Gedagtes vir elke dag
Of lees almal by Gedagtes vir elke dag
Red my van my vyande HERE! By U skuil ek – Ps 143:9
ADINA SE BRIEWE (15)
Dr JP Botha
Lees reeks by Adina se briewe
God met ons
Adina het hierdie keer nog langer as tevore tevergeefs gewag op 'n brief van haar pa. Sy het so daarna uitgesien om te weet wat sy reaksie is op haar hartstogtelike pleitrede oor die Here Jesus. Sy het ook bekommerd geraak dat daar miskien iets ernstig met hom kon gebeur het en hy verhinder is om aan haar te skryf. 'n Karavaandrywer op die roete tussen Alexandrië en Jerusalem, met wie sy by die uitspanning gaan praat het, het haar egter verseker dat hy die rabbi 'n week vantevore gesien het en dat alles met hom wel is. Daarna het sy besluit om weer te skryf:
Aan my swygsame Vader
Ek het so gehoop om 'n brief van u te ontvang, maar ek begryp dat sekere omstandighede u seker verhinder het om hieraan aandag te gee. Intussen het hier twee merkwaardige gebeurtenisse in Jerusalem plaasgevind. Dis só wonderlik dat ek u daarvan móét vertel.
Jesus het in een van sy gesprekke met sy dissipels, kort voordat Hy gekruisig is, vir hulle gesê dat daar in die huis van sy Vader baie woonplek is en dat Hy binnekort na Hom sal gaan om vir hulle almal plek gereed te maak, sodat hulle ook eendag daar by Hom sal wees, wanneer Hy weer terugkom om hulle te kom haal. Hy het belowe om hulle nie soos weeskinders agter te laat so lank as wat Hy weg sal wees nie, maar om vir hulle Iemand te stuur, wat hulle intussen sal rig, vertroos, beskerm en help. Dit sal die Gees van waarheid wees wat by hulle sal bly tot by sy wederkoms.
Nadat Jesus die dissipels wat weer by die Galilese See gaan visvang het, na Jerusalem teruggestuur het, het Hy weer aan ons almal saam verskyn en gevra dat ons saam met Hom na Betanië moes gaan. Ons het almal gewonder wat daar gaan gebeur. Almal wat Hom liefhet en Hom aanbid en die boodskap gekry het, het gegaan. Dit was al die dissipels, nie net die elf nie, en die vroue en oom Simon en tant Hanna en ek en Salóme.
Pappa, daar het ek die dag teen die hang van die Olyfberg by Betanië weer een van die grootste wonders aanskou wat ek seker nooit weer in my lewe beskore sal wees om te beleef nie. Jesus het vir ons gesê dat Hy gereed is om na sy Vader te gaan. Net soos sy Vader Hom na die aarde gestuur het, stuur Hy ons nou almal uit om in sy Naam aan alle mense bekering en vergewing van sondes te gaan verkondig. Maar ons moet eers in Jerusalem wag totdat die Vader die Heilige Gees na ons stuur, want dan sal ons met die nodige krag toegerus word.
Hy het sy hande seënend oor ons uitgestrek en toe het Hy in die lug opgegaan. Ons het almal staan en kyk hoe Hy in die wolke opvaar totdat ons Hom nie meer kon sien nie. Daarna het ons in verwondering, maar met groot blydskap in die hart na die stad teruggekeer.
Ons het gedurende die volgende paar weke hier by oom Simon en tant Hanna 'n groot en vol huisgesin gehad. Al die dissipels en die liewe vroue is hier in die groot huis en die buitegeboue gehuisves. Die dissipels het aanvanklik beswaar gemaak en vir oom Simon gesê dat hulle en die ander persone nie so onbepaald op hulle nek kan lê nie. Maar dan het die goeie oom Simon hulle aan Jesus se opdrag herinner, dat hulle bymekaar moet bly en Jerusalem nie moet verlaat voordat die Heilige Gees na hulle gekom het nie.
Oom Simon het 'n paar keer na sy plaas gery en vragte vrugte en groente en vleis vir die huishouding gebring. Ons vroue was elke dag besig met voedselvoorbereiding, maar af en toe het ek en Salóme geleentheid gevind om te gaan luister na die interessante gesprekke wat die dissipels gevoer het onderwyl hulle onder die bome in die mooi tuin gesit het. Ek wil graag vir Pappa daarvan vertel, sodat u 'n paar van hierdie wonderlike mense wat vir Jesus dag en nag gevolg het, kan leer ken.
