Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Hy wat op homself vertrou is verlore; hy wat op God vertrou is tot alles in staat. Maar waarom is ons vertroue so swak dat ons elke liewe dag van voor af moet leer om God te vertrou? Het Hy dan nie gister sy betroubaarheid bewys nie? En eergister? En die dag tevore? Vertrou op God met jou hele lewe en spring aan die werk!
DIE GELOFTE VAN NEHEMÍA 9
HOU 'N VAS- EN BIDDAG!
...En die afstammelinge van Israel het hulle afgesonder van al die uitlanders, en hulle het gaan staan en belydenis gedoen van hulle sondes en die ongeregtighede van hulle vaders.
En hulle het van hulle plek opgestaan... belydenis gedoen en die HERE hulle God aanbid... en met 'n groot stem die HERE hulle God aangeroep:
...U het tekens en wonders gedoen... maar hulle, naamlik ons vaders, het vermetel gehandel en hulle verhard en nie na u gebooie geluister nie; ja, hulle het geweier om te luister en nie gedink aan u wonders wat U by hulle gedoen het nie; maar hulle het hul nek verhard en in hulle wederstrewigheid 'n hoof aangestel om terug te gaan na hulle slawerny.
Maar U is 'n God van vergewing, genadig en barmhartig, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en U het hulle nie verlaat nie.
Selfs toe hulle 'n gegote kalf vir hulle gemaak en gesê het: Dit is jou gode wat jou uit Egipte laat optrek het! – en hulle groot, afskuwelike dinge gedoen het, het U in grote barmhartigheid hulle tog nie verlaat nie...
Maar hulle het wederstrewig en opstandig geword teen U en u wet agter hulle rug gewerp; en u profete wat hulle gewaarsku het, om hulle na U terug te bring, het hulle gedood en groot, afskuwelike dinge gedoen.
Daarom het U hulle oorgegee in die hand van hulle teëstanders, dat dié hulle in benoudheid sou bring. Maar wanneer hulle in die tyd van hulle benoudheid U aangeroep het, het U uit die hemel gehoor en na u grote barmhartigheid aan hulle verlossers gegee, dat dié hulle uit die hand van hul teëstanders kon verlos.
Maar sodra hulle rus gehad het, het hulle weer kwaad gedoen voor u aangesig, en U het hulle oorgelewer in die hand van hulle vyande, dat dié oor hulle sou heers; as hulle U dan weer aanroep, het U uit die hemel gehoor en hulle na u barmhartigheid baiekeer gered.
En U het hulle gewaarsku om hulle na u wet terug te bring, maar hulle het vermetel gehandel en nie geluister na u gebooie nie...
U was baie jare lankmoedig oor hulle, en U het hulle gewaarsku deur u Gees, deur middel van u profete; maar hulle het geen gehoor gegee nie. Daarom het U hulle oorgegee in die hand van die volke van die lande.
Maar in u grote barmhartigheid het U hulle nie volkome vernietig en hulle nie verlaat nie, want U is 'n genadige en barmhartige God.
Ons God, groot, magtige en gedugte God, wat die verbond en die goedertierenheid hou, laat dan nou al die moeilikheid nie gerig wees voor u aangesig nie wat ons, ons konings, ons owerstes en ons priesters en ons profete en ons vaders en u hele volk oorgekom het nie...
Maar U is regverdig in alles wat oor ons gekom het; want U het getrou gehandel, maar ons het goddeloos gehandel; en ons konings, ons owerstes, ons priesters en ons vaders het u wet nie volbring en na u gebooie en u getuienisse waarmee U hulle gewaarsku het, nie geluister nie.
En hulle het in hul koninkryk en by u groot seën wat U hulle geskenk het, en in die wye en vet land wat U aan hulle oorgegee het, U nie gedien nie en hulle nie van hul verkeerde handelinge bekeer nie.
Ons is vandag slawe, en die land wat U aan ons vaders gegee het om die vrug en die volle seën daarvan te geniet – daarin is ons slawe.
... op grond van dit alles sluit ons 'n vaste verbond...
... almal wat hulle afgesonder het van die volke van die land tot die wet van God, hulle vroue, hulle seuns en hulle dogters, almal wat enigsins kon verstaan, ... het onder eed en met beswering hulleself verplig om te wandel in die wet van God, wat deur die diens van Moses, die kneg van God, gegee is, en om te hou en te doen al die gebooie van die HERE ons Here, en sy verordeninge en sy insettinge;
verder dat ons ons dogters nie sou gee aan die volke van die land, en hulle dogters nie sou neem vir ons seuns nie;
en as die volke van die land koopware en allerhande soorte koring bring om op die sabbatdag te verkoop, dat ons niks van hulle sou neem op die sabbat of op 'n heilige dag nie;
en dat ons in die sewende jaar die land braak sou laat lê en van elke skuldvordering afsien.
En ons het vir ons die verpligting aangegaan om ons 'n derde van 'n sikkel in die jaar op te lê vir die diens van die huis van ons God-
...en om die eerstelinge van ons grond en die eerstelinge van allerhande vrugtebome jaar vir jaar in die huis van die HERE te bring... terwyl hulle, die Leviete, die tiendes sou invorder in al ons landboustede.
...want ons wou die huis van ons God nie laat verwaarloos nie.