Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Moenie by jóu pyn en jóu lyding bly vashaak nie. Fokus liewer op God se plan. Dis hoe Jesus die pyn van die kruis verduur het.
ENERGIEBRONNE VIR AANDRYWING
SKOOLPROJEK
Vliegtuie, motors en treine het almal energie nodig om te loop. Nywerhede en huise het lig, hitte en krag nodig, en dit verg alles energie. Baie van dié energie word deur steenkool en olie verskaf. Suid-Afrika het groot steenkoolreserwes, maar voer olie in. Wetenskaplikes ontwikkel egter nuwe maniere om olie uit steenkool te maak, en uit gas wat onder die see voorkom.
SWART GOUD
Steenkool verskaf sowat 85% van Suid-Afrika se brandstof en is sy vernaamste kragbron.
Kragstasies gebruik ongeveer 40% van die totale steenkoolproduksie. Sowat 30% van die steenkool word uitgevoer en dit verdien jaarliks sowat R18 miljard. Na goud is steenkool Suid-Afrika se vernaamste verdiener van buitelandse valuta. Van die oorblywende steenkool word omgesit in sintetiese olie, die res word in die nywerhede gebruik.
SUID-AFRIKA SE STEENKOOLVELDE
Eeue gelede is steenkool in Suid-Afrika gebruik om yster te smelt. Nadat goud in 1886 aan die Witwatersrand ontdek is, het die nuwe nywerhede steenkool benodig. Verskeie steenkoolmyne het aan die Oos-Rand en by Vereniging geopen. Vandag is daar net in Noord-Natal, Oos-Transvaal en die Vrystaat myne. Byna die helfte van ons steenkool kom naby Witbank voor, in afsettings van tot 400 m diep, hoewel die laag op plekke net 2-5 meter dik kan wees.
Tot dusver word steenkool nie dieper as 200 meter gemyn nie. Baie van die belangrike steenkoolmyne gebruik die oopmynmetode. Skynbaar is daar 55 000 miljoen ton ekonomies ontginbare steenkool onder ons grond.
OLIE UIT STEENKOOL
Sasol is in 1959 gestig. Dit was die eerste maatskappy wat vloeibare gas en olie uit steenkool gemaak het. Vandag is dit die wêreldleier in die vervaardiging van petrol en petroleumprodukte uit steenkool. Sasol 1 is in die Noord-Vrystaat, naby 'n groot steenkoolveld in die omgewing van Vanderbijlpark, Vereniging en Sasolburg, Johannesburg en die Vaalrivier.
Die dorp Sasolburg is in 1954 gestig om huisvestiging aan Sasol se werkers te verskaf. Teen 1963 is sowat twee en 'n half miljoen ton steenkool jaarliks verwerk om petrol te maak. Weens die krisis in die oorsese oliebedryf in die 1970's het petrol baie duur geword en meer sintetiese petrol moes in Suid-Afrika vervaardig word. Om dit te kan doen, is nog twee Sasol-aanlegte gebou. Sasol 2 is sedert 1980 in produksie en is opgerig in Oos-Transvaal, waar die dorp Secunda nou verrys het. Sasol 3 is ook naby Secunda gebou.
By die drie Sasol-aanlegte word steenkool verwerk tot gas, waaruit petrol, diesel-olie en ander produkte soos ammoniak, koolteer, alkohol, paraffienwas en baie chemikalieë gemaak word. Dit word ook tans uitgevoer en verdien jaarliks waardevolle buitelandse valuta vir Suid-Afrika.
METAAN
Metaan is een van die komponente van natuurlike gas. Dit kan as brandstof gebruik word en help om lugbesoedeliing uit te skakel. Natuurlike gas kan benut word vir verhitting en koskook, maar wetenskaplikes dink dat dit ook later die brandstof van motorvoertuie kan wees. Metaan is skoon, veilig en volop. Dit neem egter baie plek in beslag, dus sal voertuie wat op natuurlike gas loop, groot brandstoftenks moet hê. Daar is reeds motors wat op metaan loop maar hulle word nog nie op groot skaal vervaardig nie.
OLIE ONDER DIE SEE
Sasol kan nie al Suid-Afrika se olie voorsien nie, en daarom is die Suidelike Olie-eksplorasiekorporasie SOEKOR, in 1965 gestig om olie te soek. Geen waardevolle hoeveelhede is op land gevind nie maar in 1980 het SOEKOR 'n bron van natuurlike gas onder die seebodem naby Mosselbaai ontdek. Hieruit vervaardig Suid-Afrika petrol en dieselolie. 'n Brandstofraffinadery is 'n paar kilometer wes van Mosselbaai gebou en dit word met pype aan 'n massiewe platform, 85 km die see in, verbind. Drie gasvelde, F-A, EM en Oribi, is in volle produksie langs hierdie Suid-Kaapse kus.
MENSGEMAAKTE EILANDE
Party olietorings word vir eksplorasie gebruik. Hulle word verskuif sodat die bore dele van die seebodem kan ondersoek waar daar dalk olie kan wees. Maar die basis van die Mossgas-olietoring by Mosselbaai is op die seebodem vasgeanker sodat die struktuur so stewig soos 'n mensgemaakte eiland is. Elke deel moet versigtig gemaak word omdat dit lank moet hou te midde van die aanslae van die golwe en wind.
Die platform is hoër as die golwe en groter as 'n hotel. Dit het talle dekke wat saam so hoog soos 'n gebou van 35 verdiepings is. Dié dekke het plek vir die boorapparaat, groot masjinerie, laboratoriums, kantore, woon-en slaapkwartiere, kombuise en ontspanningslokale. Werkers bly gewoonlik twee weke op die olietoring en word dan met 'n helikopter land toe geneem.
Olietorings werk dag en nag en is baie lawaaierig. Daar is arbeiders wat die moeilikste werk doen, dan kom die boormanne en die mees seniorwerkers. Hulle moet die olietoring goed bestuur. Daar is ook 'n booringenieur, 'n geoloog, radio-oprateurs, en mediese- en spysenieringspersoneel op die olietoring.
EENVOUDIGSTE BRANDSTOF
Baie Suid-Afrikaners is nog afhanklik van hout as brandstof, en in party dele van Asië en Afrika verskaf hout 80 persent van die brandstof wat nodig is vir energie. Ontwikkelde lande in Noord-Amerika, Brittanje en Wes-Europa gebruik byvoorbeeld omtrent ewe veel gas en kernkrag.
RICHARDBAAI
Die diepwaterhawe van Richardsbaai is in 1976 geopen en hanteer nou ongeveer die helfte van Suid-Afrika se totale haweverkeer. Die Richardsbaai-steenkool-terminus is een van die grootste ter wêreld. 'n Aluminium-smeltery is van die nywerhede wat hier ontwikkel het. Die veiligheid van die omgewing is met die ontwikkeling van hierdie hawebedryf in ag geneem. Terwyl groot houerskepe kom en gaan, sien mens steeds seekoeie in die nabygeleë strandmeer van die Mhlatuze-rivier.
150 JAAR VAN BRANDSTOWWE
In die 19e eeu het nywerhede vinnig ontwikkel en nuwe fabrieke het groot hoeveelhede brandstof vereis. Baie daarvan was steenkool, wat dik besoedelingsrook kan veroorsaak. Nyweraars is nou besorg oor suurreën en ander besoedeling wat deur brandende brandstowwe veroorsaak word en soek alternatiewe wat die lug skoon sal hou.