Een middag hoor ons Natanael sê vir die ander: "Ek het van die begin af, toe Filippus my na Jesus toe gebring het, geweet dat Hy die Seun van God is." Jakobus van Alfeus vra toe vir hom hoe dit moontlik kan wees dat hy dit toe al geweet het. Natanael - sy ander naam is Bartolomeus - sê Jesus het hom in die oë gekyk en gesê hy is 'n Israeliet waarin daar nie 'n greintjie bedrog skuil nie. Toe Natanael vir Jesus vra hoe dit dan moontlik is dat Hy hom ken, het Jesus gesê dat Hy hom die vorige dag al onder 'n vyeboom gesien het.
Tomas het na Natanael se gesprek gesit en luister. Ek het gesien hy kry 'n weemoedige trek op sy gesig toe hy sê: "Ja Natanael, geseënd is jy omdat jy van die begin af geweet het wie Hy is. Maar wat dink jy van my? Ek het soos 'n onkundige heiden nie eers geglo dat Hy uit die dood opgestaan het nie. Eers toe Hy vir my sê ek moet die wonde aan sy hande en voete en sy sy kom ondersoek, het ek eers geglo dat Hy opgestaan het. Toe het ek ook vir die eerste keer besef dat Hy nie 'n mens is nie, maar dat dit God self is wat hier voor my staan."
Lebbeus, ook genoem Taddeus, en Simon Kananites, die Fanatikus, het altwee erken dat hulle ook na Jesus se opstanding eers besef het dat Jesus die Seun van God is en dat Hy as Messias gekom het om hulle te red.
Matteus het toe begin praat: "Julle weet almal dat ek, voordat Jesus my geroep het, daar in Galilea by die tolhek gesit het. Almal het my gehaat. My naam was eers Levi, maar Jesus het dit verander. Ek het ons volk gruwelik uitgebuit en meer by die tolhek geëis as wat ek aan die Romeine verskuldig was om oor te betaal. Julle almal sê julle het eers na Jesus se opstanding besef dat Hy werklik die Messias van God is. Ek het egter oombliklik geweet toe Hy daar in die tolhek by my kom staan het waar ek besig was om geld te tel, dat dit nie 'n gewone mens is wat my so deurdringend aankyk nie. Sy oë het in my ingebrand toe Hy vir my sê: 'Laat staan hierdie dinge en volg my.' Julle weet self dat ek dit onmiddellik gedoen het en vir Hom en vir julle en vir al my tollenaarvriende 'n groot feesmaal gegee het, waaroor die Fariseërs so kwaad was. Ek dink sterk daaraan om binnekort, nadat die Trooster wat Jesus vir ons belowe het, gekom het, om te gaan sit en alles neer te skryf wat ons van Jesus weet. Ek wil vir hierdie geleerde volksleiers wat Hom so haat en Hom gekruisig het, bewys dat Hy die ware, gestuurde Messias van God is wat ook deur hulle verwag word. Maar hulle is te blind om Hom te herken toe Hy gekom het."
Petrus het rusteloos tussen die bome op en af gestap. Toe hy Matteus se laaste woorde hoor, sê hy: "Ek dink die priester- en familiehoofde en Fariseërs weet baie goed Wie hulle gekruisig het, maar sal dit nooit erken nie. Ek het kort nadat Jesus opgestaan het, gehoor hoe een van die wagte wat Jesus se graf moes oppas, vir 'n soldaat by Antonia vertel wat daar gebeur het. Hy het gesê hulle het hulle lam geskrik vir die donderslag en aardbewing en vir die blinkende gedaante wat die swaar klip wegrol asof dit geen gewig het nie, maar toe die Man wat gekruisig is by die graf uitgestap kom, het hulle gevlug en dit hier in die stad kom rondvertel. Maar nadat die Fariseërs hulle omgekoop het, het hulle die storie versprei dat ons Jesus se liggaam in die nag gaan steel het en Hom op 'n ander plek begrawe het."
