Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Optimisme is om te glo in wat mense dalk kan uitrig; hoop is om te vertrou op wat God reeds vermag het, en wéér kan. Hoop is die heel laaste ding waarmee alle mense uiteindelik oorbly.
LEEF REG
Ds Andrè van den Berg
“En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte...” - 2 Pet.1:19
“U woord is ʼn lamp vir my voet en ʼn lig vir my pad” (Ps.119:105).
Mense hou daarvan om te reis/toer. Jy ontmoet nuwe mense, sien nuwe plekke en geniet besienswaardighede. En indien ʼn mens oor die fondse beskik, kan jy gereeld reis. Daar is egter een reis wat net eenmaal plaasvind en nooit weer nie; die lewensreis. Hierdie reis begin met jou geboorte en eindig met jou dood. Dis ook nie vir almal ewe lank nie; stap maar gerus deur ʼn begraafplaas en kyk na die datums op grafstene!
Om sinvol te reis, is ʼn padkaart onontbeerlik. En dis wat die Bybel is; ʼn padkaart vir die aardse lewe na die ewige lewe. Die lewe is ʼn onbekende pad. Net ʼn dwaas sal dit sonder ʼn padkaart aandurf! Dit geld ook vir iemand wat wel ʼn padkaart het, maar dit nie gebruik nie. Daarom lê die lewenspad besaai met menslike wrakke; mense wat die padkaart van God gehad het maar nie gebruik het nie.
Die antwoord vir al die mens se probleme lê binne die twee buiteblaaie van die Bybel. Die Bybel leer ons nie net om reg te leef nie, maar ook om reg te sterf.God het vir ons die padkaart. Dit kom van Hom wat in die hemel woon en wys mense die pad na die hemelwoning (nuwe Jerusalem) terug aan. Die lewe is ʼn huiswaartsreis – terug hemeltoe. Dis waarvandaan ons kom. God sê in sy Woord dat Hy ons bestaan nog voor die grondlegging van die aarde beplan het! Waar was ons voorgeboortelike gees dan anders as by Hom in die hemel?
Vir hierdie hemelwaartse reis moet ons God se padkaart daarheen baie goed bestudeer. Oppervlakkige lees beteken niks nie. Sulke mense troos hul slegs daaraan dat hulle darem iets godsdienstig gedoen en God tevrede gestel het! Om ʼn padkaart oppervlakkig te lees, is die kans goed dat jy gaan verdwaal. Die mens het net een keuse: Bestudeer hierdie padkaart of los dit in sy geheel! Wie dit deeglik bestudeer, kom by sy hemelse bestemming uit. ’n Deeglike kennis van die Bybel is meer werd as ’n universiteit vol geleerdheid.
Petrus skryf aan gelowiges in die verstrooiing. Dit was ʼn baie onaangename tyd vir duisende Christene wat ná die steniging van Stefanus vir hul eie veiligheid Jerusalem verlaat en hul in die vreemde gaan vestig het; geografies en psigies ontwortel. Hulle enigste anker was hul vertroue in God en sy Woord. Hierdie Woord het soos ʼn lamp in die donker geskyn toe dit bitter donker om hulle geword het: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte...”
Ons besef nie aldag wat ʼn voorreg dit is om die Bybel te hê nie. Satan haat hierdie boek omdat dit eerstens gevangenes van die sonde losmaak en tweedens omdat dit van Satan se einde in die poel van vuur vertel. Daarom probeer Satan deur die eeue die boodskap van die Bybel met dwaalleer te verdraai.. In die Middeleeue was die Bybel op die Roomse lys van verbanne boeke. Lidmate mag dit nie sonder die interpretasie van ʼn priester gelees het nie omdat dit hulle kwansuis sou verwar het! Hoe listig is die Satan darem nie, veral as hy agter ʼn kruis wegkruip!
Die Heilige Gees het egter met die Hervorming gesorg dat die boodskap van die Bybel opgevlam en by almal uitgekom het. Luther het selfs die Bybel vanuit die Latyn in Duits vertaal sodat almal die boodskap van God se verlossende liefde in Christus kon verstaan.
