Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Sonde, boosheid, onreg, diskriminasie, ontwrigting en verwarring is aan die orde van die dag. Mense het nie meer inbors nie! Die staat minag God se Wet en ontspoorde kerke verwater Bybelse riglyne vir die lewe. Gevolglik worstel baie gelowiges soos ’n Habakkuk van ouds met God se weë en vra: “Here, waarom doen U niks hieraan nie?”
HOE LYK U GESINS- VERHOUDINGE?
GESINSVERHOUDINGE
God laat die eensames woon in ’n huisgesin ... – Ps. 68:7
Prof. Danny Nel
Ons gesinslewe beleef uitdagende tye. Gesinslede het nie meer tyd vir mekaar nie. Almal werk laat. Kinders gaan nie meer ná skool dadelik uit die huis uit nie of keer terug huis toe na hul studies. Dit alles het daartoe bygedra dat die gesin as sosiale eenheid die afgelope tyd baie verander het.
Maar hoewel die gesin in sy samestelling en die dinamiek van gesinsverhoudinge vanweë tydsomstandighede mag verander, bly die gesin as instelling van God dié mees praktiese plek waar ons verhouding met die Here “vlees” word.
Dáár waar ons baie prakties met mekaar skouer skuur, word ons verhouding met die Here getoets soos seker nêrens anders nie. Daarom kan die gesin ‘n plek van vele konflikte wees, maar waar die Gees van die Here ons werklik beheer, kan dit ook die vervullendste van al ons menseverhoudinge uitmaak (soos dit sekerlik oorspronklik bedoel is).Ons konsentreer in die artikel op die netwerke en intensiteit van gesinsverhoudinge.
WIE MET WIE EN IN WATTER MATE?
Omdat ’n gesin uit verskillende lede bestaan, is daar ’n netwerk van gesinsverhoudings in elke huis. Maar hoe lyk ons gesinsverhoudinge? Sommige gesinne se gesinsverhoudinge is só nou verweef dat daar kwalik ruimte vir indiwiduele ontwikkeling, groei en insette is. In sulke gesinne is daar nie geleentheid vir een van die gesinslede om op sy eie te eksperimenteer of nuwe projekte aan te pak nie. Dit moet altyd aan die goedkeuring van die ander gesinslede onderwerp word, en almal moet altyd alles saam doen. Om dit heel eenvoudig te stel: In sulke gesinne kry almal seer as een se vinger brand, of anders gestel: In sodanige gesinne is daar ’n “Brakenjan-motto” – “almal vir een, en een vir almal”.
Ander gesinne se verhoudinge is so los van mekaar dat die gesin uit ’n aantal indiwidue bestaan wie se lewens weinig in gemeen het. In sodanige gesinne is die verskillende lede van die gesin se lewenswyse van só ’n aard dat hulle nouliks by mekaar betrokke is. Die huis word bloot ’n slaap- en eetplek vir die gesinslede. Al verwagting wat hulle van die huis het, is dat die kos reg moet wees, die wasgoed skoon moet wees en die kamer aan die kant gemaak moet word. Dit is amper nodig om ’n kennisgewing van ’n huisvergadering teen die voordeur te plaas om almal by mekaar te kry wanneer daar oor iets gepraat moet word. Die gesinslede sien mekaar amper nooit nie. Die bydrae tot en insette van die indiwiduele lede van die gesin tot die huis en gesinslewe, is minimaal. Hierdie gesinsvorm kan amper as die teenoorgestelde van bogenoemde gesinsvorm bestempel word.
Die mate van betrokkenheid van die gesinslede by mekaar word die graad van verweefdheid (kohesie) genoem.Dit gebeur ook dat in gesinne die onderlinge gesinsverhoudinge sterker en swakker bande kan vertoon.
Baie dinge speel ’n rol in die gesin se funksionering. In sommige gesinne is daar partyvorming tussen die pa, oudste en jongste dogters, terwyl ma, ouma en die jongste weer saamstaan. Dit het ’n effek op byvoorbeeld die kommunikasie – ma, ouma en jongste deel “geheimpies” en andersom. Dit benadeel weer maklik die verhouding tussen pa en ma.
In elke gesin is daar dus ’n dinamiek van verhoudinge. Dit is jammer as gesinsverhoudinge nie gesond en gelukkig is nie. Dan moet daadwerklik daaraan gewerk word.
Dit is ’n fees om deel te wees van ’n gelukkige gesin. In die tye waarin ons leef en werk, het elke lid van die gesin die anker van die huis nodig. ’n Gelukkige gesin is ook ’n gesin wat kerklik betrokke is en by die kerk inskakel.
Gelukkige gesinsverhoudinge lei ook dikwels tot gesonde geestelike verhoudings.
Vertroetel u gesinsverhoudinge!