Ek en Salóme het 'n entjie van die dissipels af op 'n rusbankie gesit en met verbasing geluister na alles wat hulle oor hulleself en van Jesus vir mekaar sit en vertel. Petrus het 'n rukkie lank ingedagte gesit en mymer en toe voortgegaan:
"Ek weet ek is altyd met alles so voor op die wa en begaan die een na die ander mistrap, maar ek weet Jesus het dit alles vergewe en daarom kan ek aangaan. Dink net wat sou gebeur het as Hy nie daardie aand op die meer, toe Hy op die water geloop het en ek begin sink het, my hand gegryp en my in die skuit gehelp het nie! Julle onthou seker ook van die ander gevalle waar ek so onbedagsaam was, soos toe Jesus ons voete gewas het en ek dit eers geweier het. Toe Jesus op die berg van verheerliking was en Moses en Elia daar by Hom verskyn het, wou ek mos sommer hê dat ons vir elkeen daar 'n hut moes bou! Maar toe ek vir Jesus gesê het dat ek Hom nooit sal verloën nie en dit toe sommer driemaal agtermekaar gedoen het, het dit my groot wroeging besorg en as dit nie was dat Hy my daarvoor volkome vergewe het nie en vir my gesê het dat Hy my nog gaan gebruik om vir Hom voor baie mense te getuig nie, sou ek dalk dieselfde pad as Judas Iskariot geloop het."
Petrus het opgekyk en toe hy vir Johannes uit die huis sien kom, het hy weer voortgegaan: "Johannes, jy was nooit so impulsief en voortvarend soos ek nie. Ek weet Jesus het vir jou en jou broer Jakobus 'die seuns van die donder' genoem, omdat julle altwee so vurig van aard is, nes ek. Maar ek weet dat jy Jesus baie lief het. Ons ander het soms jaloers gevoel om te sien dat Hy jou ook baie lief het. Jy het ook voortdurend probeer om altyd naby Hom te wees. Hy het vir jou, saam met my en Jakobus, altyd gevra om saam met Hom te gaan wanneer ernsige dinge gebeur het, soos toe Hy op die berg verheerlik is en toe Hy in Getsémané gaan bid het."
"Ja Petrus, dit is waar, maar ek het ook maar net soos jy die herinnering aan 'n paar dinge wat liewers nie moes plaasgevind het nie. Ek en Jakobus het vir ons moeder, Salóme, gevra om saam met ons na Jesus te gaan en te vra dat Hy ons twee as sy vernaamste ministers moet aanstel wanneer Hy hier in Jerusalem koning word. Dit wys vir julle hoe min ons toe nog verstaan het wie Jesus werklik is. Ek moet ook voor julle bely dat ek daardie Vrydag toe Hy gekruisig is, bly glo het dat Hy deur 'n wonderwerk Homself sou red en van die kruis sou afkom. Ek het eers besef dat hy gaan sterf toe Hy my nader roep en vra dat ek in sy plek 'n seun vir sy moeder moet wees en haar moet versorg. Ek is so dankbaar dat Hy hierdie verantwoordelikheid op my gelê het. Miskien het Hy dit gedoen omdat ons familie van mekaar is, want my moeder Salóme, en sy moeder Maria, is susters. Matteus het netnou gesê dat hy graag later alles oor Jesus vir die nageslag wil opskryf. Dit is baie goed. Ek self wil dit ook graag doen, want miskien onthou ek van dinge waaraan hy nie dink nie en so kan ons mekaar dan aanvul."
Pappa, so het hulle maar elke dag hier sit en praat. Daar was altyd maar net een onderwerp van bespreking en dit was Jesus. Die dae het vol verwagting verbygegaan, totdat die Pinksterfees aangebreek het. Die strate het gewemel van mense, meestal besoekers wat die fees kom bywoon het. Baie van hulle het van Galilea af gekom, waar Jesus so lank saam met sy dissipels gewerk het. Dié wat in Jesus geglo het, het hier na ons huis gekom en saam met die dissipels in oom Simon se groot tuin bymekaar gekom. Ons vroue het oral in die huis gewerk.
Om 9 uur het ons 'n suising gehoor, soos die geluid van 'n stormwind wat opsteek en al harder word. Ek en Salóme het na buite gehardloop. Wat ons daar in die tuin gesien het, het ons spraakloos van verbasing gelaat. Daar het 'n menigte vlammetjies, wat soos vuurtonge gelyk het, uit die lug op die dissipels en die ander manne afgesak en op elkeen van hulle gaan sit. Die geluid het stadigaan stil geraak en die vlammetjies het ook verdof en naderhand verdwyn.
