Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
As gelowige ervaar ek alles as genade. Dis nie eens asof Christus 'n deur oopgesluit het en ek my hand moet uitsteek en die knop moet draai en ingaan nie. Ek staan alreeds aan die binnekant!
DIE BOERKOMMANDO
ONS BOEREVOLK DESTYDS (SLOT)
Ons het nou by die slothoofstuk gekom van die baie interessante boek oor ons voorvaders se doen en late, deur B Spoelstra, waarin hy vertel hoe hulle hul militêre sake behartig het.
Ons weet dat ons ou Voortrekkers en die eerste geslag na hulle baie oorlog moes voer om die land vir ons bewoonbaar te maak. Hulle het geen staande mag aangehou nie, want dit sou te duur gewees het en hulle het gewoonlik ook nie maande lank tyd gehad om hulle voor te berei nie. Soms moes hulle magte strydvaardig wees in minder as ‘n dag. En dan het dit voorgekom asof die uitstekend georganiseerde magte van Europa nie so gou gereed kon wees as ons ou Boere nie.
As die Boeremag bymekaar moes kom, kry die een of ander man ‘n kommandeerbrief van die veldkornet om die burgers aan te sê om binne ‘n aantal ure met perd, saal en toom, met geweer en skietgoed en kos vir agt dae, op ‘n bepaalde plek hulle verskyning te maak om nader bevele te ontvang.
Dan was die meeste mense gewoonlik voor die tyd klaar. As voorbeeld hoe min tyd ‘n boer nodig gehad het om klaar te maak vir op kommando gaan, weet ons van ‘n ou burger wat besig was om sy ryp koring te sny toe ‘n offisier verbykom. Die offisier hou stil en sê vir die ou boer hy moet saamkom om te gaan veg teen die vyand. Die boer vra of hy nie kan kom as sy koring versorg en sy tabakoes opgehang is nie, want hy is vir sy bestaan vir die hele jaar van hierdie oes afhanklik. Hy wil dit nie graag verloor nie. Die offisier sê toe net: “Ek het nie gedink, ou broer, dat jy my alleen sou laat ry nie,” en die burger is terstond klaar. Hy gooi sy sekel neer, stap huis toe, en laat die bediendes die perd opsaal, vra vir die vrou ‘n halwe boerbrood en klim op, klaar vir kommandodiens. President Kruger het byvoorbeeld met net een vriend van sy huis af weggery en deurgetrek so vinnig as wat die perde kon volhou, maar toe hulle by Krugersdorp aankom, het hulle twee se getal al tot seshonderd burgers aangegroei.Die mooiste was nog dat elkeen vir die verdediging van sy land nie alleen alles laat staan het nie, maar dat selfs die vrouens hulle mans en groot seuns meer aangemoedig as teruggehou het, al moes die boervrou met die afwesigheid van haar man oor alles self toesig hou en baie keer die ruuste werk verrig.
Wanneer die kommandoburgers bymekaar kom, het hulle in groepies om hul offisiere versamel. Elke veldkornet het sy mense bymekaar geroep om verder te trek of om te kan sê waar hulle moet afsaal of om nader bevele af te wag. Die mense het baie van hul veldkornet gedink, want hy was die voorman wat die meeste met hulle in aanraking gekom het en deur hulle self gekies is. Dit was trouens met al die offisiere die geval, want dit was altyd mense waarvoor die burgers die meeste eerbied en respek gehad het. Die burgers het hulle vertrou en gehoorsaam sonder teëpraatjies. Gewoonlik was die offisiere manne wat bekend was vir hulle persoonlike moed, dapperheid, vasberadenheid, goeie oorleg en orde. As die offisier in vredestyd gekies is en dit blyk in ‘n geveg dat hy nie die man was wat die burgers in hom gesien het nie, het die kommando vir hom respek verloor en hy is dan deur hoër offisiere of deur die regering aangewys om slaggoed vir die burgers op te koop, om kos vir die arm gesinne by die huise uit te deel, of om ander werk wat nie gevaarlik was nie, te doen. Dit het dikwels geblyk dat die beste voorman in vredestyd die swakste was in oorlogstyd en omgekeerd.
Die vernaamste offisier in die land, die kommandant-generaal, is deur die burgers van die hele republiek gekies. Op hom het die generaal gevolg, gekies deur die burgers van die distrik. Dan het die kommandant, die veldkornet, ens., gevolg. Die laagste offiere was die korporaals, naamlik die vegkorporaal en die koskorporaal. Die vegkorporaal moes in die gevegte die leier en bevelvoerder oor sy klompie mense wees en was daarom een van die dapperste en flinkste burgers. Die koskorporaal moes sorg dat die kos vir die klompie mense ontvang word, moes die kos uitdeel en soms ook nog laat oppas. Hy moes goed vir sy klompie mense kon pleit vir al die nodige dingetjies, maar het daardeur nie altyd aan die gevegte deelgeneem nie.
