Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Daar is ‘n Japannese spreekwoord wat lui: Val sewe keer, maar staan agt keer op. Ja, dis nie hoeveel keer die ou lewe jou platslaan nie, maar hoeveel keer jy opstaan. Moet nooit sê dat iets bokant jou vuurmaakplek is nie. Maak eerder jou vuurmaakplek hoër!
AS GOD ‘N VOLK AAN SY EIE LOT OORGEE (SLOT)
Ds.A.E van den Berg
Lees reeks by AS GOD ‘N VOLK AAN SY EIE LOT OORGEE
7. Menseregte
Wie leer dat die Bybel slegs deur die bril van die moderne mens gelees kan word, dwaal. Want dan hoor mense net wat hulle wíl hoor en nie wat God vir hulle wil sê nie. Dit weerspreek die Bybelse waarheid dat God gister, vandag en tot in ewigheid dieselfde is. Gevolglik kan ʼn eertyds gruwel nie vandag vir Hom aanvaarbaar wees. Wie met so ’n teologie werk, leer dat God ’n veranderende God is. Dit skreeu ten hemel!
Kerke se dwase ontsondiging van homoseksualisme gaan nie oor nuwe Bybelse insigte nie maar oor menseregte. Die Bybelse uitsprake oor homoseksualisme klop nie met die wêreld se aandrang op menseregte nie. Om met laasgenoemde in pas te wees, hervertolk kerke die Bybel sodat daar van ’n God wat reinheidswette voorskryf en gehoorsaamheid eis, geen sprake is nie.
Menseregte vrywaar geen sondaar van die Bybelse opdrag dat hulle hul moet bekeer en die vrugte dra wat by die bekering pas nie. Geen staatsgesag skryf vir God voor nie! Wie homoseksuele mense nie oor God se oordeel waarsku nie, sal voor sy regterstoel verantwoording doen:
“As Ek aan die goddelose sê: Jy sal sekerlik sterwe — en jy waarsku hom nie en spreek nie om die goddelose vir sy goddelose weg te waarsku om hom in die lewe te hou nie, dan sal hy, die goddelose, deur sy ongeregtigheid sterwe; maar sy bloed sal Ek van jou hand eis” (Eseg.3:18).
8. Skandvlek
Die ontsondiging van homoseksualisme is ʼn skandvlek op ons volk:
“Geregtigheid verhoog ʼn volk, maar die sonde is ʼn skandvlek vir die nasies” (Spr.14:34).
Ons het altyd die waarheid geken, die Bybel in ons eie taal, Skrifgetroue kerke en eerbare teologiese opleidingsentra gehad. Nie meer vandag nie. Baie van die kerke wat vandag voorgee om God te dien, lieg skaamteloos. Hulle het bewustelik van die waarheid afgewyk en hul met ongeloof laat besmet.
Paulus skryf aan Timotheüs:
“...want daar sal ’n tyd wees wanneer hulle die gesonde leer nie sal verdra nie, maar, omdat hulle in hul gehoor gestreel wil wees, vir hulle ’n menigte leraars sal versamel volgens hulle eie begeerlikhede,en die oor sal afkeer van die waarheid en hulle sal wend tot fabels” (2 Tim.4:3,4).
Dit gebeur sienderoë. Sonde word ʼn kerklike baadjie aangetrek en as teologiese vernuwing aangebied. Wat vir ongelowiges musiek in die ore is, stem gelowiges tot groot droefheid.
9. Herstel
Kan ons verloopte volk na God terugkeer? Ja, ons kan indien ons eerstens diepe berou oor ons afvalligheid het:
“...maar as dié nasie waaroor Ek gespreek het, hulle bekeer van hul boosheid, sal Ek berou hê oor die onheil wat Ek van plan was om hulle aan te doen”(Jer.18:8).
Tweedens moet ons van alle dwaalleraars in ons land ontslae raak:
“... Kyk, Ek het dit teen die herders! En Ek sal my skape van hulle hand eis en maak dat hulle geen skape meer oppas nie...”(Eseg.34:10).
Derdens moet ons slegs na die Bybel luister en die waarheid koester:
“Luister na My, my volk, en neig die oor tot My, my nasie! Want ’n wet sal van My uitgaan, en Ek sal my reg vasstel as ’n lig van die volke” (Jes.51:4).
God was bv. bereid om na ʼn ontspoorde Israel terug te keer as hulle maar net wou luister:
“Maar my volk het na my stem nie geluister nie, en Israel was vir My nie gewillig nie... Ag, as my volk maar na My wou luister, Israel in my weë wou wandel!” (Ps.81:12,14).
Daar is selfs vir homoseksuele mense genesing by God:
“Moenie dwaal nie! Geen hoereerders of afgodedienaars of egbrekers of wellustelinge of sodomiete ... sal die koninkryk van God beërwe nie. En dit was sommige van julle; maar julle het jul laat afwas, maar julle is geheilig, maar julle is geregverdig in die Naam van die Here Jesus en deur die Gees van onse God” (1 Kor.6:10,11).
Talle mense is al van homoseksualisme genees. Almal getuig dat dit net deur die genade van God is. Omdat mense nie so gebore word nie, kan hulle verander.
“Maar ek sê: Wandel deur die Gees, dan sal julle nooit die begeerlikheid van die vlees volbring nie;want die vlees begeer teen die Gees, en die Gees teen die vlees; en hulle staan teenoor mekaar, sodat julle nie kan doen wat julle wil nie. Maar die wat aan Christus behoort, het die vlees met sy hartstogte en begeerlikhede gekruisig” (Gal.5:16,17,24).
“Maar vlug vir die begeerlikhede van die jonkheid en jaag ná geregtigheid, geloof, liefde, vrede, saam met die wat die Here uit ’n rein hart aanroep” (2 Tim.2:22).
Slot
Ons volk betaal ʼn bitter duur prys vir ons geheul met die wêreld. Die tydsgees wat dit adem, sleur talle hoofstroomkerke mee en dit wat hulle leer, beroof lidmate van die krag om vir sonde nee te sê. Petrus skryf:
“Want die tyd is daar dat die oordeel moet begin by die huis van God. En as dit eers by ons begin, wat sal die einde wees van die wat aan die evangelie van God ongehoorsaam is?” (1 Pet.4:17).