Pappa, toe het al hierdie manne in die tuin eensklaps verander. Hulle is nie meer dieselfde mense as wat hulle was nie. Hulle het begin praat, maar nie met mekaar nie. Ek en Salóme het gehoor hoe sommige van hulle Aramees, en ander weer Hebreeus en ander Grieks praat, maar ons het ook 'n aantal vreemde tale gehoor wat ons nie verstaan nie. Maar ons kon uitmaak dat elkeen van hulle besig was om God te loof en te prys en te dank vir al die groot dade wat Hy aan ons bewys het.
Toe ek so na hulle staan en luister, het ek besef dat Jesus sy belofte aan die dissipels uitgevoer het. Hy het vir hulle en vir ons 'n ander Trooster gestuur. Dit is die Heilige Gees wat neergedaal het en op elkeen van hulle gekom het. Hulle is nie meer dieselfde mense nie. Alle vrees vir die priesterhoofde en Fariseërs het verdwyn.
Die mense wat die strate volgeloop het, het ook die geluid gehoor en nader gekom toe hulle hoor hoe die manne in 'n aantal bekende tale praat.. Dit het hulle dronkgeslaan, want hulle het geweet die meeste van hulle kom van Galilea af, waar hulle net Aramees ken.
Toe skreeu 'n paar van hulle daar van die straat af: "Ag, los hulle uit! Die hele ou spul is dronk! Kom ons loop!"
Dit was een te veel vir Petrus. Hy was nie meer die bang man wat nie eers voor 'n ou diensmeisietjie wou sê dat hy Jesus geken het nie. Hy het uit die tuin gestap, die straat in en begin praat:
"Luister hier, julle almal! Hierdie mense makeer niks. Niemand lê om 9 uur in die môre al dronk in die strate rond nie. Dit is God wat hier aan die werk is."
Hy het aan die skare wat besig was om aan te groei, verduidelik dat God sy Gees uitgestort het, as gevolg van die werk van Jesus van Nasaret. Hy is deur God na die wêreld gestuur as die Messias. Hy het aan die kruis gesterf, maar is uit die dood opgewek. Daarna het Hy opgevaar en is deur God verhoog om aan sy regterhand te sit en die Heilige Gees wat Hy van God ontvang het, aan al sy gelowiges te skenk. Jesus, wat hulle gekruisig het, is nou Here en Christus. Elke berouvolle sondaar wat in Hom glo, ontvang volkome vergiffenis in sy Naam.
Pappa, u moes dit gesien het. Daar het dié dag oor die 3 000 mense tot bekering gekom! Hulle het die woord van Petrus en die ander apostels aanvaar en is op daardie dag en die volgende dae deur die apostels gedoop in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees. Dit was vir ons wonderlike dae wat gevolg het. Ons almal het sonder enige vrees op die fees tussen die mense rondgegaan en aan hulle die evangelie van ons Here Jesus verkondig. Die getal wat tot geloof in Hom kom, groei nog elke dag aan.
Met hierdie groot gebeurtenis het almal van ons se gelukkige saamwees in die groot huis van oom Simon en tant Hanna ten einde geloop. Die dissipels - ons noem hulle nou apostels - het elkeen sy eie gang begin gaan, nadat hulle besluit het waarheen hulle heel eerste sal gaan om aan die wagtende wêreld die evangelie van redding te gaan verkondig. 'n Paar van hulle is van plan om na die buiteland te gaan, want Jesus het gesê die evangelie moet verkondig word aan alle nasies. Maar Petrus en Johannes sê hulle wil sommer hier in Jerusalem begin en vir ons Joodse volk vertel wat hulle gedoen het toe hulle vir Pilatus geskreeu het dat Jesus gekruisig moes word.
Oom Simon het vir hulle gesê dat sy huis altyd oopstaan vir die gelowiges se byeenkomste. Toe hy dit vir hulle sê, het ek daaraan gedink dat ek reeds meer as drie jaar al hierdie twee liewe mense se gasvryheid geniet. Hulle was vir my in hierdie tyd 'n sorgsame pa en ma. Maar dit het tyd geword dat ek na u moet terugkeer. Jesus het gesê dat ek vir Hom in Alexandrië moet gaan getuig. My hart brand om dit te doen en ek verlang baie na u. Ek hoop om binnekort weer by u terug te wees en vir u alles te kom vertel wat ek nie in my briewe kon inkry nie.
Mag die genade en vrede en liefde van die Here Jesus met u wees tot ek kom!
Van u verlangende dogter Adina.