Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Ons lewe word deur ons gedagtes ingekleur. Daarom is eerbare gedagtes die moeder van alle wysheid. ‘n Eerbare volksleier se karakter word soos kunstige borduurwerk stekie vir stekie al hoe mooier. Dit bring nie net sonskyn in sy eie lewe nie, maar ook in diè van sy volksgenote.
KOM VEROOTMOEDIG SAAM
KENNISGEWING VAN BEOOGDE VEROOTMOEDIGINGSDIENSTE VIR DIE AFRIKANERVOLK VAN GOD:
9 DESEMBER 2014 – 16 DESEMBER 2014
Op 16 Desember 1949 het die woorde van ons eertydse Eerste Minister, dr. DF Malan, die wekroep tot sy volk gestuur het met dié vraag:
“Waarheen Suid-Afrika?"
“As u weggedwaal het van die Voortrekkergees en –gedagte; as daardie vraag 'waar gaan jy heen?' aan u opgedring word, staan dan stil en draai terug! Terug na u volk, terug na u kerk en terug na u God.”
Vandag, 65 jaar later, het ons volk só ver weggedwaal ook omdat menige van ons kerke daarin voorgeloop het. Sou ons stil raak wanneer die vraag “Waar gaan jy heen?” vandag aan ons opgedring word, is die antwoord steeds: Terug na ons God! By Hom alleen lê ons heil en ons verlossing!
Psalm 130:7-8: “Wag op die HERE, o Israel! want by die HERE is die goedertierenheid, en by Hom is daar veel verlossing; en Hy self sal Israel verlos van al sy ongeregtighede.”Hiermee roep ons die Afrikanervolk op tot verootmoediging voor God Drie-enig tydens bogenoemde datums waar verootmoedigingsdienste, DV op verskillende dae in die vier onderskeie provinsies van Suid-Afrika gehou sal word, nl. die Kaapprovinsie, Natal, Transvaal asook die Oranje-Vrystaat.
- Hierdie dienste is vry van enige kerkverband en politieke partye aangesien menige kerke en politieke leiers ons volk skaamteloos verraai en in die steek gelaat het. Dit is egter onbetwisbaar dat daar tog individuele leraars en/of gemeentes asook partye/organisasies is wat vir die waarheid en dan ook in die omstandighede waarin hul verkeer vir die Evangelie bly stry het – daarom dat ons ook 'n beroep op húlle doen om só bymekaar te help bring wat uit innerlike oortuiging bymekaar hoort;
- Enige persoon wat in God Drie-enig as die Hoogste Gesag op aarde glo, en in sy Seun, Jesus Christus as ons enigste Verlosser en Saligmaker en wat glo dat ons deur sy genade geroep is om te leef as Godsvolk tot eer van sy Naam, sal saam met ons erken dat ons klaaglik in hierdie roeping gefaal het en dat ons in ootmoed tot Hom moet terugkeer;
Persone en organisasies wat bogenoemde onderskryf word opgeroep om saam met ons aksie te neem om in ootmoed voor ons Almagtige Vader te kniel om sy Aangesig te soek en ons voor Hom te verootmoedig, aangesien hierdie ons enigste uitweg en hoop op verlossing in ons vaderland is;
Ons vra dat elkeen wat hierdie kennisgewing ter harte neem, van vandag af reeds in voortdurende gebede tot ons Hemelse Vader sal verkeer, sy Aangesig sal soek en ook sal bid dat die beplande verrigtinge uitsluitlik tot eer van sy Naam sal verloop. Bid ook dat die gesindheid waarin dit sal geskied een van opregte ootmoed, trou, geregtigheid en waarheid sal wees. Mag hierdie byeenkomste die begin wees van ‘n eensgesindheid onder volksgenote wat uit innerlike oortuiging bymekaar kom om só die tweedrag (werk van Satan) te vernietig. Dit kan net gebeur indien ons onsself in nederige onderdanigheid aan sy Wil vir ons as sy volk onderwerp. Ons moet mekaar uit liefde verdra, maar nie teenoor die kwade verdraagsaam wees nie.
Die organiseerders van hierdie verootmoedigingsdienste doen 'n beroep op vrywilligers wat hulself geroepe en bekwaam voel om met die praktiese reëlings in die onderskeie provinsies te help. Kontak asseblief onderstaande persone vir meer besonderhede . Daar is minstens een verteenwoordiger in elke provinsie nodig om met die praktiese organisering van hierdie dienste te help.
Reëlingskomitee:
Hannes Ollewagen
Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.
084 631 6252
Jesaja 30:15: “Want so sê die Here HERE, die Heilige van Israel: In terugkeer en rus lê julle heil, in stil wees en vertroue bestaan julle krag; maar julle wou nie”.