Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Almal van ons maak foute. Ons moet egter eg in ons berou wees sodat ons nie God se saak benadeel nie.
AS GOD ‘N VOLK AAN SY EIE LOT OORGEE (3)
Ds. A.E van den Berg
Lees reeks by AS GOD ‘N VOLK AAN SY EIE LOT OORGEE
4. God se strafpatroon
Wanneer God Hom aan ʼn volk onttrek, volg sy straf ʼn bepaalde patroon. Dit begin by sedelike verval en lei daarna na seksuele opstand.
“Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid, om hulle liggame onder mekaar te onteer...” (Rom.1:24).
Om aan sonde vrye teuels te gee, word bande met God verbreek:
“Die konings van die aarde staan gereed, en die vorste hou saam raad teen die HERE en teen sy Gesalfde en sê: Laat ons hulle bande stukkend ruk en hulle toue van ons afwerp” (Ps.2:2,3).
Suid-Afrika is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. Die toename in saamwonery skets ʼn droewige prentjie - mense wat God se instelling van die huwelik minag. So ook kerke se ontsondiging van homoseksualisme.
Paulus skryf dat God sulkes aan ʼn slegte gesindheid oorgee “om te doen wat nie betaam nie” (Rom.1:28). In vers 32sê Paulus: “al ken hulle die verordening van God goed”. Paulus praat hier van ʼn gemeente wat die waarheid onderdruk en hul op die bodem van die put van ontsporing te pletter geval het.
Die OT waarsku telkens dat God ʼn volk wat die waarheid onderdruk, aan sy eie lot sal oorlaat:
“Efraim is gekoppel aan die afgode: laat hom staan!” (Hos.4:17).
“Hy het in die tye wat verby is, toegelaat dat al die nasies in hulle eie weë sou wandel” (Hand.14:16).
Jesus sê van die Fariseërs:
“Laat hulle staan; hulle is blinde leiers van blindes. En as ’n blinde ’n ander blinde lei, sal al twee in die sloot val” (Mt.15:14).
5. Homoseksualisme
Paulus skryf in geen onduidelike taal oor een van die duidelikste tekens van godsverlating - seksuele onreinheid:
“Daarom het God hulle ook in die begeerlikhede van hulle harte oorgegee aan onreinheid......” (:24).
As Hy ʼn volk aan sy eie lot oorlaat, vier onreinheid hoogty. Egbreuk, huweliksverbrokkeling, pornografie, pedofilie en ander misbruike wat die liggaam ontheilig, die gees besmet en gemeenskappe ontwrig, is aan die orde van die dag met homoseksualisme as ʼn laagtepunt.
Laasgenoemde is bewustelike opstand teen God en nie Bybels regverdigbaar nie. Die apostels, kerkvaders en Hervormers wat baie ernstig met die Bybel omgegaan het, het dit van meet af aan as ʼn gruwel verag. So ook meer as 300 jaar se Gereformeerde teologie.
Jesus verwys in Mark.10:7,8 na Gen.1:27 en 2:24:
” Daarom sal die man sy vader en moeder verlaat en sy vrou aankleef. En hulle sal een vlees wees”.
God het die huwelik as ʼn hersamestelling in een vlees ingestel. Hy het Eva uit Adam geskape om in die huwelik weer een vlees te word. Homoseksualisme trek ʼn streep daardeur en gevolglik Satan se nabootsing van die heilige instelling! Daarom word homoseksualisme in die OT met die Hebreeuse woord toeva wat “gruwel” beteken, verbind.
Die Bybelskrywers het ergerlike afgodspraktyke daarmee beskryf. Vir ʼn man om met ʼn man omgang te hê, was ergerlik. Vir die gelowiges van die NT was daar geen onduidelikheid hieroor nie. Dit wat die NT daaroor sê, was alreeds in die OT gesê. Gelowiges het geweet dat oortreders van die koninkryk van God afgesny sou word.
Paulus skryf in Rom.1 met goeie rede eerstens oor lesbianisme voordat hy die gruwel van homoseksualisme by mans aanspreek. Lesbianisme is ʼn bewustelike opstand teen God, Hy wat die vrou met moederlike instinkte en die verlange na ʼn man as gesinshoof geseën het. Met lesbianisme gooi die vrou hierdie seëninge as’t ware in sy gesig terug!
Vrouens maak hul egter minder aan dié gruwel skuldig. Amerikaanse statistiek toon dat 13% van die mans homoseksueel en 5% van die vrouens lesbiërs is. Oral waar homoseksualiteit egter die vroulike geslag besmet, is deug daarmee heen. Geen wonder dat ou Romeinse geskrifte net drie maal daarna verwys nie. Dit was toe al walglik. Vandag lei lesbiërs dikwels talle homoseksuele optogte!
Homoseksualiste ag die geslote karakter van die tradisionele huwelik te negatief en eis ruimte vir oop verbintenisse; ʼn supermark-atmosfeer waar elkeen kan vat wat hy wil hê en so veel as wat hy wil hê. Nodeloos om te sê, rym dit uiteraard nie met ʼn gelowige lewenstyl nie.
