Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Inbors is soos reukwater vir vroue en naskeermiddel vir mans. Diegene wat dit gebruik, is beswaarlik bewus daarvan, maar ander wel.
HOE PLASE DESTYDS AFGEBAKEN IS
Uit die baie insiggewende werk van B Spoelstra, Ons Volkslewe van Toeka, kry ons interessante besonderhede oor hoe ons voorouers na die Groot Trek in die twee Republieke en ook in die Kaapkolonie geleef het. Ons gaan heel eerste saam met hom kyk hoe die ou boere hulle plase gekry het en hoe die plase afgebaken is.
Toe die Voortrekkers die land ingetrek het, was hier nie plase nie. Daar was nêrens ‘n hoekbaken nie.
Die hele land was maar net één groot stuk, toe dit geproklameer is as besit van die Voortrekkers.Elke burger het die reg gekry om twee plase uit te soek, een vir saaigrond en een vir weiveld. Seuns van 16 jaar oud is as burgers erken en kon plase kry. In 1845 toe die verhuising na Origstad plaasgevind het, het die Rustenburgers en Potchefstromers hul plase in Wes- en Suid-Transvaal behou en met hul Oos-Transvaalse plase het elkeen eintlik drie plase gehad.
Elke seun wat 16 jaar oud geword het, het van die veldkornet ‘n dokumentjie gekry as bewys dat hy reg op ‘n plaas het. Hy neem dit dan na die landdros, betaal ‘n halfkroon as registrasiefooi, kry ‘n bewys wat ‘n “Uittreksel” genoem is en gaan soek vir hom ‘n plaas. Kry hy ‘n geskikte plek, dan merk hy dit en noem dit die Ordinance en beskryf op sy uittreksel die plek so goed as wat hy kan. Daarna gee hy kennis aan ‘n kommissie om die grense of lyne van die plaas te gaan afry.
Die kommissie maak ‘n klomp mense wat graag daarby wil wees, bymekaar. Hulle rig dan ‘n kruis op by die plek waar die ordinance aangedui is en dui met die kruis die vier windrigtings aan. Dan mag en moet 60 minute geneem word om in elke rigting af te ry, mits hulle in een minuut 100 tree gery het. Hulle moes dus maar net die perde laat stap. Dit was moeilik om die perde so in toom te hou. Hulle kom op wild af en van die ouer lede van die kommissie sit dit agterna en beveel die jonges om stadig voort te gaan. Vir dié raak die stadige pas té vervelig en dan jaag hulle ‘n paar honderd tree reisies. Gevolglik is die vier lyne van die plaas nooit ewe lank nie. ‘n Naturel op ‘n perd, moet dan met ‘n graaf sooie opstapel of klippe aandra.
Deur al die pret wat met die afbakenry ingemeng het, het die lyne gewoonlik langer geword as 6 000 tree. Die regering het bepaal dat elke plaas 3 750 morg groot moes wees, maar baie was selfs 9 000 morge groot.
Deurdat daar in sommige gesinne meer as een seun was wat plase kon besit sodra hulle sestien geword het, het hierdie gesinne soveel grond gekry dat hulle dit nie alles wou hê nie. Hulle het nie die waarde daarvan besef nie. Die veld was oop, die een buurman het twee uur of meer gery om by die ander buurman te kom. Tussen hulle was die veld vry. Baie van hulle het nooit gaan kyk waar vir hulle ‘n geskikte plek sou wees nie en dan hulle uittreksel gaan verkoop, sodat mense uit die Vrystaat of uit die Kolonie soms ‘n plaas in Transvaal gekry het.
Die uittreksel, wat iemand die reg gegee het om ‘n plaas uit te soek, is soms vir bespotlik lae pryse verkoop, soos vir net een sjieling of vir ‘n karwats. Daar is ‘n plaas waarvan die uittreksel verkoop is vir 12 jaarts bafta en ‘n agterjuk. Bafta was ‘n soort growwe linne wat in stukke van 12 jaarts verkoop is.
Die toegekende plase het soms ‘n paar jaar lank leeg gelê en kon die baas hulle nie weer opspoor nie. Bure het ook soms oor die bakens rusie gemaak en beweer sy bakens staan op die buurman se grond! As die geskil baie ernstig was, het die regering die grond weer behoorlik laat opmeet. Gewoonlik het elkeen van die twee twistendes se plase dan aansienlik gekrimp en kon daar tussen hulle nog ‘n klein regeringsplasie uitgesny word.
So het die uitgee van plase in die ou dae maar op ‘n ongereelde basis geskied. Grond was té maklik om te bekom en grondbesit het nie as rykdom getel nie. Alleen die beeste, skape of perde het ‘n mens arm of ryk laat lyk