Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Die uitdeel van geskenke tydens 25 Desember word geregverdig deur te sê dat die wyse manne mos ook geskenke gegee het. Maar, hulle het nie vir mekaar geskenke gegee nie, net vir die Here Jesus. Dalk moet ons begin dink wat ons vir Hom kan gee...
WORD POSITIEF...
...DIE REGTE FOKUSPUNT
Ds Andrè van den Berg
"Toe Saul vir Goliat sien, sê hy: 'Die man is te groot om te oorwin!'. Toe Dawid hom sien, sê hy: 'Die man is te groot om te mis! '”
“Toe het Kaleb die volk stilgemaak teenoor Moses en gesê: Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” - Num.13:30
Hoe het hierdie jaar darem nie verbygevlieg nie; daar is net drie dae daarvan oor! Was dit vir jou ʼn goeie jaar of een van groot teleurstellings soos vir my? Ronnie Belcher het tereg gesê: Die lewe is soos ʼn een-ster hotel; kry nie altyd wat jy bestel! Dit maak egter nie saak wat hierdie jaar met jou gebeur het nie, dis per slot van sake water onder die brug deur en vir goed verby. Hoe jy oor die toekoms dink, is dit wat tel.
Hoe voel jy oor die nuwe jaar wat voorlê? Dis ʼn baie belangrike vraag want hoe jy oor die toekoms voel, beïnvloed jou persoonlikheid en uiteraard ook jou menseverhoudings. Hoe jy oor die toekoms voel, is jou saak. Dit word nie op jou afgedwing nie, maar is ʼn keuse wat net jy alleen kan maak.
Negatiewe gesindhede sorg nie vir positiewe optrede nie. Vir gelowiges oppad na ʼn nuwe jaar is dit noodsaaklik om positief te wees, want niks lê ʼn mens se gees so lam soos ʼn vrees vir die toekoms nie. En ʼn verlamde gees beteken niks vir die Here nie. So ʼn mens behoort eintlik nie bid dat die koninkryk van God moet kom nie!
In Num.13 is Israel opgewonde op pad na die Beloofde Land. Net voordat hulle dit binne-trek, stuur Moses twaalf verspieders om die plaaslike situasie daar te verken. Toe tien van hulle met ʼn negatiewe verslag terugkeer, was die volk se moed gebreek - hulle was op pad na ʼn êrens wat skynbaar ʼn nêrens was!
Die tien verspieders het berig dat die stede baie groot met versterkte dik mure reg rondom was. Daarbenewens was die mense fisies groot en het Israel geen kans op ʼn militêre oorwinning gehad nie. Die effek van hul verdoemende verslag was verlammend vir die moeë woestyntrekkers se gees. Niks ontmoedig ʼn mens so vir die toekoms as om jou tussen êrens en nêrens op die grootpad van die lewe te bevind nie!
Israel kon ook nie maar net omdraai terug Egipte toe nie. Dit sou voortgesette slawerny beteken. Daarbenewens het hulle ʼn belofte van God gehad – dié van ʼn nuwe vaderland. Wat moes hulle doen? Vorentoe of agtertoe? Dan keer Josua en Kaleb van dieselfde sending met ʼn geheel ander verslag terug:
“.... Laat ons gerus optrek en dit in besit neem; want ons kan dit sekerlik oorweldig” .
Waarom het hierdie twee se verslag so ingrypend van die ander tien verskil? Hulle het tog dieselfde stede en mense gesien. Die verskil was dat Josua en Kaleb ʼn ander fokuspunt vir die toekoms gehad het – in die geloof. Wie op die regte dinge in die lewe fokus, se lewensuitkyk is reg. Wie egter op verkeerde dinge fokus, is bang vir die toekoms. Josua en Kaleb fokus op God se belofte. En dis presies wat geloof is – om God op sy woord te neem, want dan is die toekoms is so helder soos God se beloftes.
By geleentheid wou koning Saul die jong Dawid doodmaak en moes hy vlug. Dawid is deur die profeet Samuel gesalf om die tweede koning van Israel te word; indirek ʼn belofte van God. Dit was dus nie sy tyd om te sterf nie. Dawid het nie geweet wat die toekoms vir hom inhou nie en skryf in hierdie onseker situasie Ps.18 en in vers 30 sy besluit: “Want met U loop ek ʼn bende storm, en met my God spring ek oor ʼn muur”. Ja, God gee vir sy kinders ʼn oplossing in elke moeilike situasie.