Homoseksualisme is erotiese riool en besmet lewens. Daarbenewens is dit teen die geskape natuur en gevolglik ʼn korrupsie van die menslike biologie:
“...want hulle vroue het die natuurlike verkeer verander in dié wat teen die natuur is; en net so het ook die manne die natuurlike verkeer met die vrou laat vaar en in hulle wellus teenoor mekaar ontbrand: manne het met manne skandelikheid bedrywe...”(26,27).
Homoseksuele verhoudings deurstaan selde die toets van die tyd. Die geestesstryd wat hierdie mense ervaar, laat hulle dikwels van die een verhouding na ’n ander een swerf. Hulle is ook baie meer tot selfmoord geneig. Hulle onbeteuelde wellus gee dikwels aanleiding tot aanranding en moord omdat hierdie gruwel hul geestelik en fisies verteer. In Rom.1:27 noem Paulus dit tereg ʼn ontbranding!
Geen verskoning regverdig die beoefening van homoseksualisme nie. Dis sonde. God het by geleentheid so kwaad daarvoor geword, dat Hy twee stede met swael en vuur vernietig het. As God daarvoor kwaad geword het, het geen mens die reg om ʼn goeie woord daarvoor te hê nie – allermins nie ʼn kerk nie! In die OT is die doodstraf selfs daarvoor bepaal!
“En as ʼn man met ʼn manspersoon gemeenskap het, soos ʼn mens met ʼn vrou het, het hulle al twee iets gruwelik gedoen. Hulle moet sekerlik gedood word” (Lev.18:22).
Die Hebreeuse woord sekerlik beteken hier “sonder enige uitsondering”.
Homoseksualiste sterf word gereeld deur hul eie toedoen. Duisende mense sterf jaarliks in Suid-Afrika weens VIGS en is kerke wat homoseksualisme ontsondig indirek aan hul dood aandadig. Die ontsondiging van dié gruwel, homoseksualisme, noop ontspoorde kerke om hul deure vir pedofiele, selfde geslag huwelike en die ordening van homoseksuele leraars oop te maak.
6. Verwarde denke
Hoe kan kerklui wat veronderstel is om die Bybel baie goed te ken, ʼn gruwel soos homoseksualisme goedpraat? Die antwoord is voor die hand liggend; hulle het die vermoë om reg te dink verloor. Gevolglik kan nie tussen waarheid en leuen onderskei nie:
“...maar hulle het dwaas geword in hul oorlegginge, en hul onverstandige hart is verduister....” (Rom.1:21).
Die NG Kerk is ʼn sprekende voorbeeld hiervan. In 1986 spel sy haar amptelike beleid oor homoseksualisme as volg uit:
“Homoseksuele praktyke en ʼn homoseksuele verhouding moet afgewys word as in stryd met die wil van God, soos deur die Heilige Skrif geopenbaar”.
Vandag sing sy ʼn ander deuntjie omdat sy haar eertydse Bybelse maatstaf met ʼn eietydse kultuurmaatstaf vervang het wat homoseksualisme as ʼn wisselvorm van erotiese liefde beskou. Nee, ʼn liefde wat sonde bedek, is nie liefde nie!
“Die liefde .....handel nie onwelvoeglik nie, soek nie sy eie belang nie... reken die kwaad nie toe nie, is nie bly oor die ongeregtigheid nie, maar is bly saam met die waarheid” (1 Kor.13:5,6).
Kerklui wat eerder na mense as na God se Woord luister, glo dat hulle baie slim is. Die teenoorgestelde is eerder waar:
“Want Christus het my nie gestuur om te doop nie, maar om die evangelie te verkondig, nie met wysheid van woorde nie, sodat die kruis van Christus nie verydel mag word nie” (1 Kor.1:17).
In Gen.3 word van die boom van kennis van goed en kwaad wat in die tuin van Eden was, geskryf. God wou verhoed dat die mens daarna sou streef om slimmer as Hy te wees en homself as Regter oor goed of kwaad te verhef. Daarom het God vir Adam van hierdie boom af weggehou om nie in die versoeking te kom om op sy eie voortreflikheid staat te maak nie. God moet alleen gehoorsaam word.
Daarom is alle wysheid wat nie met God rekening hou nie rampspoedig. Dit het geen krag nie en slaag gevolglik nie daarin om mense se lewens te verander nie. Sulke wysheid laat die mens leeg en in sonde-duisternis verdwaal. Dit neig gewoonlik na sedeloosheid.
Dit wat menslike wysheid nie kon doen nie, het God se “dwaasheid” wel vermag - siele van die ewige dood gered!
“Want die woord van die kruis is wel dwaasheid vir die wat verlore gaan, maar vir ons wat gered word, is dit die krag van God; ... Het God nie die wysheid van hierdie wêreld dwaas gemaak nie? Want aangesien in die wysheid van God die wêreld deur die wysheid God nie geken het nie, het dit God behaag om deur die dwaasheid van die prediking die wat glo, te red” (1 Kor.1:18-21).
Slot volg...