Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Grys hare is wel ‘n bewys van ouderdom, maar nie noodwendig van wysheid nie - soms daag die ouderdom alleen op!
BEWAAR ‘N ERFENIS
...EN BOU 'N TOEKOMS
MEDIAVRYSTELLING
Suidland Media
DIE GESKIEDENIS SPEEL 'N DEURSLAGGEWENDE ROL IN DIE BEPALING VAN DIE LOTGEVALLE VAN VOLKERE. IN GEVALLE WAAR EEN VOLK DEUR 'N ANDER ONDERWERP WORD, WORD DIT AS WAPEN GEBRUIK OM DIE OORWONNE VOLK IN KNEGSKAP TE HOU. TERSELFDERTYD BIED DIT OOK 'N BASIS VANWAAR 'N VOLK VIR SY NAGESLAG 'N TOEKOMS
Dit is die kernboodskap wat oorgedra is tydens die bekendstelling van Suidland Media (SLM) se historiese erfenisprojek verlede Woensdag in
Die projek van SLM behels die oorsetting van historiese films op DVD ten einde die historiese erfenis wat oor baie jare op film vasgelê is vir die huidige geslag Afrikaners toeganklik te maak en vir toekomstige geslagte in bewaring te hou. Die bestuurder van SLM, Frikkie Strauss het soos volg uitgebrei oor die projek: “Die dade van manne en vroue wat ons geskiedenis gevorm het, het die verwondering van rolprentregisseurs en filmmakers dwarsoor die wêreld sodanig aangegryp dat daar 'n stortvloed van rolprente en dokumentêre films daaroor gemaak is. Met die verdwyning van die tradisionele film en later ook die video en die verskyning van die DVD-tegnologie het hierdie kosbare historiese erfenis die gevaar geloop om geheel en al verlore te gaan. Saam met die nuwe tegnologie het egter ook nuwe geleenthede gekom en SLM het besluit om hierdie geleenthede te benut ten einde ons geskiedenis op 'n aanskoulike en omvangryke grondslag vir ons volk toeganklik te maak.”
Die projek het drie jaar gelede met 6 DVD’s begin en staan nou op 72 titels. Dit dek ons hele geskiedenis vanaf die aankoms van Van Riebeeck tot in die huidige tydsgewrig en bykans al die belangrikste gebeurtenisse en individue wat ons geskiedenis gevorm het, figureer daarin. “Dit bied 'n medium van geskiedenisoordrag wat pas by die eise en tendense van die 21ste eeu, veral aan ouers, onderwysers en ander instansies wat by die bevordering van historiese kennis betrokke is. Dis 'n kragtige en doeltreffende instrument om die geskiedenis aan die opkomende geslagte oor te dra en die huidige geslag Afrikaners kan op dié wyse ‘n konkrete en positiewe bydrae tot die skepping van 'n toekoms vir ons kinders lewer.”
Die byeenkoms is toegespreek deur Meinhard Peters, ‘n kenner van ons geskiedenis en verbonde aan die Instituut vir Kultuur en Geskiedenis (IKG). Hy het gesê dat dit uiters noodsaaklik vir die Afrikanervolk is om weer na sy geskiedenisbronne terug te keer.
“Geskiedenis bied perspektief aan mense om hul lewensuitdagings te verstaan en sinvol daarop te reageer. Dit is dan ook die rede waarom Afrikaners se geskiedenisbeeld so knaend deur ons vyande aangeval word, en waarom ons geskiedenis as iets boos en verwerplik voorgestel word. Die proses van vervreemding van ons verlede sal met krag en mening teengestaan moet word. Wanneer die volk eenmaal afgesny is van sy geskiedenis kan sy vyande met hom maak wat hulle wil. Kommunistiese en rewolusionêre leiers het al verklaar dat dit slegs nodig is om een geslag van sy geskiedenis te vervreem om sodoende die weerstandsvermoë van ‘n volk te vernietig.”
Hy het daarop gewys dat die skepping en instandhouding van ‘n valse skuldkompleks by Afrikaners tans die belangrikste wapen in die vyand se arsenaal is. Die verkaffing van die ware feite van ons geskiedenis, veral aan die Afrikanerjeug, is die enigste doeltreffende teenvoeter daarteen.
Die IKG is gestig om, in samewerking met verskeie medewerkers en organisasies, aandag te gee aan historiese vraagstukke sowel as aktuele vraagstukke wat ons kultuurlewe raak.
Persone wat meer inligting oor die IKG verlang kan dit verkry deur vir Meinhard Peters te skakel by 082 – 921 9706 of aan hom te skryf by Hierdie e-posadres word van Spambotte beskerm. Jy moet JavaScript ontsper om dit te lees.. Meer besonderhede oor die DVD-projek van SLM kan verkry word deur www.suidland.com te besoek.
Uitgereik deur: Mediaskakel
Piketberg
17 September 2012