Die probleem met die 10 verspieders was dat hulle net na die probleem (stede en mense) gekyk en vir Moses gesê het: “Ons kan nie!” Josua en Kaleb het na die oplossing (God se belofte) gekyk en gesê: “Ons kan!” Al 12 van hulle kyk na dieselfde toekoms, maar met verskillende oë; dié twee met geloof en die ander 10 met wanhoop. Twee vertrou God se belofte;10 nie.
Baie mense vertrou net dit wat hulle voor hulle sien. Toe Saul vir Goliat sien, sê hy: “Die man is te groot om te oorwin!” Toe Dawid hom sien, sê hy: “Die man is te groot om te mis!”
Ons weet nie wat 2015 gaan oplewer nie. Miskien gaan ons in baie moeilike omstandighede beland, selfs wat ons gemeente betref. Satan haat die waarheid en diegene wat daarvoor ywer. Daarom is die AP Kerk en sy leraars altyd in die spervuur! Wat moet ons as kinders van die Here in moeilike situasies doen? Josua en Kaleb se voorbeeld navolg deur te glo dat God groter as die probleem is. Wie dit glo, se gees word nooit lamgelê nie.
Pasop vir jou gedagtewêreld want dis waar die grootste vrees in ʼn mens se lewe lê. Vrees is in werklikheid niks anders as hoe jy oor ʼn sekere saak dink nie. Ons gedagtewêreld is soos ʼn vrugbare akker waarop ons gedagtes saai; goed en sleg. Net jyself kan, met die genade van God, verhoed dat slegte gedagtes hierdie tuin oorneem en met onkruid bedek.
Daar is min dinge mooier as ʼn positiewe lewensingesteldheid. Dit laat ʼn mens die toekoms nie net onbevrees tegemoet gaan nie, maar is ook aansteeklik. Dit beïnvloed mense met negatiewe gesindhede positief. Gelowiges met positiewe gesindhede besit een van die grootste oorwinningskragte denkbaar en deins nie vir uitdagings terug nie. “Julle is uit God, my kinders, en het hulle oorwin, omdat Hy wat in julle is, groter is as hy wat in die wêreld is” (1 Joh.4:4). Dis wonderlik om te weet dat God groter as enigeen van ons probleme is.
Moses het baie foute gehad. Maar om vir die toekoms bang te wees, was nie een van hulle nie. Hy het geweet dat die toekoms aan God behoort en God met hom is ongeag waar hy hom bevind, selfs toe die Skelfsee sy pad na die beloofde land versper en die Egiptenare in hul nekke geblaas het. Moses het vas geglo dat God groter as sy probleem was. En Hy was, sodat Israel droogvoets deur die see getrek en die vyand omgekom het!
Moenie soos die tien verspieders toelaat dat die skynbaar onmoontlike jou ontmoedig en jou geloof in 2015 in die wiele ry nie. Daar is genoeg reuse in 2015 om ons bang te maak AS ONS DIT GAAN TOELAAT. Geloof is om soos Josua en Kaleb hulle nie toe te laat nie.
As ons die oë op Jesus Christus i.p.v. die reuse in die lewe rig, sal 2015 ʼn oorwinningsjaar soos min wees. Maar dan moet ons na Jesus en net na Hom alleen kyk. Petrus weet wat dit beteken om in ʼn krisisuur die oë van Jesus weg te neem en net die gevare raak te sien. Dit het hom by geleentheid amper sy lewe in die See van Galilea gekos!
Ons leef net eenmaal op die aarde. Kom ons maak 2015 een van ons heel beste jare. Ons het as kinders van God alle rede om een groot Halleluja van kop tot tone te wees. Moenie bang wees om ʼn onbekende toekoms aan ʼn bekende God toe te vertrou nie. Ons weet nie wat 2015 vir ons gaan inhou nie. Al wat ons weet, is in Wie se hand dit is. En dis genoeg.
Amen!