Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Terminale siekte laat ons opnuut besef dat ons tyd min geraak het. Tyd is nie ons reg nie; dis ‘n voorreg. Ons besit dit nooit. Dis aan ons geleen, ja, ‘n kosbare stukkie leengoed uit die hemel. Die sekerheid van ‘n ewige lewe laat ons egter berus dat ons veilig in God se hand is. Niks wat die moeite werd is, gebeur sonder opoffering nie.
GIDEON SCHEEPERS WORD GEHULDIG
BEWAAR ‘N ERFENIS EN BEHOU ‘N TOEKOMS
DIE INLIGTING OOR DIE AFRIKANERVOLK SE GESKIEDENIS WAT TYDENS DIE NAWEEK SE 110-JARIGE HERDENKING VAN DIE TEREGSTELLING VAN GIDEON SCHEEPERS VERSKAF IS, HET ‘
Die geleentheid is gehou onder die titel BEWAAR ‘N ERFENIS EN BEHOU ‘N TOEKOMS. Heelwat tyd is afgestaan aan die lewe en sterwe van Kmdt Gideon Scheepers en verskeie videogrepe oor plekke in Graaff-Reinet, wat met sy teregstelling verband hou, is geneem. ‘n Paar dae vantevore, op Woensdag 18 Januarie, presies 110 jaar na sy teregstelling, is ‘n kranslegging gehou by die gedenknaald wat ter ere van hom opgerig is.
Baie interessante inligting oor die vroeëre geskiedenis van Graaff-Reinet is ook tydens die byeenkoms verskaf. Die voortdurende gevaar van aanvalle deur die Boesmans en die Xhosas, tesame met die onsimpatieke Kompanjie-regering en die vyandige Britse owerheid aan die Kaap, het die lewe vir die vroeëre koloniste uiters moeilik gemaak en die huidige geslag inwoners van Graaff-Reinet het baie aan hulle te danke dat hulle die grondslag gelê het vir dit wat Graaff-Reinet en omgewing vandag is.
Tydens die byeenkoms is die historiese erfenisbewaringsprojek deur Suidland Media bekendgestel. Dit behels die oorsit op DVD en CD van films en klankbande oor ons volk se geskiedenis wat oor baie jare gemaak is en as gevolg van die tegnologiese veranderinge die gevaar geloop het om geheel en al vir die nageslag verlore te raak. Die doel van die projek is om ons historiese erfenis, wat op films en klankbande vasgelê is, vir 21ste eeuse Afrikaners toeganklik te maak en vir die nageslag te bewaar.
“Te midde van die verdraaiing en verduistering van ons geskiedenis, wat noual vir etlike dekades aan die gang is, is dit van kritieke belang dat ons volk weer die ware feite van die geskiedenis kry, want dit is die basis vanwaar ons weer vir ons kinders ‘n toekoms kan skep”, het Strauss gesê. Hy sê dat Suidland Media noual reeds 60 titels, meestal DVD’s, aan die publiek kan aanbied. Dit dek ons hele geskiedenis vanaf die koms van Van Riebeek tot en met die grensoorlog. Tydens die byeenkoms is uittreksels van die hoogtepunte uit ‘n aantal DVD’s vertoon. Altesaam 4 ure se video-opnames is gedurende die naweek gedoen en sal saam met die uittreksels uit die DVD’s uiteindelik op DVD aan die publiek beskikbaar gestel word.
Strauss sê dat die besoek aan Graaff-Reinet vir hom en die kameraman ‘n besondere belewenis was. “Vir my was dit ‘n ervaring wat my diep geraak het om te kon staan op die presiese plek waar Graaff-Reinet se Afrikaners op 6 Februarie 1795 hulle eie republiek uitgeroep het, die eerste van ± 15 Afrikanerrepublieke. Dit was die eerste manifestasie van ‘n diepgewortelde vryheidsdrang en ook die eerste tekens dat Afrikaners die ontdekking gemaak het dat hulle ‘n eie identiteit het, wat verskil van alle ander volke.
Die hele reeks van 60 historiese DVD’s en CD’s kan by Suidland Media bekom word. Volledige besonderhede kan verkry word op Suidland Media se webtuiste by www.suidland.com of deur 082 – 493 3785 te skakel.