem. In 1900 het die Union en die Castle Line saamgesmelt tot die Union-Castle Mail Steamship Company. Die laaste posskip, die Windsor Castle, het in September 1977 uit Tafelbaai vertrek.
Lugpos
Op 27 Desember 1911 het Evelyn Driver 'n eenmotorige Bleriot-vliegtuig met 729 poskaarte aan boord van Kenilworth na Muizenberg in die Kaap geloods. Maar mense het nie die nuwe lugposdiens vertrou wat in 1925 tussen Kaapstad en Durban ingestel is nie en dit is laat vaar. Gelukkig is 'n nuwe lugposdiens in 1929 tussen Kaapstad, Port ELizabeth, Oos-Londen, Durban, Bloemfontein en later ook Johannesburg ingestel. Dit is in 1939 met die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog beëindig omdat alle vliegtuie vir militêre gebruik nodig was.
Hedendaagse Posdienste
Vandag word briewe en pakkies per pad, spoor en lug, soms selfs per fiets vervoer. Pos word ook by privaat posbusse by poskantore in Suid-Afrika afgelewer. Masjiene sorteer tot 30 000 items per uur volgens nommers, en daarom is 'n poskodestelsel in 1973 ingestel – elke poskantoor het sy eie kode.
Ná 1994 het hierdie posstelsel stelselmatig agteruit gegaan en vertrou mense deesdae ook nie meer hierdie trae diens nie. Talle pakkies en briewe bereik nie meer hul bestemming nie, ander arriveer erg beskadig, en heelwat diefstalle van sommige artikels uit pakkies word aangemeld.
Daarom het daar 'n aantal jare ná 1994 'n privaat posdiens ontstaan, Postnet. Die meeste groot dorpe en stede in land het so 'n posdienskantoor waar allerhande posdienste gelewer word, natuurlik teen 'n relatiewe hoë tarief.
Daar het ook in dieselfde jare talle privaat koerierdienste in Suid-Afrika ontstaan wat in menigte leemtes vervul, veral wanneer aflewering tydsgebonde is en die afsender haastig is om sy pakkie of brief te stuur. Die meeste van hierdie koerierdienste doen oornag dwarsoor die land aflewerings.
Posseëls in omloop
In 1840 is 'n nuwe posgeldstelsel, 'penny postage', in Brittanje ingestel. 'n Seël is op die brief geplak voordat dit gepos is. In 1853 is die eerste Suid-Afrikaanse posseëls uitgereik. Dié driehoekige seëls was rooi en 'n pennie werd, of blou en dan vier pennies werd. Dit was die eerste driehoekseëls wat ooit uitgereik is en is vandag baie waardevol.