Waar die kommando stil gelê het om op die bevele van die hoër offisiere te wag, was alles heel eenvoudig. Vlae en wimpels of vaandels was nie te sien nie. Regeringstente was onbekend. Elkeen moes maar vir homself sorg vir slaapplek, maar as die Boer sy saal kon vat vir ‘n kopkussing en ‘n kombers of ‘n warm jas gehad het om hom mee toe te maak, dan kon hy sonder nog meer kooigoed maklik klaarkom.
Die kos wat die regering aangestuur het, was vleis, in die vorm van osse of slagskape en meel. Vir die slag van die diere moes elke afdeling maar self sorg. Daar was nie spesiale slagters nie. Elke burger was sy eie slagter, maar om die os dood te skiet, was nie vir almal ewe aangenaam nie. Om dit te doen het hulle gewoonlik die beste skut van ‘n afdeling gevra en as betaling vir die doodskiet van die os, het die burger die tong van die os gekry. Die tyd van niksdoen op ‘n laerplek was lekker en plesierig vir die eerste paar dae, maar na die tyd het dit die burgers verveel.
Die boer wou nie van sy huis gaan om ‘n nuttelose lewe in die laer te lei nie. Hy moes iets kry om hom besig te hou. Omdat hulle nie van oorlogsoefeninge of “dril” gehou het nie, moes maar allerhande speletjies uitgedink word.
Hoogspring, verspring, toutrek, gewiggooi, stoktrek, haak-en-skrukke en vingertrek was van die gewildste spele, maar hulle het ook baie grappe gemaak met die nat velle van beeste. As ‘n burger hom ‘n bietjie aanstellerig gehou het, het ‘n klompie burgers hom laat beesvelry. Hulle het hom daarmee op en af in die lug geslinger. Die manne was so bang om op die vel te kom, dat elkeen maar sy hoogmoed en aanstellerigheid ingesluk het.
Dikwels moes ‘n burger ook vir iets wat hy gedoen het, straf kry. Hy moes dan sy saal en kombers, geweer en patrone al om die laerplek dra, tot spot van al die ander. 'n Swaarder straf was kanonry, want dit was nie lekker om op die stel of op die loop te sit of te ry as hy bloedig warm was nie.
So het hulle die tyd omgekry met koffiemaak, slag, kos gaarmaak, gesels en speel, tot die bevel kom om te veg. As dit nie gou kom nie, vra hulle vir die veldkornet verlof om bietjie huis toe te gaan . Hy oordeel dan of dit noodsaaklik is of nie.
As daar vir ‘n geveg gereed gemaak word, word eers ‘n krygsraad belê. Die besluite wat die offisiere daar neem is sommer dadelik bekend, want baie keer staan groepies burgers die verrigtinge en afluister. By die vergadering word nie van boeke, papiere of kaarte gebruik gemaak nie. Elkeen het soveel terreinkennis van die land gehad dat hy presies weet waar die vyand hom bevind.
Na die beraadslagings tussen die leiers, maak elke veldkornet aan sy mense duidelik hoe hulle te werk sal gaan en wat die teken sal wees waaraan hulle sal weet wanneer hulle moet begin skiet. Gewoonlik moes hulle wag tot die veldkornet self losbrand. Vir baie was dit al te swaar om tot dan te wag. Soms raak van die vegters van hul offisier af en moet op eie houtjie voortveg. Dit was dan geleenthede waar die gevegsvernuf van die gewone Boer die beste geblyk het. Die gewone burger se planne was dan net so goed soos die slimste generaal s’n en die los vegters het soms die oorwinning help beklink.
As hulle ‘n geveg gewen het, het die hoogste offisier die burgers bedank vir hulle moed en dapperheid, maar ook nie nagelaat om te herinner aan die hulp wat hulle van die Here ontvang het nie. Hulle moes nooit dink dat hul eie dapperheid ooit die rede van hulle oorwinning kon wees nie.
As daar met’n veldslag een of ander buit gemaak is, is al die goedjies gelykop tussen al die burgers verdeel, maar in die oorloë teen die swartes het die boere wat die swaarste verliese aan beeste, skape of perde gely het, die eerste kans gekry om hul eiendom te identifiseer en uit te vang.
Oorloë teen die swartes was noodsaaklik om hulle vir hulle roof- en plundertogte te straf en om geroofde vee weer terug te neem.
Na die oorlog verby was en die kommando terug by die laerplek was, is ‘n paar toesprake gehou om die burgers te bedank en binne enkele ure is die woelige laerplek eensaam en verlate en die burgers op pad huis toe, waar hulle met verlange afgewag is deur die agtergelate huisgenote.
Na nog ‘n paar dae se rus is die dapper kommandoburger of –offisier weer ons ou koring-, skaap, bees- of tabakboer op sy plaas, waar hy alleen baas is.
( Dit was die laaste aflewering in die reeks Ons volkslewe van Toeka deur B Spoelstra)