Die aanslag teen die Bybel het nog nooit afgeneem nie, maar het verskerp en baie meer subtiel geraak. Aanvallers volg die voorbeeld van Satan in Eden: “Is dit ook so dat God gesê het: Julle mag nie eet van al die bome van die tuin nie?” (Gen.3:1). Dan sê Satan: “Ek sê vir jou: dis nie so nie!” Desmond Tutu is een van die talle voorbeeld hiervan toe hy in 1980 die maagdelike geboorte van Christus ontken het. Naas hom is daar baie teoloë wat nie met die hele inhoud van die Bybel saamstem nie en teologiese studente dienooreenkomstig oplei! Wie net in sekere dele van die Bybel glo, glo in werklikheid net in homself.
Wie die stem van God probeer stilmaak, sal geoordeel word. God se Woord sal gehoor word al moet die klippe dit uitroep! In Bybelse tye het God dikwels direk met mense gepraat. Vandag praat Hy op ʼn ander manier met ons – deur sy Brief aan die mensdom. Dit begin met die woorde “In die begin het God die hemel en die aarde geskape” en eindig met “Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle almal! Amen”. Die Bybel is God se liefdesbrief aan sy kinders. As iemand niks daarvan verstaan nie, is dit dalk omdat hy iemand anders se pos lees!
Wanneer ons die Bybel lees, hoor ons in ons gedagte die stem van die Skrywer. Dis ʼn unieke boek. In die Bybelse tyd is daar baie ander boeke geskryf, maar nie deur die Heilige Gees begeester nie - die apokriewe boeke. Die Bybelse boeke word die kanonieke boeke genoem en is deur die Heilige Gees begeester.
Ons bevind ons in ʼn donker wêreld met Satan wat heerskappy voer. Dis nie ʼn mooi beeld nie – dis die een donkerte op die ander! Alles wat lig was, word donker soos die prins van die duisternis wat sy visier op die gelowige rig en ʼn worstelstryd veroorsaak: “...want ons worstelstryd is nie teen vlees en bloed nie” .
Petrus skryf aan gelowiges in die verstrooiing dat God, al kan hulle Hom nie met hul geestesoog sien nie, nie in hul donkerste beproewing afwesig is nie. Dis soos ʼn kindjie wat in die nag wakker word, bang is en by sy ouers gaan inkruip. Al kan hy hulle fisies nie sien nie, voel en weet hy hulle is daar.
Wanneer dit donker om jou word, is daar geen groter nood en behoeftes as aan lig nie. Dis egter fataal as mense onder sulke omstandighede nie die lig wil hê nie, maar self wil voortploeter. Kyk maar hoeveel wonderlike dinge die mensdom nie al op die gebied van die wetenskap en tegnologie tot stand laat kom het nie. Hulle kan die grootste donkerte met die kragtigste lig verlig. Nogtans neem die geestesduister oorhand in mense se siele toe! Die nuusblaaie en tydskrifte is daarvan vol. En die rede? Mense wat die lewenspad sonder God se padkaart aandurf en lelik verdwaal! Daar is net een goeie raad: Stop waar die Bybel stop.
Dis het so donker in ons land geword, dat mense God nie meer raaksien nie. Die stem van Satan het so oorverdowend geword dat die stem van nie God meer gehoor word nie. Die aandag wat God toekom, word deur die nuusmedia verdring; kennis los van die ware Kenbron. Dit stroom deur ons land soos ʼn magtige waterstroom en pluk die Boerevolk se voete onder hulle uit! Daarom verdrink daar so baie van ons volksgenote in hierdie Sataniese getygolf wat ons land onder die dekmantel van demokrasie getref het.
Hierdie droewige situasie kan net op een manier omgekeer word – deur die bekering tot Jesus Christus en ʼn terugkeer en deeglike studie van God se Woord. Dan sal ons ook iets van daardie eerste Christenvlugtelinge ervaar: “En ons het die profetiese woord wat baie vas is, waarop julle tog moet ag gee soos op ʼn lamp wat in ʼn donker plek skyn, totdat die dag aanbreek en die morester opgaan in julle harte...” God maak lig in ons duisternis!
Daar is niks beter om in hierdie verworde land van ons te doen as om reg te leef nie. Die lewe is ʼn baie kort reis. God wil hê dat ons voluit moet leef! ʼn Lang lewe is nie altyd goed nie, maar ʼn goeie een wel; een wat vir God geleef word. Ons is nie menslike wesens op ʼn geestelike reis nie, maar geestelike mense op ʼn aardse reis. Leef hierdie lewe met die minste ongelukke op pad! Want ʼn lewe wat goed geleef word, is ʼn lang lewe!
Amen!